Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: Gender, ras en klas in fiksionele tekste – ’n kritiese bespreking met spesifieke verwysing na vroue. Amanda Gouws lewer kommentaar


Amanda Gouws - 2011-11-03

Amanda Gouws reageer op die artikel “‘Binne ’n halfuur het ek wit geword’: Snypunte van gender, ras en klas in Suid-Afrikaanse fiksionele uitbeeldings van voorkoms” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Jessica Murray.

Die artikel van Jessica Murray “Binne ’n halfuur het ek wit geword: Snypunte van gender, ras en klas in Suid-Afrikaanse fiksionele uitbeelding van voorkoms” is ’n belangrike bydrae ten opsigte van ons begrip van die interseksionaliteite van ras, geslag en klas in Suid-Afrika. Fiksie het soms die vermoë om hierdie snypunte baie beter aan die kaak te stel as geskiedkundige weergawes of navorsing. Die keuse van die verhale wat in Murray se artikel aan bod kom, is by uitstek in staat om hierdie snypunte te ondersoek.

Apartheid was ’n stelsel wat by uitnemendheid daarop gemik was om mense op grond van voorkoms te klassifiseer. Alhoewel apartheid/segregasie gemotiveer is as die skeiding van mense op grond van ’n afsonderlike geskiedenis, oorsprong en taal, was die belangrikste meganisme een van skeiding op grond van voorkoms. En hare het hier ’n belangrike rol gespeel, soos wat die “potloodtoets” gewys het. Regeringsamptenare wat die reëls van segregasie moes afdwing, het dikwels die berugte “potloodtoets” gedoen. ’n
Potlood is in die hare van iemand gesteek wat byvoorbeeld aansoek gedoen het om geherklassifiseer te word. As die potlood uitgeval het, was die persoon wit; as dit bly sit het in die hare, was die persoon nie wit nie. (Ek het al dikwels gewonder wat die uitkoms van ’n potloodtoets in my krullerige hare sou wees.)

Met die rashiërargie wat as gevolg van apartheid tot stand gekom het met wit mense bo aan die hiërargie het dit ook beteken dat die maatstawwe van “wit skoonheid” nagestreef moes word. Dit het bygedra tot die persepsie dat reguit hare een van die vernaamste aspekte van skoonheid was. Zimitri Erasmus (1997: 16) skryf in ’n artikel oor praktyke wat swart vroue gebruik het om hare minder krullerig te maak:

There is no such thing as innocent, pure, natural black hair. These practices invest hair, biologically dead, with social meaning and value. Hair is gendered, racialised and sexualised. This makes it politicised. Hair is socially constructed, imbued with meaning, and with multiple identities.

Erasmus se artikel ontleed die eindelose stryd wat swart/bruin vroue met hul hare gehad het, maar dit was nie net swart vroue wat deur hierdie proses moes gaan nie. Wit vroue met baie krullerige hare was weer aan die ontvangkant van pogings om hul hare reguit te maak, sodat hulle aan die norm van wit skoonheid kon voldoen. Die politieke subteks was om te verhoed dat hulle moontlik as swart aangesien kon word! Toe ek ’n kind was, het ek baie nagte met sykouse in my hare, om my krulle glad te maak, gaan slaap. Dit was my ma se oplossing vir die genadelose tergery oor my hare by die skool.

Maar vir swart vroue was daar ook die koloniale konstruksies van hul seksualiteit wat gekoppel is aan voorkoms. Hul seksualiteit is gekontrasteer met die seksualiteit van die koloniste – dit was die teenoorgestelde van beskaafd, gesien as primitief, onbeheerst en oordadig. Dit het ’n motivering vir die “beskawingsmissie” van die koloniste gegee –oordadige Afrika seksualiteit moes onder beheer gebring word (Arnfred, 2004: 37). Die koloniale moondhede se beheer oor manlike en vroulike seksualiteit was egter nie dieselfde nie. Vroulike seksualiteit is gesien as ’n gevaar vir die seksuele en reproduktiewe gesondheid van die koloniste (ongeag die feit dat baie koloniste seksuele verhoudings met die inheemse vroue gehad het en/of hulle verkrag het).

Daar kan verwys word na die “dark continent discourse”, wat Thabo Mbeki as volg uitgedruk het in sy teenkanting teen antiretrovirale middels as behandeling vir Vigs:

[To] demand that because we [blacks] are germ carriers, and human beings of a lower order that cannot subject its passions to reason, we must perforce adopt strange opinions, to save a depraved and diseased people from perishing from self-inflicted disease … Convinced that we are but natural born, promiscuous carriers of germs, unique in the world, they proclaim that our continent is doomed to an inevitable mortal end because of our unconquerable devotion to sin and lust (Mbeki in Arnfred 2004:10).

