Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Te min kodeks – te veel huilende tjello’s


Joan Hambidge - 2011-11-01

Kodeks
Nini Bennett
Uitgewer: Cordis Trust Publikasies
ISBN: 9780620500302



Die afgelope tyd het daar ’n handvol sterk debute verskyn. Van Andries Samuel se Wanpraktyk tot Martina Klopper se Nadoodse ondersoek; Melt Myburgh se oewerbestaan en Loftus Marais se Staan in die algemeen nader aan vensters. Fourie Botha se Donkerkamer en ’n hele rits nuwe digters wat sowel in die Versindaba se bloemlesings as in die Nuwe stemme-reeks die aandag getrek het. Die jongeling Jasper van Zyl maak eweneens ’n merk. Daar is ook Jo Prins. Om enkele name te noem, want daar is ook skitter-bydraes in Nuwe stemme, soos dié van Lewies Botha, Aniel Botha, Corné Coetzee, ea. Carina Stander staan al op ’n tweede bundel, nes Danie Marais. En Ronelda Kamfer, wie se tweede Santekraam deur Antjie Krog begelei is.

Sommige van die digters is deur slypskole of kreatiewe skryfkursusse; ander het dit op eie stoom behaal. ’n Veelheid van stemme wat veral tegnies imponeer. Die invloed van slypskole en groepsbesprekings van gedigte maak dit dikwels vir die jong digter moeilik om ’n tweede bundel te skryf. Nou is die vangnet nie meer daar nie; die klankbord afwesig. Maar digters het altyd klankborde, al is dit deur die lees van ander, gekanoniseerde en bekende digters se werk. Om te dig is nie ’n spontane proses nie; jy moet kennis neem van die tradisie en selfs ’n soort ont-kenning van die tradisie (soos by Gert Vlok Nel) of ’n opstand daarteen of wegskryf daarvan (sogenaamde jonger weergawes van die praatgedig).

Nini Bennett se Kodeks laat die indruk van woordoordadigheid, van oorbeskrywing, en in hierdie opsig sluit dit aan by die tradisie in die sewentigerjare toe verse dikwels impressionisties in vorm was. Dit kan uiteraard, maar dan moet die digter steeds tussen die beelde ’n subtiele balans handhaaf.

’n Gedig is nie net emosie nie. Inteendeel. ’n Geslaagde of goeie gedig ontspruit uit ’n emosionele reaksie, maar dan moet die digter dit in gedigvorm “vertaal”. Die bundeltitel Kodeks verraai dat die digter dit besef, maar die bundel staan nog te veel in die ban van die emosionele reaksie.

En boonop moet ’n digter haar vergewis van die tradisie waarbinne sy skryf.

Wanneer die digter hierdie balans vind, soos in  “die broodlyn van die taal praat”, is dit goed (“Motorwag”, 26). Of verwys na tande wat ge-chip is soos ’n sleutel, dan oortuig dit (5). “Tyd” (17) is amper-amper daar.

Dis kennelik ’n bundel wat onstaan het na etlike pynlike afleggings; maar dis nog nie poëties oortuigend nie.

En “doodgereënde gedig” (28)? Die liefde vir die mooi woord ondermyn dikwels ’n gedig se aanslag. Dit wat “digterlik” klink, steur ’n vers se gang. Lawwe beelde vind ons, soos “wind ruk die spookpyne/ van amputasies oop” (38). Die religieuse vers, ’n moeilike opgaaf, omdat dit eis dat die abstrakte of metafisiese verkonkretiseer moet word, bly vassteek in die sielige (“Tweede gebod”, 41). Totius, Cussons, IL de Villiers en Lina Spies het al gewys hoe dit gedoen moet word. (Terloops, nie een van hierdie digters sou praat van ’n tiara van dorings nie!)  “(Binker Stein)” eksperimenteer met die tegnieke van Facebook wat Bibi Slippers al beter ontgin het (51) en “Vlugtyd” (52) wil waarskynlik geykthede rondom die liefde verbeeld, maar word niks anders as, wel, ’n cliché nie.

Interessant is wel die spel onderaan die vers “Lykdig”, waarin die gesprek met Totius en Louw, onder andere, erken word met ’n “(Intertekstualiteit word erken)”, 14.

Die literêre pointillisme, soos Kannemeyer na die Dertigers verwys het, raak op die duur steurend. Sekere woorde word soveel keer aangewend dat dit bloot steur. Die gedig oor “Leigh Matthews” (31) word bloot batos en is so oordrewe dat die simpatie wat dit by die leser moes ontlok het, verlore gaan. Die subtitel lui: “Na ’n besoek aan die moordtoneel, Walkerville”.

nader dan die moordtoneel
met ontsag
hier het die hel oopgegaan
een nag
nader, met vrees
die Heilige grond afgekordon
polisielinte ’n stil rouklag

hier het ’n meisie gelê
dalk op haar sy     ’n fetus                    
aan aarde-moeder teruggegee
en ’n uitvaart miere om die bloedkorse
in haar kop     ’n sliert hare terloops      
in haar mond
ingewaai 

gee dan die blomme
terug aan die son
en die bye hul tjello tremolando huilnoot –
hier waar polisielinte ruk
sal wilgers weer sweepslaan in die wind

’n meisie se gebede
skier déúr Julie-grond

die lewe het sy losprys gulsig verslind:
in die dood het sy mondig geword
hier het Leigh Matthews gras geword.

Wat die digter moes geïnsinueer het deur beelde, word nou in tremolando huilnote uitgeblaker; met funeste gevolge vir die gedig. ’n Gedig wat preek of filosofies stelling inneem, wankel maklik. Daar is ook ’n vers vir Sheldean (24) wat ’n mens terugneem na die spanning tussen berig en gedig en “Klara Majola” des te meer laat waardeer.

Die bundel is gepubliseer by ’n minder bekende uitgewer, Cordis Trust Publikasies. Ten spyte van baie fronse en kritiek oor kreatiewe skryfskole is dit wel ’n bewese feit dat digters baat vind by ’n kritiese proses van slyping. En dit is wat Opperman se letterkundige laboratorium was, soos Johann Lodewyk Marais tereg uitwys in sy artikel dat dit die jong digter geleer het om sowel digter as kritikus te wees.

Die digter het as prosateur reeds naam gemaak, maar ongelukkig is daar in hierdie bundel min bewyse van ’n belangrike of beduidende talent in die digkuns. Geykte beelde, gebrek aan beeldkongruensie of ’n balans tussen emosie en segging, verongeluk die bundel. En om vadersnaam, bly wég van beelde soos ’n “huilende tjello” (6). Die digter is onbekend aan my, dus weet ek nie of sy wel ’n slypskool of kreatiewe kursus iewers in die digkuns bygewoon het nie. My apologie as ek op ’n kollega se toon getrap het.



Bron

Johann Lodewyk Marais. Die Letterkundige Laboratorium van die Universiteit van Stellenbosch (1960-1984), Stilet 13(3), September 2001:92-108.