Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Essays

Die ewige kind


Hennie Aucamp - 2011-10-26

Daar kan nie veralgemenend oor die kind gepraat word nie, net soos daar nie veralgemenend oor die grootmens gepraat kan word nie. Die mens, oud sowel as jonk, is steeds wordende en toon, in watter fase van wording ook, die “infinite variety” waarvan Shakespeare skryf.

Tog word daar, om logistiese en ander redes, van die kind en die grootmens gepraat, byna soos van twee opposisies, ironies genoeg juis deur die onderwys. En dan kom ’n kinderboekskrywer soos dr Seuss en kompliseer die saak nog verder deur na volwassenes as “obsolete children” te verwys.

Daar is skrywers wat hulle teen die nosies “kinder- en jeuglektuur” verset. Anton Tsjechof is so ’n skrywer. In die inleiding tot ’n Folio Society-uitgawe van Tsjechof-verhale word hy aangehaal waar hy soos volg aan ’n pedagogiese vereniging skryf:

I don’t know how to write for children, and I dislike and don’t recognize so-called “children’s literature”. One should give children to read what is also suitable for grown-ups. Andersen, Goncharov’s The Frigate Pallada, and Gogol are read willingly by children, as well as by adults. One should not write for children, but know how to select for them what has been written for grown-ups, that is, from genuine works of art ...

’n Verhaal van Tsjechof wat deur kinders “van agt tot taggentag” geniet kan word (ek verwys na ’n uitspraak van CJ Langenhoven) is “Kashtanka”, ’n langerige kortverhaal in sewe kort hoofstukke. Dis die verhaal van ’n  hondjie, half brak en half daschund, kastaiingbruin van kleur, soos haar naam dan ook te kenne gee. Binne ’n enkele bladsy ken jy haar en raak hopeloos verlief op haar; sy is lewendig, intelligent, stout, beminlik. Maar “beminlik” is kwalik die woord wat jy omtrent haar baas kan gebruik. Hy is ’n skrynwerker, dikwels dronk, en dis veral dan dat hy baie lelik vloek. Sy vloekery word nie gekamoefleer nie, maar regstreeks gegee. Kashtanka moet byvoorbeeld hoor: “You, Kashtanka, are a lowly creature, a sort of insect, nothing more. Compared to a man you’re like a carpenter compared to a cabinet-maker ...” Teen die einde van die verhaal herhaal die skrynwerker sy doemuitspraak oor Kashtanka, maar hy verdoem ook homself met dié woorde: “Wallowing in my sins ... in the fathomless womb of hell ...”

In die eerste hoofstuk van “Kashtanka” vergesel Kashtanka haar baas terwyl hy goedere aan klante aflewer. Hulle raak mekaar kwyt as gevolg van ’n militêre orkes wat deur die strate marsjeer, want Kashtanka se oorgevoelige ore kan skel musiek nie verduur nie, en sy slaan op vlug.

Kashtanka is honger en droewig op haar eie, maar teen die einde van ’n lang dag kom daar redding in die persoon van ’n diere-afrigter by ’n sirkus. Hy neem haar saam met hom na sy huis, waar sy met haar toekomstige kollegas kennis maak: ’n gans, ’n vark en ’n hooghartige kat. Sy kry heerlike kos en geniet selfs die ure lange afrigting per dag.

Dan kom die hoogtepunt van die verhaal, hoofstuk 6, waarin vreemde dinge gebeur. Die diere raak beangs, want hulle voel die dood aan in hul kamer, en dis inderdaad die dood wat die gans kom haal het. Hy is deur ’n perd raakgetrap en is inwendig beseer.

Ek gaan nie die res van die verhaal vertel nie, want ek het reeds twee sake uitgelig wat nie in tradisionele kinderverhale opgeneem word nie, al sou kinders daaroor heen lees sonder dat hulle leesplesier daaronder ly. Tsjechof pas naamlik geen sensuur toe nie. Die skrynwerker word in sy ruheid sowel as sondebewustheid weergegee, en dood as kosmiese gegewe word nie verswyg nie. Dis interessant dat die aangrypende hoofstuk oor die dood later eers deur Tsjechof bygeskryf is, waarmee hy sy genialiteit as skrywer demonstreer. “Kashtanka” is eintlik ’n Bildungsromannetjie, en Kashtanka móét deur ’n pynlike ervaring gaan om tot ’n sekere volwassenheid te kom.

