Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Poësie | Poetry > Afrikaans > Gepubliseerde digters

Istanbul, ’n meditasie


Joan Hambidge - 2011-11-01

Istanbul, ’n meditasie

In ’n troebel droom
skeur ek die binneblad van ’n boek uit,
daar waar die biblioteekdatumstempel staan.
Die boek handel oor hulle, die dooies,
die vertrekkendes wat soms in drome
hul opwagting maak of in vreemde stede
op ’n haar na lyk soos ’n inwoner van ’n stad,
maar praat met ’n vreemde tongval, verbaas opkyk
en nooit terug groet nie of in ’n glaskas van ’n museum
uitgestrek lê en onsiende staar. Hulle lewens
was op bruikleen. Dit het nooit aan hul behoort nie.
Hul lewens was ’n blote storie en die Outeur
se naam in die kolofon blyk te wees ’n skuilnaam.
Daardie Naam is die een waarna ek bly soek.
Vannag lees ek daardie geleende boek
oor die lewens van my vriende, my vader
en almal wat my pad gekruis het. Oor ’n lewe
uitgeneem in die biblioteek van die Dood.