Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > Suzette Kotzé-Myburgh: Fliekvlooi

Flikker: Skeem trek voordeel uit ons ingewikkelde bevolkingsamestelling


Suzette Kotzé-Myburgh - 2011-11-08

Untitled Document

Skeem
Regisseur: Tim Green
Vervaardiger: Zaheer Goodman-Bhyat
Rolverdeling: Kurt Schoonraad, Wandile Molebatsi, Lilani Prinsen, Rapulana Seiphemo, Kenneth Nkosi, Grant Swanby, Quinita Adams, Terrence Bridgett


 

In ons gekwelde land is dit ten minste ’n ligpunt dat die ingewikkelde bevolkingsamestelling uitstekende stof vir komedie bied. In Skeem word die hele spul bymekaargegooi, met besonder prettige gevolge.

Richie (Kurt Schoonraad) en Vista (Wandile Molebatsi) werk vir dwelmsmokkelaars, en hulle moet R1,2 miljoen van Johannesburg af Kaap toe vervoer. Richie glo aan die onopsigtelike benadering en daarom ry hulle in ’n stokou kar en word die geld sommer in ’n oop kartonboks in die kattebak gelaai. Toe die kar in die Karoo ingee, moet hulle noodgedwonge oorslaap by ’n treurige vakansie-oordjie langs die N1. Die onopsigtelike benadering werk egter nie altyd nie en kort voor lank weet al die vakansiegangers van die boks note. En nou kan almal mos maar doen met ’n miljoen …

Die ge-“skeem” wat volg om daai klomp geld in die hande te kry is iets vreesliks. Dit eskaleer van een klugtige situasie na die volgende: visgereedskap word ingespan, alliansies word gesmee, klere waai, guns word uitgepluk, verraad word gepleeg – dit gaan net te lekker in eg Suid-Afrikaanse styl. Tussendeur vind die eerlike Vista ware liefde by ’n mooi Boeremeisie (staan opsy, Lianie May).

Die akteurs sluit in ou staatmakers soos Rapulana Seiphemo, Kenneth Nkosi, Grant Swanby, Quinita Adams en ’n feitlik onherkenbare Terrence Bridgett. Kurt Schoonraad doen sy naam as puik komediant gestand, en die nuwelinge Wandile Molebatsi en Lilani Prinsen kan ’n mens gerus maar dophou.

Die fliek is ’n bietjie te lank, maar al die draaie en kinkels is so goed gemotiveer dat dit fyn snywerk sou verg. (En almal in die filmspan het hulleself ook heeltemal te veel geniet, vermoed ek.) Bly sit tot heel aan die einde vir ’n laaste filmiese grappie.