’n Mens weet nie of Tsjechof van kindsbeen af teen kinderliteratuur gekant was nie; van Edith Wharton weet ’n mens dit wel, want sy skryf hieroor in haar outobiografie, A backward glance. Reeds voor sy kon lees, het sy al stories opgemaak, maar sy moes ’n boek – ’n lywige grootmensboek – in haar hande hê om die gees oor haar te laat vaardig word. En van feëverhale het sy van meet af aan nie gehou nie: sy het hulle as patroniserend teenoor die kind beskou. Mitologie was egter anders, want die gode en godinne was vir haar soos die deftige gaste wat by hulle kom eet het. Mnr Bedlow het haar op mites vergas. Hieroor skryf sy baie vermaaklik: “When Mr Bedlow dined with us I was always led in with the dessert, my red hair rolled into sausages, and the sleeves of my best frock looped up with pink coral, and was allowed to perch on his knee while he told me mythology.”

Terloops, Wharton was tussen vier en vyf jaar oud in haar “mitologie-periode”.

’n Afrikaanse skryfster wat ook geen erg aan kinderstories gehad het nie, is Sheila Cussons. Sy vertel in ’n dokumentêre rolprent dat sy reeds as kind Shakespeare bo kinderverhale verkies het. Familie of vriende, maak nie saak wie nie, het dit hoogs “eksentriek” gevind, maar Cussons se ma het gesê: “Laat Sheila lees wat vir haar mooi is.”

Deon Knobel vertel dat sy broer Wilhelm in sub B die boekie Veldmensies neergesit en op die plek ’n grootmensboek, Verskuifde bakens, begin lees het, en end-uit gelees het!

My voorbeeldgevalle tot dusver – Tsjechof, Wharton, Cussons en Wilhelm Knobel – was natuurlik buitengewone mense: hiperintelligent, hipertalentvol; maar een ding sou opvoedkundiges wel deeglik van hulle kon leer: moet nooit die kind onderskat en patroniseer nie.

Opvoedkundig het Afrikaans in baie opsigte agteruitgeboer. Die Dagbreek- en die Sunny South-leesboeke van my jeug, vir standerds 4, 5 en 6, onder die vérsiende sorg van Elsa Joubert se ouers, het hulle nooit aan patronisering skuldig gemaak nie. Hulle het, soos Tsjechof dit wou hê, die beste uit grootmensletterkunde vir kinders gekies. So het dit gebeur dat jy van vroeg af letterkunde as modelle gehad het wanneer dit by poësie kom: Leipoldt, CM van den Heever en ander. Ook het Joubert se ouers etniese, historiese, mitologiese, wetenskaplike en kunshistoriese materiaal ingesluit, altyd verbeeldingryk geïllustreer.

Toe Gerrit Komrij ’n bloemlesing kinderverse in Nederlands saamgestel het – ’n dik bundel, 1 000 en enige gedigte – was sy keuse net so verbeeldingryk as dié van die Jouberts, net veel, veel ruimer, want hy het eeue van Nederlandse kinderverse gehad om van te kies. Van die klassieke gedigte van klassieke digters soos Boutens en Marthinus Nijhoff is ingesluit; van Nijhoff byvoorbeeld “Het liedje van de simpele” en “Kinderkruistocht”.

Hou ’n mens in die gedagte die heerlike angs wat grillerige verhale by die mens ontketen, verbaas dit jou dat “Strandjutwolf” van Van Wyk Louw en “Woknakwyf” van Peter Blum nie ook in bloemlesings voorkom nie. Natuurlik hoef die kind nie alles te verstaan wat hy lees nie – jy kan ook dít geniet wat jy nie verstaan nie, soos ek tot die huidige dag toe kan getuig. Roep maar net “Woknakwyf!” en ek begin skree.

