Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Blou Maandag: Bundel het vermaak sowel as meriete


Jaco Fouché - 2011-10-26

Blou Maandag
Saamgestel deur Kerneels Breytenbach
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624053897
Prys: R144.95

Klik hier en koop Blou Maandag nou van Kalahari.net!




“Skryf oor Blou Maandae,” was die opdrag aan die 35 bydraers tot hierdie bundel wat Kerneels Breytenbach saamgestel het. En hulle het, in mindere of meerdere mate.

Sommige het nougeset by Maandae gehou, soos Philip de Vos in sy vermaaklike “Ek en ’n motorkar”. Ander het die opdrag verder geneem as die dag, soos Douwleen Bredenhann in “As die turksvybos lemoene dra”. Sy beskilder ’n groter doek as van die ander vertellinge en het dit oor verydelde liefde, of ten minste passie, wat eers in die dood volvoer word en selfs daarna in skinderstories voortgesit word. Dis ’n ryk verhaal, so reg uit die hart van ’n familie.

Ook Martie Retief-Meiring het ’n ryk stuk gelewer, uit haar dae as jong joernalis. Hier skryf sy oor ’n romantiese ontmoeting wat teen die agtergrond van werkdruk in Europa dalk nie sal plaasvind nie. Maar die onsekerheid dra só by tot die algemene avontuurgees wat die jong vrou se lewe deurspek dat dit (vir die leser, in elk geval) nie saak maak nie.

Herman Wasserman skryf ’n verhaal met ’n waarskuwing teen, of bedagmaking op, jongerige wit beroepslui se gemaksug, gefokaliseer deur die Kaapse prokureur Gerrit wat saam met twee maats gaan fuif en vreet het op Knysna. Die vertelling herinner aan ’n ander Wasserman-verhaal, “Small change”, waarin wit professionele protagoniste net so geld uitgee op duur kos en drank terwyl die nuwe Suid-Afrika soos hier onrustige skadu’s oor hulle gemaklike lewens werp.

Le Roux Schoeman het by haweloses gaan ondersoek instel na hulle ervarings van Blou Maandae en ongeluk. Dis goed om uit die geledere van mense op straat en mans in Heilsleër-hostelle te hoor. Enigeen van ons kan daar beland.

Bun Booyens se weermagvertelling is kostelik en onheilspellend tegelyk. Wat vir my treffend daaraan is, is die wyse waarop mense soms saamgesnoer word en te laat ontdek hoe die buitestander in hulle geledere ’n oplossing vir sy isolasie vind wat so tragies is dat dit die hele groep inkrimineer. Maar die groep sal volhou die enkeling was “stil en effens vreemd”. Weet nie. Miskien is die les dat ’n mens jou alie af moet werk om maar deel van die groep te word en te bly. Dis in elk geval die lekkerte van heelparty van die verhale dat ’n mens oor hulle temas aan die dink gesit word.

Yvonne Beyers skryf ’n mooi stuk oor ’n video en haar ma. Riette Rust skryf ook oor ’n ma, en hoe fel siekte en ouderdom nie net vir die lyer daaraan is nie, maar ook vir diegene wat ondersteuning moet bied.

Deon Maas vertel in ’n heerlike styl van ’n keer toe hy die sleutel van ’n motor se stuurwielslot makeer het nadat hy by ’n partytjie was. Al weet die leser jy lag nou vir iemand anders se leed, voel jy ook saam met die man, veral as jy self al die prooi van ongeveer agtien drankies was.

Deborah Steinmair se “’n Maniese Maandag” laat ’n mens ook lag. ’n Vrou vermoor haar man en konstateer: “Ek het heeltemal te goed gevoel om myself uit te wis met sy morfienpille, soos wat die plan eers was.” En daarna vind sy in die tronk troos by haar “nooi Soekie”.

Maar waar dit by humor kom, skryf Willem Pretorius loshande die snaaksste stuk in die bundel, “Die mongool en die snotgurg”. ’n Snotgurg is ’n trol, verduidelik die storie, een van daardie vreesaanjaende figure uit sprokies, maar in hierdie geval is dit ’n dwerg wat goeie rede vind om sogenaamde hemelkinders te pes. Die storie lees soos ’n polities inkorrekte grap en is ’n skuldige plesiertjie wat my by die terugdink nog laat glimlag.

