Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Artikels | Features

Boekbedonnerd Dagboek: 29 Oktober 2011


Bibi Slippers - 2011-11-04

Liewe Dagboek

Gister was Pep se verjaarsdag, vandag verjaar my ma. Ek moet onthou om haar te sms, maar nie nou nie – amper laat vir die eerste sessie en ek weet daar gaan min sitplek wees: dis nie aldag dat Antjie Krog in Richmond uitslaan nie.


Ek is reg ... baaaaaaaaie mense. Antjie het reeds ’n hoop boeke op die vloer neergesit en begin hulle deurwerk, Engelses eerste. Sy lees uit Begging to be Black en eindig met iets waarmee ek identifiseer: "Once again poetry has taught me how to live a lived life."

Is dit die tema vir die dag?

Sy lees ook Engelse vertalings van haar gedigte. Een, uit Lady Anne, bevat die mooiste reël: "The written word the only harbour of the travelling heart."

Louise Viljoen gesels met Antjie oor haar werk, pols haar oor die titel van Begging to be Black (wat mos nogal omstrede was), die verandering van styl in haar latere werk. Antjie sê sy’s moeg vir haar eie stem, sy wil ’n manier vind om haar stem op te fok, om haar menospausal messiness te verwoord. "I hope that when I’m 70 I’ll sound like Van Wyk Louw," sê sy. En ek wil op 70 soos sy klink. En lyk. Nog steeds met Albie Sachs se integriteit ... "We should moedig translation aan," sê sy. En ek wil alles doen wat sy sê. So translate, mense. Vertaal!

En dan lees sy in Afrikaans en ek huil hierdie R3-dagboek sopnat. Dis daai gedig oor ’n ander lewe wat dit afskop, maar ek kan nie ophou nie. Ek huil sommer regdeur die kinderverse uit Mankepank en die skreeusnaakse Oupa en Ouma-gedig. (Nageslagte: ek het vir julle die buitelyne van die natkolle nageteken, nou het julle ook iets van julle eie ouma, buiten nou die gemmerbierresep. Gaan lees sommer nou dadelik daai Antjie-gedig oor Oupa en Ouma in Verweerskrif.)

Antjie Krog


Ná Antjie praat Louise Viljoen oor haar boek Ons ongehoorde soort , ’n versameling essays en artikels oor Antjie se werk. Sy bespreek ’n klomp gedigte uit Kleur kom nooit alleen nie en praat oor die rivier-metafoor, verwonding, en Antjie se bereidwilligheid om "ongemakke" te konfronteer. Ons is terug by gister se tema ... Ek teken Louise se voëltjie-oorbel.

Volgende is Willemien Brümmer, wat met Darryl David gesels oor haar boek Die dag toe ek my hare losgemaak het. Hulle fokus op die verhouding tussen feit en fiksie in haar werk, die spanning tussen joernalistiek en stories spin. Waar Antjie al gatvol is vir haar eie stem, is Willemien nog steeds besig om haar eie stem te soek. Sy vertel oor die aha-oomblik wat sy beleef het by die lees van Country of my skull, toe sy besef het dat daar sinvolle maniere is om feit en fiksie te vermeng. Hulle draai by haar oupagrootjie, CJ Langenhoven, haar problematiese omgang met die voorvaders, en hoe haar boek ’n manier van terugskryf is.


(Nasate: by die gemmerbierresep is ook die stamboom wat julle oom Langjan Langenhoven opgestel het. Julle sal sien dat julle ook verlangs familie is van Langenhoven ... So Die dag toe ek my hare losgemaak het is ’n familieboek. Dis belangrik om ons eksemplaar te bewaar. Ek kom spook vir julle as julle nie my boeke oppas nie.)


Na Willemien is dit Ivan Vladislavic, wat gesels oor sy boek The Loss Library. Sy praatjie draai rondom die lewe en werk van sy twee gunsteling-skrywers, Jorge Luis Borges en Bruno Schulz. Hy vra basies: "What if?" Wat as Borges vroeg dood is en nie aanhou skryf het nie (daar was immer ’n paar near misses vir hom)? En wat as Bruno Schulz aanhou leef het, en nie vroeg in sy lewe vermoor is nie? Hierdie is ook die temas wat in The Loss Library ontgin word, maar in die boek gaan dit om "what ifs" in terme van sy eie skryfwerk – stories wat verlore geraak het of om een of ander rede nooit geskryf of gepubliseer is nie. Dis fassinerende gedagtes en ’n prikkelende praatjie. Hy verwys na die "gloomily productive thoughts" wat na die skryf van die boek gelei het, en noem die verhale en essays in The Loss Library "case studies in failure". Vladislavic se brein is die sexyste ding by die fees. Ek is bly om te sien dat Geliefde die boek koop. Nog een vir die nageslagte.