Die behandeling wat Saartjie Baartman, ’n Khoikhoi-vrou, ontvang het, is ’n goeie voorbeeld van die hantering van die seksualiteit van die inheemse bevolking. Sy is in Europa ten toon gestel as die “Hottentot Venus” sodat wit mense na haar geslagsdele kon kyk. Oor haar behandeling het Mbeki gesê: “This young woman was treated as if she was something monstrous. But where in this affair is the monstrosity? ... those who treated her with barbaric brutality” (Mbeki in Arnfred 2004:10).

Daar is dus ’n baie nou verbintenis tussen voorkoms en verpolitiseerde seksualiteit, maar dit is nie dieselfde vir mans en vroue nie. Dit is vroue se voorkoms wat onder die loep kom, in hul eie en ander rasgroepe – meer dikwels as dié van mans. Mans vel dikwels die oordeel oor hare en velkleur soos in Wicomb se “When the train comes”, wat in Murray se artikel bespreek word. In ’n patriargale stelsel word vroue geëvalueer op grond van voorkoms en nie aan die intrinsieke waarde van hul menswees nie. Die baie hoë voorkoms van dieetsiektes onder jong tienermeisies behoort ’n aanduiding te wees van hoe groot die impak van voorkoms op jong meisies se ontwikkeling is. In die VSA en Kanada is dit algemeen dat meisies reeds as tieners borsrekonstruksies kry! En haar- en dieetprodukte is ’n multimiljard-dollar-industrie.

Niemand kan ontken dat die liggaam sentraal staan in vroue se oordeel van hulself nie. Die klem op die liggaam is wat radikale feminisme sy krag gee. Radikale feministe argumenteer dat geslagsgelykheid net teweeg gebring kan word as die liggaamlike verreken word, iets wat moeilik versoenbaar is met liberalisme, waarvan een van die belangrikste beginsels van gelykheid die rede en nie die liggaam is nie: ons is almal gelyk omdat ons rede het. Maar liggame bepaal in ’n groot mate hoe mense behandel word – baie liggame dra nog steeds apartheidstigmas. Die ontkenning van die belang van die liggaam in liberalisme word somatofobie genoem (sien Jagger 1983:186-90).

Op ’n sielkundige vlak is somatofobie vir baie ’n haat vir die liggaam omdat dit nie voldoen aan die vereistes van skoonheid (lees die wit norm van skoonheid) nie. Die liggaam word gesien as verfoeilik, ’n bron van skaamte en verwerping. Hierdie askriptiewe aspekte van die liggaam – die feit dat ons nie die kleur of gelaatstrekke van ons liggaam kan verander nie – kan net te bowe gekom word deur die onhaalbare voorgestelde ideaal van skoonheid te verander. Dit sal bydra tot die idee daarvan om gemaklik in jou eie vel te voel. Baie vroue bou nooit die positiewe selfbeeld op wat nodig is om hul liggame te aanvaar nie, omdat hulle gedurig deur hul mans, portuurgroep of die advertensiewese daaraan herinner word dat hulle tekort skiet.

Die oplossing van radikale feministe was die kweek van bewussyn met vroue oor die destruktiewe aspekte van ’n diskoers rondom skoonheid. Waar mans in die verlede die effek van hierdie diskoers vrygespring het, word daar nou ook skoonheidsprodukte vir mans geskep – vir die “metrosexy” voorkoms. Wat die advertensiewese uiteindelik verkoop, is nie ’n spesifieke produk nie, maar seks. Vandaar dan ook die groot probleem met ’n milieu wat versadig is met seks, en waarvan die een gevolg is dat mans dink dat vroue te alle tye beskikbaar moet wees vir seks, veral as hulle aan die norm van skoonheid voldoen.

Murray se ontleding van fiksie-tekste is uiteindelik ’n herinnering daaraan dat die erflating van apartheid, waar om wit te wees by uitstek die norm was om na streef, verreikende sielkundige skade berokken het aan almal wat nie wit was nie, maar selfs ook wit mense wat nie aan die norm wat wit skoonheid voldoen het nie. Ons behoort baie meer hieroor te praat.

Bronne

Arnfred, S (red). 2004. Rethinking Sexualities in Africa. Swede: Almqvist and Wiksell.

Erasmus, Z. 1997. “Oe my hare gaan huistoe”: hairstyling as black cultural practice. Agenda, 32.

Jagger, A. 1983. Feminist Politics and Human Nature. New Jersey: Rowman and Littlefield.