Lien Botha se “Die bliksem in die blou hemp” laat ’n mens regop sit, so onverwags is dié verslag van ’n aanranding en erger wat ’n mens daaraan herinner hoe gou jou veilige wêreldjie ’n hel kan word. In ’n sin is dit die verhaal wat die verste uitstaan, want dit is geen verbeeldingsvlug, herinnering of anekdote nie. Dit stamp jou eerder in die gewelddadige potensiaal van ons hedendaagse lewens in.

Peter Veldsman se vertelling is letterlik smaakvol. Dis ’n reis deur geure en smake en krisis. Dis interessant om so ’n intensiteit van koservarings in ’n paar bladsye bymekaar te kry. Daar is genoeg daarvan om ’n langer werk te regverdig.

In “Tupelo honey” skryf Anton Goosen hoe hy vir die spreekwoordelike koeël gekoes het toe ’n meisie vir hom as jongeling eenkant toe stoot ter wille van ’n mededingende vryer, want hy meen later sy was nie primagehalte vroumateriaal nie. Dis ’n verhaal om ’n mens by te bly, veral as jy dit omkeer en uit die vrou se oogpunt beskou. Sy het die sanger-verteller verstoot toe sy ’n wulpse jong vryer was, maar soek later as grootmens toenadering wat hy, wat nou bekend is, nie gaan gee nie, vermoedelik omdat sy groot van gestalte is en destyds al 16 in standerd ses was, en bloot omdat die tyd aangestap het. Vir hom eindig die verhaal met verligting, maar vir haar sekerlik met ontnugtering.

Elma Postma en Margot Luyt lewer kort maar fel opnames, Luyt met wrange herinnering, Postma met uiteindelike dankbaarheid vir haar lewe. En Karin Eloff skryf in ’n langer stuk oor hoe ’n babelaas nie met kind-oppas te versoen is nie.

Sophia van Taak vat suburban angst nie net raak nie, maar vas. Pieter Redelinghuys skryf oor ’n onwettige skietding en ’n drastiese plan. Toast Coetzer (oor die terugkeer skool toe na ’n naweek by die huis), Irna van Zyl (oor ’n voorlegging en raad wat ek hoop my sal bybly: “teenspoed is tydelik en beperk”), Ernst Grundling (uitstel en depressie), Johan van Zyl (’n PA se psigose), Marida Fitzpatrick (Hestertjie wat kostelik maar hartverskeurend transformeer), Piet Steyn (oor ’n skoolhoof se blou Maandag) en ander doen ook hulle ding met die vaardigheid wat met hulle vereenselwig word, soos ook die samesteller, Kerneels Breytenbach, oor ’n Natalse draai as jong joernalis.

’n Mens moet Breytenbach as samesteller krediet gee vir sy werkywer. Sy aftrede as boeke-administreerder strek gewis tot ons leesvoordeel.

Die boek toon dat ’n leser nie uitsluitlik vermaaklikheids- óf literêre voorkeure hoef te hê nie. ’n Mens kan meng en pas. Bydraes soos onder meer Bredenhann, Retief-Meiring, Wasserman, Coetzer, Botha en selfs Maas s’n het vir my baie meriete daaraan en staan hulle plekke vol langs die ander stukke, waarvan sommige gewilder sal wees. Hulle bied vir my duidelike en verskillende beelde van Afrikaans-wees. Daar is plek vir ons almal in die son.

Dis ’n bundel vir langs die bed hou saam met Kombuis se outobiografieë en Meyer se speurverhale. Hou jy van Rachelle Greeff, Johan Bakkes, Marita van der Vyver of Dana Snyman (almal figure wat nie hier verteenwoordig word nie, maar tog in gees saam praat), gaan jy hier iets kry om weer en weer te lees.


Lees kortverhale uit Blou Maandag op LitNet: