Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Willie Knoetze: Uit die boks

Uit die boks: Vergifnis


Willie Knoetze - 2007-02-28


Kersfees tuis het grootliks sonder voorval gekom en gegaan. Dis nogal anders as dit net jy, jou ouers en twee grootouers is om die etenstafel. Gesprekke dwaal na onbekende mense van jare gelede en familie van wie jy nog nooit gehoor het nie. In die jaarlikse oorsig is vlugtig na tannie Lettie (en haar vriendin van oor die dertig jaar) verwys. Ek wens ek het meer geweet van hulle – maar daardie hoofstuk is duister. My ma het my al vertel wat sy weet – dat Lettie ’n sterk vrou is wat skopgrawe gery het – maar dis ook waar dit stop. Van Dora weet ek niks behalwe haar naam en dat sy en Lettie die laaste paar jaar na my stiefoumagrootjie kyk (Stiefoumagrootjie het nie baie aanhangers nie, het ek nou al oor die jare afgelei ... Aspoestertjie se stiefma se moses.)
 
Hulle storie is egter nie uniek nie. Dink bietjie daaroor: van hoeveel kinders weet jy wat tot die einde na hul ouers omsien? Hoeveel mense het ek al ontmoet wat saam met hul ma’s woon – en nie omdat hulle afhanklik is van moeder se onderhoud nie, maar juis andersom? Snaaks genoeg is die meeste van die pa’s eerste oorlede ... liewer dood as afhanklik van die moffie? Seker darem nie. Dis egter interessant dat daai gedagte by my opgekom het ... Hmm, sal bietjie daaroor moet dink.
 
Sou dit ’n algemene verskynsel wees in ons geledere? Dat ons heteroseksuele broers en susters uit die huis trek, dalk trou, kinders kry en daar buite lewens bou, en dat die families wat gelukkig genoeg is om ons in hul geledere te hê, uiteindelik weer ouer en kind die herfsjare ingaan? Is ons die moderne weergawe van die jongste dogter van ouds? Dit sou interessant wees om te hoor van julle ervarings en gedagtes. Dalk kan julle ietsie skryf vir die briewe-afdeling?
 
Maar laat ek terugkom na my storie toe.
 
So praat ek en Riana nou die dag oor familie en verhoudings. Oor dinge wat mens leer langs die pad, glo moet deurleef om tot insig te kom en wat dit dalk mag beteken in die nuwe jaar. Sy het oor Kersfees uiteindelik haar hart teenoor haar ouers oopgemaak. Dinge wat jare lank onderdruk en ongesê was, is in die oopte gebring, trane is gestort en verhoudings is hernuwe. Van hier af vorentoe kom sekerlik nog ’n paar stampe en stote – maar daar’s lig!
 
In my eie lewe is daardie dieper verhouding met my ouers al ’n rukkie teenwoordig. So met die tyd het ons mekaar van nuuts af leer ken, geleer waar almal se knoppies is en hoe om openlik en lekker te kan gesels. Ek onthou hoe dit jare gelede nog my ouers ontstel het as ek oor kêrels gepraat het, of gesê het ek gaan vry (in plaas van kuier by ’n vriend). Aan die ander kant onthou ek ook hoe oorsensitief ek was – en hoe maklik ek sommer ’n groot ding gemaak het van nietighede. Gelukkig was daar liefde en het die tyd ons gehelp om mekaar beter te verstaan en saam te groei. In so ’n mate dat ek op normale wyse vir my ouers kon sê dat ek en Wihan (die jongste belangstellende) se kersie uit is – en dat hulle op normale wyse kon reageer: tussen die TV-advertensies deur het my pa gevra of ek dink dat daar iets van my en Wihan se vriendskap gaan kom, of hy dalk dié een is en so. Ek dink my ma het vroeër vermoed alles is nie pluis nie, want sy het alles wat deur my kop gemaal het, herken toe ek antwoord. Die berugte, allerbelangrike "vonk" is, op sy eie, ook nie genoeg om ’n verhouding te laat werk nie. Ons het so bietjie daaroor gesels en klaar CSI gekyk. Maklik soos dit. En so onopwindend soos dit mag klink, het daardie gesprekkie vir my die wêreld beteken.
 
Dit laat my wonder: Vorder almal wat saam met hul ouers woon, se verhoudings tot hier en verder? Is tyd dalk ál wat ons nodig het om ons liefde vir mekaar te herontdek, dit te laat groei en alles te oorbrug? Is dit die geheim van vergifnis?
 
Vergifnis. Dis die ander ding wat nodig is vir ware geluk, sou ek raai. In die geval van my en my gesin moes ek leer om hulle te vergewe vir wat hulle (grootliks net in my eie kop) aan my gedoen het. Ek moes hulle vergewe vir die jare wat hulle, onwetend, my bang gemaak het vir wie ek was. Vir die moffiegrappies en aanmerkings, vir die wêreld se onkunde oor MIV en gays en hordes ander goedjies. Goedjies waarvan ek self nie eers aldag bewus was nie. So ook moes hulle my vergewe. Vergewe vir die pyn wat ek veroorsaak het in my worstelinge met bogenoemde; vir die afstand wat ek verkies het bo konfrontasie; en uiteindelik vir die drome wat hulle moes begrawe toe hulle uitvind dat ek nie vrou gaan vat en voortplant nie (ook vergewe vir my manier om soms bietjie te kru te wees). En ons moes elkeen onsself vergewe.
 
Nie dat alles verby is en ons verhouding perfek is nie – perfeksie is nie vir die lewende mens beskore nie. Elke dag bring sy eie geleenthede vir konflik en versoening. Dis hoe jy dit hanteer wat saak maak. En hoe jy onthou! Vergewe is nie vergeet nie – hoe sou ons dan groei en leer? Mens moet beslis onthou – maar met ’n oop gemoed.
 
Ek besef dis tyd dat ek vergifnis verder moet voer. Na aanleiding van netnou se mini-uitbarsting (liewer dood as ...) besef ek dat ek André se pa moet vergewe. Nie om sy onthalwe nie (ons paaie het lank terug geskei), maar om myne. In dieselfde asem is dit tyd vir my om die Kerk te vergewe; vriende wat langs die pad verdwyn het; vergange liefdes ... almal. Hoe anders gaan ek oor my onderliggende issues kom?
 
Dit is dan my voorneme vir die jaar – en my wens vir julle: dat vergifnis deel word van elke dag en Liefde in alles gestalte sal neem. Voorspoedige nuwe jaar!