Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Tropenmuseum, Afrikaans en môre (Aflewering 1)


Carina van der Walt - 2011-11-01

Untitled Document

Die afgelope twee weke het dit behoorlik gegons op Nederlandse kultuurgebied. Opnuut het die publiek geskok gereageer op besparingsmaatreëls van die huidige kabinet. Hierdie keer het dit die Tropenmuseum geraak. Die Tropenmuseum het deesdae ’n spesiale plekkie in die harte van Afrikaanse skrywers en sangers. Vier maande gelede het die eerste volbloed Afrikaanse fees hier in Amsterdam plaasgevind. Dié wat hier was, wil weer kom. Ander hoop om in die toekoms uitgenooi te word. Maar nou lyk dit asof die Tropenmuseum sy deure sal moet sluit, ook al is dit deel van ’n breër geheel: die Koninklijk Instituut voor de Tropen (KIT).

Breytenbach deel handtekeninge uit op die imposante marmertrappe van die Tropentheater

Die huidige minderheidskabinet in Nederland sit vasgedruk tussen die eise van die Europese Unie (EU) om te help spaar en die sogenaamde gedoogakkoord met die Partij Voor de Vrijheid (PVV) van Geert Wilders. Gedoogakkoord beteken dat die dinge wat Wilders en sy party goedkeur en afkeur, die politieke klimaat bepaal. Hý is in ’n posisie waarin hy die besluite van die kabinet duld of nie duld nie, vandaar gedoog. Die kabinet kan besluite deurvoer slegs as Wilders en die PVV ook hulle goedkeuring daarvoor gee. En as dit van die PVV afhang, wil hy veral op twee gebiede bespaar: kuns en kultuur aan die een kant en ontwikkelingsamewerking aan die ander kant. Subsidies hieraan kom swaar onder druk te staan.

Beide hierdie twee gebiede (kuns en kultuur en ontwikkelingsamewerking) raak die verhouding tussen Suid-Afrika en Nederland. Dit is ’n verhouding wat so ver terugstrek as Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap in 1652. Die Nederlandse koloniale geskiedenis kan vir die PVV ook ’n steen des aanstoots wees. Die sluiting van die Tropenmuseum sou die Nederlandse publieke bewussyn onthef van enige moontlike skuldgevoelens oor uitbuiting, diskriminasie en slawehandel in hulle geskiedenis. Ten diepste raak hierdie tipe onverskilligheid en kortsigtigheid ook die verhouding tussen Afrikaans en Nederlands.

Tydens ’n paneelbespreking wat op die Afrikaanse fees deur Ena Jansen gelei is, verwys Breyten Breytenbach na die imposante houtpilare en marmerwerk in die Tropentheater. Nederland met sy VOC het al hierdie materiaal uit die kolonies hierheen gebring. ’n Monumentale gebou het uit die Nederlandse Goue Tydperk (die 17de eeu) tot stand gekom. Vergeet nie dat Nederlanders in die eerste plek handelaars is nie.

Die Tropenmuseum, Tropentheater, Bibliotheek, Medische laboratorium en Advieswerk voor beleidsvorming: ontwikkelingshulp is die vyf bene van die KIT. Vir Afrikaans is dit belangrik dat die eerste drie bene bly voortbestaan, veral met die oog op toekomstige kulturele wisselwerking.Vir Suid-Afrika is dit belangrik dat ontwikkelingsamewerking nie gestaak word nie. Veral op die gebied van stadsraadbestuur en die sinvolle benutting van belastinggeld kan Suid-Afrikaners nog baie by Nederlanders leer.

Wannie Carstens (nuwe voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) en Michael le Cordeur (tans ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad) saam by die Afrikaanse fees in Amsterdam.

Dat die eerste fees vir Afrikaans juis in die Tropenmuseum en Tropentheater in Amsterdam plaasgevind het, is die resultaat van die kontak tussen Jacques van der Elst (uitvoerende hoofbeampte van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) en Jan Donner (voorsitter van die KIT se bestuursraad). In ’n e-pos verduidelik Van der Elst: “Soos gesê, het ek net bemiddel met Jan Donner vir die verkryging van die Tropentheater vir die Afrikaanse Festival – of laat ek sê dat ek die twee (Donner en feesorganiseerder Joris Cornellisen) by mekaar uitgebring het.”

Afgelope Junie het hierdie fees die rykdom aan variasie in die Afrikaanse taal gevier. In ’n sekere sin was dit op ’n baie klein skaal grensverskuiwend om soveel Kaaps-Afrikaans, Karoo-Afrikaans, Namakwa-Afrikaans, Griekwa-Afrikaans, Oranjerivier-Afrikaans enTsotsi-Afrikaans op dieselfde verhoof te hoor. Intussen het die benaming Afrikaaps ook al ’n stewige plek verower onder die Nederlandse publiek, wat nie genoeg van die soet, eksotiese klanke van Afrikaans as suidertaal kan kry nie.

In ’n onderhoud met Michael le Cordeur laat hy hom so uit oor die fees en die meerstemmigheid van Afrikaans: “Die fees is ’n absolute wenner. Jy kan maar net hoop dat dit ’n gereelde datum kan wees op die Afrikaanse kalender in die toekoms. Ek dink ons het ’n stukkie goud kom raakboor in Nederland. … Oor die stem van die bruinmens, die Kaaps-Afrikaans op die fees, is ek besonder bly. Of dit genoeg is? Ek dink ek sal nie eerlik teenoor myself wees as ek sê dis genoeg nie. Ek dink ons sal altyd wil sien dat daar meer verteenwoordiging is, maar ek wil óók sê dat diegene wat wel hier is, moet toesien dat hulle die speelvlak gelyk kan maak, die pad kan voorberei vir ander om te kom.”

Die Tropentheater was ’n indrukwekkende ruimte vir die allereerste Afrikaanse fees in Amsterdam. Natuurlik sal Afrikaanse skrywers en kunstenaars hierheen wil terugkeer. Maar sal dieselfde plek vir hulle gegun word? Miskien nie, maar ek deel die hoop met Le Cordeur dat dit ’n vaste datum op die Afrikaanse kalender sal word.