Wie Afrikaanse bloemlesings vir kinders saamstel, kan gerus weer by die klassieke begin, van AG Visser tot by Elisabeth Eybers; van Leipoldt tot by Lina Spies.

Watter beleid, filosofie of opvoedkundige riglyne het ek gevolg toe ek op laat leeftyd kinderverse begin skryf het? Hier moet ek myself korrigeer: my skryfloopbaan het juis met kinderverse begin. Adinda Vermaak het tydens navorsing in die argief op versies afgekom wat ek op ouderdom 11 en 12 geskryf het, en vir my aangestuur, en hoewel ek gebloos het by die herlees van my jeugsondes, het ek besef dat ek, en stellig ander kinderskrywers, nie vir kinders geskryf het nie, maar vir ’n algemene publiek.

Het ek vir ’n algemene publiek geskryf toe ek op 75 weer kinderverse begin skryf het? Dalk; maar ek was ook deurentyd in gesprek met die kind wat ek eenmaal was, hopelik nooit patroniserend nie.

En in dié gees het ek aan Diek Grobler, my illustreerder vir Woerts in die hoekie, geskryf: “Ek hou nie van lieftalligheid en ‘cuteness’ nie, want dit kom neer op patronisering. Ek sien die kind as my gelyke, maar met ’n fantasie wat dalk helderder gekleur is as myne. Al verskil tussen my en die kind.”

Ek moet eerlik beken dat ek baie daarvan hou as grootmense ook van my kinderverse hou. Ek het op ’n keer as nagedagte by ’n brief ’n kindervers aan Elzabé Zietsman gestuur, en tot my grootste verrassing laat sy my weet dat sy “Towermantel” vir Rocco de Villiers gegee het, wat dit as tango getoonset het, en nou is dit ferm in die Zietsman-repertorium en reeds in 2010 in The Theatre on the Bay uitgevoer. Hiermee het sy, sonder dat sy dit so bedoel het, ’n fyn hangbrug gespan van kindervers na grootmensteks.

Hier volg “Towermantel”:

’n Swerm voëls skêr deur die lug
en knip die blou satyn,
val daar ’n lap, moet jy jou haas,
sy blou kan gou verdwyn.

Gaan doop jou lap in ’n rivier
wat helder oor tien klippe stroom,
en skielik word dit blywend blou
soos in ’n sprokiesdroom.

Die sterre moet jy self voorsien,
goud of silwer, vyf of ses,
stik dié sterre op jou mantel,
en spoedig volg die res.

Die wind kom fluister in jou oor
jou eie towerkode,
en met jou toorwoord en jou mantel
is jy nou koningsbode.

Ek wou u spesifiek iets laat hoor het, want kinderverse moet gehoor, gesing en gedans word. Hoekom word “Jantjie van die berge” en “Sprokie vir ’n stadskind” van Koos du Plessis nooit vir kinders voorgeskryf nie? Dink net hoe lustig kinders saam met Koos, of op hul eie, sy verse kan sing of sommer net praat?

Vergeet tog van die akademiese benadering in die vroeë stadium van poësie-ontdekking, en vermy die misbruikte woord “kreatiwiteit”. Kreatiwiteit is doen: laat kinders verse opsê en sing, en hul eie verse skryf, en prentjies daarby maak: vir my, deurwinterde ou skoolvos, is dit meer as genoeg.

Hoeveel kinderverse wat vandag geskryf word, het straks begin met die skrywer se herinnering aan ’n vers wat hy in sy kindertyd opgesê het; ’n magiese bloudruk soos:

In die Amatola-klowe
huil nog net die winterwind
in die riete in die maanskyn:
“Tula, tula, stil my kind.”

Die “ewige kind”, dit glo ek vas, is in elke mens aanwesig, en dié DNS kan tot lewe gebring word indien die omstandighede gunstig is, by ’n Andersen en ’n Tolkien, by ’n Walter de la Mare en ’n Annie Schmidt, van toeka af tot nou.