Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Artikels | Features

Boekbedonnerd 2011: Dagboek – 28 Oktober


Bibi Slippers - 2011-11-04

Liewe Dagboek

Dis die eerste dag van Boekbedonnerd IV en ek is effe bedonnerd want ek het jou by die huis vergeet. Nou skryf ek in hierdie R3-notaboek wat ek eerste-ding vanoggend by Pep gekoop het. (Dis Richmond Pep se verjaarsdag en op die vloer by die ingang is ’n klein tradisionele fees uitgelê. Daar is ook ’n sangoma wat besig is om die winkel te bless. En baie blou en geel balonne. O wye en vreemde, vreemde land.) Dis 9-uur (presies op tyd) en die eerste spreker is Mongane Wally Serote. Sy eerste woorde, voor hy nog met sy propperse spietsj begin, kondig hulself aan as my tema vir die dag: "It is important to nurture a consciousness that our country is a very complex space."



In Suid-Afrika is niks eenvoudig nie. Nie eers ’n besoek aan die local Pep nie. En veral nie enigiets wat met ons geskiedenisse te make het nie. Serote praat oor die uitdagings wat hy en sy span ervaar het tydens sy tyd as uitvoerende hoof by Vryheidspark in Pretoria. (Vryheidspark is die monument wat Suid-Afrikaanse vryheidsvegters vereer. Dit sit op ’n hoogte oorkant die Voortrekkermonument. Daar is diegene wat meen dat poësie gebore word uit spanning, uit kragte en impulse wat in verskillende rigtings beur. In daardie geval is die hele Pretoria ’n gedig.)


Serote praat oor sy skrywerskap, sy agtergrond, sy politieke ontwaking en sy ouma, en verweef sy eie storie met dié van Vryheidspark en die groot debat rondom die insluiting van Suid-Afrikaanse Weermag-soldate se name. Volgens Serote is dit ’n saak wat nog vir ’n lang tyd by ons gaan spook. Maar hy voel positief oor Suid-Afrika, en kyk na die mylpale wat ons reeds bereik het vir hoop en inspirasie. "These milestones indicate the calibre of our people."


Die tweede spreker is Petrovna Metelerkamp, skrywer van onder andere Ingrid Jonker: Beeld van ’n digterslewe en Gesprekke oor Ingrid Jonker. Haar onderwerp was voorspelbaar genoeg: Ingrid Jonker. (Maar flippen interessant!) Sy het gefokus op die sensasie wat gemaak word van Jonker se lewe, en ’n hele paar mites debunk. Ook heelwat te sê gehad oor die nuwe film oor Jonker se lewe, Black Butterflies. En die feit dat Ingrid se nalatenskap (al haar persoonlike dokumente, briewe, dagboeke en foto's) in Portugal is, en nie eerder in Suid-Afrika bewaar word nie.
 
Die praatjies oor Wagner en Hitler en bonsai is gekanselleer, en ek skip die een oor pyporrels want ek is honger, maar is later spyt, want my quiche (die enigste vegetariese dis op Richmond) was niks lekker nie en Geliefde sê die pyporrel-praatjie was cool.


Heelwat mense het vir Lina Spies kom luister. Sy praat oor haar vertaling van Anne Frank se dagboek. Sy het duidelik al baie hard oor Anne gedink en praat met baie deernis oor haar, problematiseer die kwessies van Anne se identiteit en skrywerskap. Moet onthou om weer die boek te lees ...


Marie Heese se beurt. Sy praat oor haar roman The Double Crown. Die boek handel oor die Egiptiese farao Hatsjepsoet, ’n vroulike heerser wat deur baie Egiptoloë as een van die mees suksesvolle farao’s gesien word. Sy vertel hoe sy die verhaal nagevors het en noodwendig moes fiksionaliseer, en hoe sy die verhaal gebou het rondom die verhouding tussen Hatsjepsoet en Senemoet, en die sentrale vraag: “Did she love him?” Dit voel of ek weer op hoërskool is, in die kunsgeskiedenisklas: antieke Egipte en ware liefdesdrama. Enigste verskil is dat Marie se uiteindelike kunswerk beter klink as enigiets wat ooit uit ons kunsklas gekom het. Die trip down memory lane het my uitgeput, so ek skip die praatjie oor "The Karretjie people" en drink gemmerbier by die Vetmuis. (Nageslagte, as julle ooit my dagboek lees: daar is niks so lekker soos tuisgemaakte plattelandse gemmerbier nie. Daar is ’n familieresep weggesteek in ’n koekblik onder die wasbak.)

Ek moet myself in ’n klein gaatjie inwurm vir die laaste spreker van die dag. Almal het opgedaag om vir Albie Sachs te kom luister. Die Richmond-biblioteek is stampvol, daar is skaars plek vir ’n muis, en vir ’n meisie vol Vetmuis-gemmerbier gaan dit maar moeilik. Maar ek kry my sit en my luister.


Albie begin met ’n grappie. Nadat Darryl hom aan die gehoor voorsgetel het (“twice winner of the Alan Paton Award, former judge of the constitutional court, let's give Albie a hand”) seg Albie: "I can do with a hand" en wikkel sy stomp arm komieklik. En almal lag, maar dit raak gou weer ernstig, want Albie verwissel vinnig van rat en begin sy storie vertel, ’n ernstige storie vol bloed en binnegoed, en lig en liefde.


Vir ’n uur is Albie die middelpunt van almal se aandag. Sy storie loop uit Suid-Afrika na Mosambiek, van Mosambiek na Engeland, van Engeland terug na Suid-Afrika, op teen Tafelberg, strandlangs Kampsbaai toe. Hy praat oor idealisme en die toekoms, die Grondwet en die geskiedenis. Oor bomme en fynbos en hoe warm water jou maermerries brand as jy in die veld gestap het. Oor Suid-Afrikaners sê hy: "We're fantastic at miracles. We're not so good at the ordinary. But we're getting better."


As ek eendag groot is, wil ek soveel integriteit hê soos Albie Sachs. Dis al. Omdat ek nog bedonnerd voel dat ek die pyporrel-praatjie gemis het (en dit vir ’n slegte stuk souttert), gaan luister ek na die orrel-uitvoering in die NG Kerk. Ek het al vergeet hoe ongemaklik sulke kerkbanke kan wees. En hoe vals orrels klink selfs as hulle op die noot is.


Kerke is ideale plekke om uit te space en indrukke en gedagtes te herleef en (effe) te orden. So op die maat van orrelmusiek, my laaste gedagte vir die dag: dis ’n verskriklike deurmekaar en vreemde en moeilike land. Maar hel, ons stories is moerse interessant!



Return to the Boekbedonnerd Bookshelf | Keer terug na die Boekbedonnerd-boekrak.