Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Contagion: Verrassend interessant en slim geskryf


André Crous - 2011-11-08

Contagion
Regisseur:
Steven Soderbergh
Kamerawerk: Steven Soderbergh 
Rolverdeling: Matt Damon, Laurence Fishburne, Jude Law, Kate Winslet, Marion Cotillard 
Looptyd: 100 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 28 Oktober 2011

 

Daar is al jare lank gerugte dat die farmaseutiese bedryf reeds ’n geneesmiddel teen vigs gevind het, maar vir eers nog ander tydelike medisyne verkoop om al die geld wat op navorsing spandeer is, terug te maak. Hierdie bedryf was alreeds in 2005 ’n teiken vir ’n groot Hollywood-prent, The Constant Gardener, en in Steven Soderbergh se jongste film, Contagion, word die idee ook aangeraak dat die mees effektiewe medisyne soms nie uitgedeel word nie omdat dit negatiewe implikasies vir finansies of vir politiek of om watter ander redes ook al sou hê.

Maar die film gaan oor veel meer as hierdie bedryf en hoewel die film van buite af lyk of dit iets deel met ’n onlangse film soos Blindness, waarin byna almal op aarde (behalwe een persoon) deur ’n wit blindheid geaffekteer word, is die film eintlik baie nader aan die films van Alejandro González Iñárritu (21 Grams, Biutiful), wat wys hoe verbind ons almal aan mekaar is.

Contagion begin op “Dag 2”, wat natuurlik die verwagting skep dat ons op een of ander stadium gaan uitvind hoe alles begin het, en wanneer daardie oomblik uiteindelik aanbreek, pas die stukke by mekaar en is die legkaart volledig, op ’n tafel wat deur die loop van die film aanmekaar getimmer is. Eintlik begin die film al vroeër: die eerste beeld in die film is ’n swart skerm, en ’n hoes op die klankbaan. Hierdie hoes spel duidelik net duisternis en ons sien vinnig watter dodelike uitwerking dit het op diegene wat die anonieme virus opdoen.

Die film is ook vol nabyskote en stadige skote van mense wat aan mekaar raak, of waar een persoon aan ’n voorwerp vat en dan vat ’n ander persoon aan dieselfde voorwerp. Ons kan nie die kieme sien nie, maar Soderbergh maak dit duidelik dat ons bedag moet wees op dinge wat ons nie kan sien nie. Gwyneth Paltrow vertolk die karakter wat eerste hoes en binne tien minute is haar karakter dood. Dit kom as ’n groot skok, maar dan sien ons hoeveel ander bekende gesigte daar in die rolverdeling is: Matt Damon, Laurence Fishburne, Jude Law, Kate Winslet en Marion Cotillard.

Soderbergh se wilde redigering (tonele word soms vreeslik gewelddadig gesny) maak ons ook op ons senuwees, selfs al versnel dit die oordrag van noodsaaklike inligting en die aanbieding van karakters se emosionele gemoedere. Die mense wat siek is, lyk werklik siek, en terwyl ons nie weet of hierdie virus ooit beveg kan word nie, is die situasie baie desperaat. In hierdie rolprente wat lyk of hul stories die einde van die wêreld voorspel, tree mense dikwels op soos diere en hier is dit dieselfde: apteke word beroof, mense plunder mekaar se huise, en sosiale etiket word min of meer verontagsaam.

Die epidemie is op ’n groot skaal en daar word verwag dat byna tien persent van die wêreldbevolking geaffekteer sal word – hoewel die film se beelde ons laat dink dat byna niemand dit kan vermy nie. Stede waarin die film afspeel – Hongkong, Tokio, San Francisco – word telkens op die skerm genoem met die grootte van hul bevolkings: nóg ’n skrikwekkende herinnering hoe naby ons aan ander mense lewe en hoe maklik oordrag van ’n virus kan plaasvind van een persoon na ’n ander.

Die film is baie slim geskryf: dit is ’n draaiboek wat ons laat dink aan soortgelyke situasies (voëlgriep en varkgriep word genoem) en wat duidelik wyer mik as die onmiddellike storie. Karakters van die regering se departement van binnelandse veiligheid tree op om dinge so formeel en so moeilik as moontlik te maak en die film is taamlik direk krities oor die Amerikaanse regering se onvermoë om belangrike rampe spoedig op te los – dink aan Orkaan Katrina.

Jude Law vertolk die rol van ’n joernalis wat moontlik agter die gordyn sien, maar sy karakter is nie vreeslik aangenaam nie en uiteindelik het ek gewonder of die gebreke wat hy noodwendig as volwaardig menslike karakter het, nie meer afbreek as goed doen aan sy plek in die film nie. Matt Damon se karakter, daarenteen, is uitsonderlik goed geskets: as die pa van ’n tienerdogter wat hy ten alle koste teen die paniek en die kieme oral rondom hulle wil beskerm, is hy sterk, maar weet nie altyd wat om te doen of hoe om te reageer nie.

Contagion is verrassend interessant vir ’n film van hierdie genre en eindig met ’n dwarshou wat eers jou hart en dan jou brein gaan tref. En die beste ding van die film is dat kykers sonder twyfel sal begin om hul hande meer dikwels te was.