Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

Oor Arthur Hall se spekulasie oor Martina Viljoen se artikel


Reinhardt Fourie - 2011-10-27

Arthur Hall “spekuleer” wyd en syd oor ’n hele aantal kwessies in sy repliek op Martina Viljoen se redelik onlangse artikel in LitNet Akademies 8(2). Daar is egter ’n aantal van sy opmerkings en argumente wat problematies is.

Hall beskou Jack Parow (seker tereg) as nog ’n uitvloeisel van ’n Bellville-musiekbeweging wat onder andere Fokofpolisiekar, Die Heuwels Fantasties en aKING insluit. Hy noem dat hierdie groepe se werk “elemente (bevat) van aanvallende kritiek op die samelewing waarin hulle bestaan en in my opinie kan hulle inslag as anarchistiese [sic] surrealisme beskryf word”. Hoe hierdie groepe juis “anarchisties surrealisties” is, word egter nie verduidelik nie. Dat hulle nie “bubblegum-pop-rympies” sing nie, en “aanvallende kritiek” lewer “op die samelewing waarin hulle bestaan”, deug nie. Daarvoor is surrealisme darem ietwat te kompleks. Verder berus Hall se argument daarop dat Parow en sy zef blykbaar nie juis “uniek” is nie, want “hy dien meer as ’n zef-uitlaatklep wat elke Afrikaner maar het en net nog nooit individueel wou erken het nie”.

Hierdie stelling is ’n eenvoudige stereotipe. Daarbenewens laat Hall se verdere argumentasie buite rekening dat magstrukture binne ’n gemeenskap bepalend is in wat geklassifiseer word as zef en niezef. Mens sou hier byvoorbeeld dink aan Pierre Bourdieu se konsepte van kulturele, sosiale en simboliese kapitaal. Niks is tog essensieel zef nie; dit hang bloot af van waaraan waarde geheg word.

Die volgende deel van Hall se argument berus op ’n uitgediende siening van die suide van Suid-Afrika as kultuurbewus en die noorde as kultuurloos. Die samestellings van gemeenskappe in verskillende dele van die land het uiteraard uiteenlopende tendense tot gevolg, maar hierdie idee van noord versus suid kon waaragtig maar saam met Perskor gesneuwel het. Dit is en bly ’n ongefundeerde oordeel wat nie hoort binne ’n bepaalde akademiese diskoers nie.

Hier skryf Hall ook: “Of ten minste lyk dit of (Amerikaanse) globalisme ’n ander uitwerking op elkeen van dié groepe het.”

Eerstens wil mens vra wat “(Amerikaanse) globalisme” nou eintlik is. Globalisme is tog meer as die blote invloed van Amerika op die res van die wêreld. Tweedens wil mens vra of mens noodwendig hierdie invloede en prosesse klakkeloos as negatief kan afmaak.

Die bespreking oor Afrikaner-identiteit is ook uiters problematies. Afrikaners van sekere geslagte word heel eenvoudig in twee duidelik gemarkeerde groepe verdeel. So ’n aanpak hou uiteraard vanselfsprekende gevare in, veral as mens in ag neem dat hier met die besonder vloeibare konsepte van kultuur en identiteit gewerk word.

Die bespreking loop uiteindelik ook uit in ’n kleinlike monduitspoelsessie oor MK se JIP en die program se aanbieder, Natalie Roos. Hierdie moddergooiery word ook deel van die gevolgtrekking – dat die “vertraagheid” [sic] van mense soos Roos te wyte is aan “’n jonger geslag wat geen of bitter min konkrete kulturele leiding van hulle ouer geslag kry of gekry het”. Wat hier bespreek word, is absurd, en heeltemal nie relevant tot Martina Viljoen se artikel nie.

Uiteindelik sluit Hall sy stuk af met die volgende amper moraliserende woorde, waarin skynbaar veronderstel word dat beide kultuur en identiteit standvastige, duidelik begrensbare konsepte is: “Of dit nou Jack Parow is, of bloot die gemiddelde 16- tot 30-jarige Afrikaner – sonder die kulturele aanwysing van die ouers is die identiteit en kultuur op pad om te sneuwel.”

Hall se skrywe, wat bestaan uit ongefundeerde menings en die besprekings van stereotipes wat dikwels weinig te make het met Viljoen se artikel, kan kwalik dien as behoorlike kritiese kommentaar op ’n artikel wat gepubliseer is in ’n portuurbeoordeelde joernaal soos LitNet Akademies.

Reinhardt Fourie

Bourdieu, Pierre. 1984 [1979]. Distinction: a Social Critique of the Judgement of Taste. Translated by Richard Nice. New York: Routledge.