Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Willem Botha, hoofredakteur van die WAT, gesels met Naomi Meyer oor Borg ’n Woord


Willem Botha - 2011-10-27

Untitled Document

Wat is Borg ’n Woord?

Borg ’n Woord is die WAT se jaarlikse projek om fondse te in sodat die Afrikaanse taal in sy wydste omvang opgeteken kan word. Nie net Standaardafrikaans nie, maar ook streektaal, geselstaal, uitdrukkings en die verskillende variëteite van Afrikaans soos Kaaps en Namakwalands is belangrik vir die WAT.  Indien die WAT nie voltooi word nie, sal Afrikaans nooit volledig gedokumenteer word nie.

Hoe borg ek ’n woord?

Gaan na www.wat.co.za en klik op Borg ’n Woord, of stuur ’n tjek uitgemaak aan WAT Trust met jou naam, (e-pos-) adres en woord of woorde wat jy borg na WAT, Posbus 245, Stellenbosch, 7599.  Jy kan enige Afrikaanse woord teen R100 per woord borg. Indien jy egter ’n woord met R5 000 borg, mag niemand anders daardie woord borg nie. Een gelukkige persoon gaan ’n Absa-belegging van R25 000 in ’n prystrekking wen.

Sê nou die woord wat ek wil borg, is reeds gevat?

As die woord vir R100 geborg is, maak dit nie saak dat iemand dit reeds geborg het nie. Indien die woord egter met R5 000 geborg is, moet jy ’n ander woord of woorde kies.

Watter woorde is reeds deur bekendes gevat (en wie is sommige van die bekendes)?

Antjie Krog het nou net hier kom woorde borg.

Marita van der Vyver, bekende Afrikaanse skrywer wat tans in Frankryk woon, het reeds aangedui dat kardoes boaan haar lysie van tien geliefkoosde Afrikaanse woorde is. Ook op haar lysie is sprokie, padkos, grondpad, pampoen, patat, papawer, komkommer, nou-nou en ja-nee. Breyten Breytenbach het ook beloof om sy tien gunstelingwoorde te stuur.

David Kramer, ook ’n vriend van die WAT, het verlede jaar die veldtog ondersteun toe woorde ter waarde van R430 000 geborg is. Die meeste woorde is deur Chris Otto van Stellenbosch geborg. Hy het aangebied om al die krieketterme in die WAT te borg en moes toe pa staan vir 220 terme vir ’n totaal van R22 000! Hoërskool Gimnasium in die Paarl is die skool wat die meeste woorde geborg het, naamlik 159 wat deur leerders, onderwysers, ouers en oudleerlinge uitgekies is.

Die skool wat vanjaar die meeste woorde borg, ontvang die volgende: ’n span kenners van die WAT kom bied ’n werkswinkel in die gebruik van die Elektroniese WAT by die skool aan; onderwysers word ook touwys gemaak in die gebruik van die Elektroniese WAT in hul Afrikaans-onderrig; en die Elektroniese WAT word gratis op die skool se netwerk geïnstalleer.

Max du Preez, wat onlangs in ’n relletjie oor sy gebruik van die woord maaifoedie was, het besluit om einste maaifoedie, karnallie, swernoot en booswig te borg. Nog ’n skrywer wat van haar laat hoor het, is Riana Scheepers. Sy borg tien woorde, waarvan agt uit die titels van haar boeke kom en twee van hulle woorde is waarmee sy haar geliefde (haar man Johann Loubser) assosieer. Dié twee woorde is haar verjaarsdaggeskenk aan hom! Die agt woorde uit die titels van haar boeke is vuur, storie, heiden, huis, feeks, katvoet, karmosyn en engel. Karoo en skerpioen is haar man se verjaarsdaggeskenk.

Sandra Botha, Suid-Afrika se ambassadeur in Praag, en haar man Andries het in Junie reeds laat blyk dat hulle vanjaar die woord woordenaar wil borg. Dit is die woord waarmee Neil Rademan homself beskryf het tydens sy optrede by Het Festival voor het Afrikaans in Junie vanjaar in Amsterdam. Willem Botha was daar en ná Rademan se optrede het die Bothas aan Willem gesê dat hulle woordenaar in die volgende ronde van Borg ’n Woord wil borg.

Steve Booysen, vorige uitvoerende hoof van ABSA, het die woord waardes vir R5 000 geborg. Die 92-jarige PH Nortjé, skepper van sulke bekende jeugverhale soos Pennie se vuur, het laat weet dat hy karjakker en kaparra borg. Dit is woorde in die WAT waar aanhalings uit sy boeke verskyn.

Callie Burger is oorspronklik van Namakwaland en wil graag ’n woord uit sy kinderdae borg, nl heutjieheu, en was verheug dat dit in die WAT opgeneem is met byna 20 wisselvorme, nl hekejee, hekiejee, heukieheu, heutjieheu, heutjiehie, heutjiehu, hiekiehee, huidjie-eenasem, huidjie-eenderm, huidjiehee, huitjieheu, huitjiehu, hutjie-eenasem, hutjieeenderm, hutjiehee, hutjiehie, hutjiehu, huutjiehee, huutjiehu.’n Heutjieheu is ’n blaasopsprinkaan wat veral in die Wes-Kaap voorkom en meestal op bossies gevind word en lekker kan raas.

Marius van Wyk borg die twee woorde noppies en snoet vir sy dogtertjie Annabé, omdat dit vir haar van kleintyd af baie snaaks is. Hy skryf: "Sy sal vir altyd trots en in haar noppies wees" dat hierdie woorde nou hare is.

Wie is die ambassadeurs van hierdie projek?

Vanjaar is dit Charlene Truter en verlede jaar was dit David Kramer. 

Noem ’n paar van jou gunstelingwoorde wat nog beskikbaar is.

Elke persoon het maar sy of haar gunstelingwoorde en wat myne is, is seker nie belangrik nie. Een wat sommer nou in my kop kom, is karnuffel. Daar is natuurlik ook kafoefel ...

Bly die woord wat ek borg, vir altyd myne, of verval dit na ’n tyd?

Jou woord is jou woord en jy kry ’n sertifikaat om dit te bewys.