Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Louis Esterhuizen gesels met Bibi Slippers oor sy Protea-prys vir Wat die water onthou


Bibi Slippers - 2011-11-08

Untitled Document

Dag Louis. Eerstens, baie geluk met die Protea-prys wat jy ontvang het vir Wat die water onthou. Ek sien die boek is terug op Protea se lys topverkopers, so 'n mens kon aflei literêre pryse moedig die verkope van digbundels aan? En is dit 'n goeie ding?

Dankie vir die vriendelike woorde, Bibi. En ja, ek reken tog dat die hernude blootstelling wat op so iets volg, wel nuwe belangstelling wek. Lesers wat ten tye van ’n bundel se verskyning dit dalk gemis het,vir welke rede ook al, mag dan voel om dit wel aan te skaf en te lees. En daarvoor is ’n mens dankbaar.

Terwyl ons nou oor pryse praat: ek dink aan Meryl Streep wat al vir 16 Oscars genomineer is, maar nog net twee keer met die louere weggestap het. (Sy sê ook reguit dis sleg om elke keer te verloor.) Het jy 'n spesmaas gehad dat vanjaar jou jaar is? Of was jy steeds onkant gevang deur die toekenning?

Pryse is op sy beste maar ’n relatiewe ding – des te meer ten opsigte van die digkuns, waar die beoordeling maar meestal subjektief van aard is, omrede die verse van ’n bepaalde digter tot jou “spreek” al dan nie. Daarom was ek inderdaad verras hiermee, veral gesien die aantal uitstaande bundels wat in 2010 verskyn het.

Wat die water onthou kon gerus ook maar 'n prys gewen het vir die beste titel van 2010. Ek weet dat dit ook die naam was van 'n uitstalling van Marlise Joubert (Louis se vrou) se skilderye. Het jy begin by die titel en geweet dis iets wat jy met sukses sou kon ontgin? Of het die titel later gekom?

Nee, die hele bundel het by die titel begin. Marlise het enkele jare gelede waterverf as skildertegniek begin ontgin en ons het vele gesprekke oor dié ongelooflike medium gevoer; telkens ook oor die ooreenkomste tussen die akwarel en digkuns. ’n Mens sou byvoorbeeld met reg kon beweer dat die akwarel teenoor olieverf staan soos die poësie teenoor prosa. Nietemin, tydens een van dié gesprekke het Marlise die opmerking gemaak dat die akwarel die water se geheue is, omdat die water verdamp en sodoende kleur en vorm as “vloeiherinnering” agterlaat. In hierdie opsig is die gedig uiteraard ’n vergelykbare ekwivalent, en skielik was die konsep vir die bundel daar.

Aangesien die gedigte en Marlise se skilderye van daar af in konstante wisselwerking met mekaar ontstaan het, was dit gewoon logies dat sy haar uitstallings (by die Breytenbach-sentrum en die KKNK-fees van 2009) onder dié vaandel ter water sou laat (veral ook omdat bepaalde gedigte saam met skilderye vertoon was).

Jy het by die prysuitdeling vir Marlise bedank, spesifiek vir haar rol as jou eerste leser en dus ook haar invloed op jou skryfwerk deur middel van insig en kritiek. Is dit nie soms ook moeilik om huis en herd met nog 'n digter te deel nie?

Ek durf nie veralgemeen nie, Bibi, maar in ons spesifieke geval beslis níé; veral danksy Marlise se persoonlikheid. Enige persoon wat langer as tien minute in haar geselskap deurbring, sal besef dat sy een van die rustigste en mees empatiese mense is wat jy na alle waarskynlikheid óóit sal ontmoet. Alhoewel ons ironies genoeg totaal verskillende werkswyses en benaderings tot skryfwerk het, het ons nogtans ’n byna identiese manier van kyk na dinge. En natuurlik is ’n digter ten eerste méns met vele belangstellings en passies wat nie noodwendig met die digkuns te make het nie. Soos asemhaal, dis hoe ek my verhouding met Marlise ervaar – my meeloper in al die betekenisse van dié woord.

Behalwe nou Marlise, waarsonder sou jy as skrywer nie kon klaarkom nie?

My musiek. Ek kan gewoon nie funksioneer sonder musiek nie. Die musiek wat ek luister, het dikwels ’n direkte invloed op dit wat ek skryf. Terloops, vir die duur van Wat die water onthou se ontstaan het ek konstant na musiek van die minimaliste geluister ten einde die gevoel van “vloei” in my wakker te hou.

Jy gee geweldige ondersteuning aan jong digters en is baie ruimhartig met jou raad en aanmoediging. Is daar enigiemand wat 'n bepalende rol in jou vorming as digter gespeel het? En wat is die beste raad wat jy ooit ontvang het aangaande jou digkuns?

