Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Fakkel-sangbundel: Danie Brink vertel van die FAK se vlagskip


Naomi Meyer - 2011-11-02

Baie dankie vir die geleentheid tot gesprek. Vertel asseblief vir ons van die “nuwe” FAK Sangbundel.

Die vorige FAK Sangbundel is in 1979 gedruk, die eerste een in 1937, dus is 2012 die 75-jarige viering van die bundel. Die 2012-bundel sal dus ’n poging wees om ’n groot gedeelte van Afrikaanse musiek sedert 1979 op te neem. Let wel, ons probeer om geen duplisering tussen die liedjies van die 1979- en 2012-bundels te doen nie. Die bundel het tien genres/rubrieke: kuns-, populêre, luister-, geestelike, kinder-, volks-, koor-, tradisionele en alternatiewe liedjies plus ’n afdeling met een lied vir elke ander Suid-Afrikaanse taal.

Ons hoop dat alle Suid-Afrikaanse sangers van Afrikaanse musiek wie se musiek in die bundel opgeneem gaan word, by die grootsheid van die projek sal inkoop en hulle musiek vir ons beskikbaar sal stel. Ons het ’n beperkte begroting, en musici wat duur gaan vra om hulle musiek te gebruik, sal ongelukkig noodgedwonge uitgelaat moet word. Dit sal jammer wees, aangesien ons graag die bundel wil sien as die bundel wat ál die beste Afrikaanse musiek sal bevat. Dus moet dit beslis vir kunstenaars ’n eer wees om opgeneem te word, eerder as ’n geldmaak-storie.

En vertel asseblief ook vir ons lesers wie jy is – en wat tot jou gespreek het om betrokke te wees by hierdie nuwe bundel.

Ek is die hoof uitvoerende beampte van die FAK. Die projek is ’n geleentheid vir die FAK om die energie wat teenwoordig is as gevolg van die 75-jarige viering te gebruik en aan te wend om die nuwe bundel vry te stel.

Ek lees in die koerant julle sien die nuwe FAK Sangbundel as julle vlagskip. Vertel ons asseblief meer hiervan: Wanneer presies verskyn dit en hoekom is dit vir julle so belangrik?

Die FAK Sangbundel (al die uitgawes) is die FAK se vlagskip-projek. Heelwat mense ken die organisasie se doen en late slegs as die publisering van die bundel, en baie mense verwys na die sangbundel as hulle byvoorbeeld vra waar hulle “die FAK” kan koop. Ons beplan om die nuwe bundel op 16 November 2012 by die jaarlikse Pretoria Musiekfees vry te stel, moontlik met ’n groot gala-aand die aand voor die tyd.

Watse bekende liedjies kom in die sangbundel voor? En watter nuwe liedjies maak julle opgewonde?

Die meeste hedendaagse gewilde sangers het elk een of meer liedere in die bundel – spesifiek in die populêre genre. Kurt Darren, Steven Hofmeyr, Jak de Priester, Koos Kombuis, Laurika Rauch, en ander. Dus neem ons nie splinternuwe liedjies in die bundel op nie, maar liedjies wat die toets van die tyd deurstaan het.

Dit klink my julle praat daarvan om ook na ander organisasies uit te reik en kragte saam te snoer. Wat het julle in gedagte?

Nee, ek weet nie hiervan nie. Dis nie dat ons nie wíl saamwerk nie, maar daar is nie vir ons ’n nut om saam met ander organisasies te werk vir die Sangbundel-projek nie.