Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > Suzette Kotzé-Myburgh: Fliekvlooi

Crazy, stupid, love: ’n Puik romantiese komedie


Suzette Kotzé-Myburgh - 2011-11-02

Untitled Document

Crazy, stupid, love
Regisseur: Glenn Ficarra en John Requa
Kamerawerk: Andrew Dunn
Rolverdeling: Steve Carell, Ryan Gosling, Julianne Moore, Kevin Bacon, Marisa Tomei, Jonah Bobo, Emma Stone, Analeigh Tipton 
Looptyd: 118 minute


 

Om een of ander rede het ek hierdie fliek die afgelope tyd misgekyk op ons kringloop (moontlik die simpel plakkaat). As ek vroeër besef het Ryan Gosling speel daarin, sou ek lankal gaan kyk het. Ter verdere aanbeveling is daar Julianne Moore, Kevin Bacon en Marisa Tomei, almal puik akteurs. Steve Carell is nie ’n groot gunsteling nie, maar hy is eenvoudig perfek in die hoofrol (hy was ook medevervaardiger van die film). En dan is daar Jonah Bobo – ’n jong akteur om dop te hou.

Op ’n gewone uiteet-aand sê Cal Weaver (Steve Carell) se vrou (Julianne Moore) sy wil skei – “I slept with David Lindhagen” (haar kollega, gespeel deur Kevin Bacon). Sonder ’n skouspelagtige ontploffing pak Cal sy goedjies daardie aand nog en trek uit. Sy volgende twee aande is tragiese tonele in ’n kroeg: soos hy meer drink, vertel hy al harder vir niemand wat wil luister nie dat sy vrou hom gelos het. Jacob Palmer (Ryan Gosling) is ’n sexy metroman wat met reëlmaat in die symste kroeg vrouens opchat en in die bed kry – dit vat hom gemiddeld so ’n halfuur. Hy bied aan om Cal so ’n bietjie touwys te maak, met die belofte dat sy vrou dit binnekort sal berou dat sy hom ooit verneuk het. Wat volg is ’n kraaines van storielyne en vriendskaps- en familiebande wat ten slotte netjies – en baie snaaks – bymekaargetrek word.

Hierdie is ’n puik romantiese komedie met ’n goeie kwota dieper oomblikke. En sonder irriterende Amerikaanse sentimentaliteit (hoewel steeds met die “openbare verklaring”-slottoneel).