Dankie vir die sentiment wat jy hier bo verwoord, Bibi. Maar ai, ek voel eintlik meestal skuldig oor ek so mín vermag kry. Seker maar die oudonderwyser en sy gedoentes. Soos hulle sê: jy kan die onderwyser uit die klaskamer haal, maar die klaskamer kry jy nooit uit hom (of haar) nie ... Rolmodelle? Ironies genoeg is dit juis Marlise se bundel Domus (wat in 1973 by Tafelberg verskyn het) wat by die beginpunt van my aspirasies as digter lê, aangesien dit een van die heel eerste bundels was wat ek self aangeskaf het. Die sterk visuele ingesteldheid en sensualiteit van haar gedigte was vir my die aansporing daartoe om sélf te begin gedigte maak en dit het ook vir baie lank as voorbeeld gedien van hoe ek graag sou wóú dig. Meer formele “rolmodelle” was daar helaas nie; ’n mens leer maar langsamerhand deur die proses van knor en kraai. Die beste raad? Miskien eerder ’n begrip wat jy mettertyd as waarheid begin verstaan, en dit is die hele kwessie van “kill your darlings”. Só dikwels is dit daardie woord (of frase of beeld) waarmee jy breëborstevrede is wat die hele gedig beduiwel.

Glip daar nog soms 'n swak gedig uit jou pen, of is jou innerlike sensor altyd op sy pos? Hoe gemaak as dit wel gebeur? Skryf jy maar oor of laat vaar jy dit eerder?

Ek wil nou nie moedswillig wees nie, maar die teenvraag is uiteraard of ek al óóit ’n goeie gedig “geskryf” het? ’n Mens maak immers ’n gedig. Myns insiens is die eerste skryfsels van ’n gedig per definisie ’n “swak” gedig. Weer eens durf ek nie veralgemeen nie, maar in my geval kan ek my nie aan enige gedig herinner wat as “goeie gedig” begin het nie. Ek werk obsessioneel aan my verse, want ek geniet die proses van gedigmáák gewoon te veel. Met woorde en beelde skep jy immers ’n woordwêreld wat nie onverwant is aan posisies op ’n skaakbord nie; trouens, gedigmaak is soos skaak op steroïede. Pure lekkerte. Derhalwe glo ek ook nie dat dit moontlik is om ’n “perfekte” vers te maak nie. Dit is juis daardie gevoel van “onklaarheid” wat ons na ’n volgende poging toe dryf. Die onvolmaaktheid ten spyt.

Tydens jou toespraak by die Versindaba het jy 'n pleidooi gelewer vir die digkuns. Watter dinge kan die man op straat doen om die digkuns in Suid-Afrika te ondersteun en te help ontwikkel?

Deur digbundels te koop. Daar is letterlik duisende aspirantdigters wat met groot toewyding daagliks verse pleeg, maar nooit ooit ’n digbundel koop nie; trouens, in die meeste van hierdie gevalle was die laaste formele kontak met die digkuns waarskynlik die gedigte wat op skool behandel was. Hoe kan jy jou as ambagsman (of -vrou) bekwaam indien jy nie eens op hoogte is met wat tans in jou ambagsveld geproduseer word nie?! Sug. Die feit is dat beter verkope bykans ál die probleme wat so dikwels met die poësie geassosieer word, uit die weg sou ruim. Nog ’n punt: ’n mens koop nie net die bundels waarvan jy hóú nie; jy koop bundels om van te léér ook. Nie net ten opsigte van verstegniek nie, maar ook ten opsigte van jou eie menswees. Dit is immers waaroor dit gaan in die digkuns, is dit nie?

Buiten digter is jy ook passievolle boekverkoper. Wat lees jy tans, en is daar enige boeke wat jy vir ons lesers kan aanbeveel as 2011 se moet-lees-boeke? Het jy 'n absolute gunstelingboek van alle tyd?

Sjoe. Watter genre? Normaalweg lees ek tegelykertyd aan drie boeke: fiksie, poësie en niefiksie. Op die oomblik lees ek byvoorbeeld Tessa McWatt se komende roman (Vital Signs), ’n keur uit Mahmoud Darwish se gedigte (If I were another) en Real sofistikashun, Tony Hoagland se skitterende essays oor die digkuns as ambag.

Jou verdere vrae hier bo is helaas nie so maklik om te beantwoord nie, maar twee boeke wat ek elke jaar herlees en daarom sekerlik as my “gunstelingboek(e) van alle tye” gereken kan word, is Anne Michaels se Fugitive Pieces en Milan Kundera se The Unbearable Lightness of Being.

Waaraan werk jy tans?

Daar is ’n volgende bundel by my uitgewer wat geskeduleer is om laat volgende jaar te verskyn. Aangesien ek en my redakteur, Martjie Bosman, mettertyd sal begin met die finale skaafwerk hieraan, werk ek intussen maar aan verse wat uitsluitlik vir my eerste leser se oë bedoel is.