Voor die etensuur gesels Harrie Siertsema oor Roger Ballen se uitstalling in die MAP-galery. Ek het die uitstalling vroeër vanjaar by die Iziko in Kaapstad gesien, so ek skip die walkabout. Ek begin al effe boekversadig raak en sit ook uit op die volgende twee praatjies.


Vroegmiddag keer ek terug na die biblioteek vir Gordon Froud se praatjie oor Altered Pieces, ’n uitstalling kunswerke waarvan hy die kurator was. Froud het aan 52 kunstenaars elk ’n altaarstuk gegee wat hulle in ’n kunswerk kon omskep, geïnspireer deur Leonard Cohen se lirieke. Ek hou van Gordon Froud, en na hierdie praatjie hou ek nog meer van hom. Hy het met baie intelligensie en insig oor Cohen gepraat, en ek vind aanklank by die manier waarop hy sy passie in kreatiewe energie omsit, en ook ander kunstenaars se kreatiwiteit kanaliseer. Ek’s opgewonde om te hoor daar kom nog twee sulke uitstallings: Bob Dylan en Tom Waits is volgende.


Voor die heel laaste item op die program druk Darryl gou vir David Robbins in. Hy het sy beurt op die Donderdag misgeloop – hy het gedink hy is Vrydag op die program. Toe maak hulle plek – Saterdag. Lank lewe die buigbaarheid van klein feeste. Robbins praat oor die kunstenaar Keith Alexander. Robbins se vrou lees voor uit sy kortverhale waarin Keith as karakter voorkom of waarin sy werk bespreek word. (Blykbaar het Obie Oberholzer en sy vrou ook so ’n double act gedoen die Donderdag voor ek by die fees opgedaag het – spyt ek het dit misgeloop ...)

Darryl David en Peter Baker, feesorganiseerders

Mense stroom aanhoudend by die deur in voor Dana Snyman se praatjie. Almal lees sy stories, nou kom luister hulle hoe dit klink uit die perd se bek. Dana begin: "Soos ’n goeie Afrikaner wil ek begin deur te apologise." Blykbaar nie regtig voorberei nie. Gmmf! As ek die dag so ‘n goeie performance kan opsit sonder om voor te berei, sal ek my hoed opeet. (Of nog ’n stuk Richmond-quiche – proe ongeveer dieselfde.)


Ieder geval. Dana vertel oor sy nuwe boek, Hiervandaan. Of nee, eintlik vertel hy net stories. Heerlike lang stories wat mens lekker lus maak om sy boek te koop. Sy stories draai van die Vatikaanstad tot by Pretoria, ’n bankroof op Pofadder, die fudge-induced gal-aanvalle van kinderhuiskinders en sy oupa se bankboekie in sy hempsak. Daar is ook verskeie interludes van Anneli van Rooyen se "Neem my op vlerke". Hy sing nie, hy sê net. Dis skreeusnaaks. En effe hartseer? En hy som die hele ding so mooi op – die rede hoekom mense boeke koop en 700 kilometer ry na die middel van nêrens, en nie seker is hoekom nie. "Ek is ’n heluit gewone ou, maar ek glo in stories soos ek in die Here glo. Eintlik is julle hier vir die stories, want stories is groter as mense. Ons almal op aarde is deel van ’n groter storie wat vertel word." Amen, broer.


(Nasate, hoor julle? Julle moet so lewe dat dit vir julle lekker is om julle storie te beleef. En dat dit later vir ander interessant sal wees om oor te vertel. So interessant dat iemand dalk die moeite sal doen om dit neer te skryf in ’n dagboek of ’n hardeband of ’n R3 Pep notebook. En as dit juicy genoeg is, sal mense dalk aanhou om ver te ry om julle stories te hoor. Laaste brokkie raad: moenie julle ma’s sms as hulle verjaar en julle is ver nie. Bel! Bel en vertel ’n storie, al is dit ’n korte. Julle kan maar sê ek het so gesê.)


Return to the Boekbedonnerd Bookshelf | Keer terug na die Boekbedonnerd-boekrak.