Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Essays

Die Belydenis van Belhar se kwarteeufees


Mary Anne Plaatjies-Van Huffel - 2011-10-26

Op 26 September 2011 het die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) die aanvaarding van die Belydenis van Belhar herdenk. Die feesvieringe was gekenmerk deur ‘n diep nadenke oor die vormingsjare van die Belydenis, asook ’n oproep om die Belydenis konkreet in postapartheid-Suid-Afrika uit te leef. Aandag is onder andere gegee aan die aanvaarding, resepsie en aktualiteit van die Belydenis.

Die tema van die konferensie ter viering van die Belydenis van Belhar se kwarteeufees was “Ekonomiese geregtigheid en die Belhar Belydenis”. Swaargewigte soos emeritus professor in ekonomie, Stellenbosch Universiteit, Solomon Johannes (Sampie) Terreblanche, professor Christina Landman , UNISA, en meneer Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse Cosatu-leier, het ‘n wye verskeidenheid onderwerpe ingelei.

Die Belydenis van Belhar, opgestel in 1982 deur die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (NGSK), het sy wortels in die stryd teen apartheid in Suid-Afrika. Die internasionale ekumeniese beweging, die Wêreld Bond van Gereformeerde Kerke, se historiese besluit oor apartheid in Augustus 1982, asook die besluite van die Wêreldraad van Kerke oor rassisme, het ’n groot rol gespeel in die uiteindelike besluit van die NGSK tydens hulle Sinode in September 1982 om ’n status confessionis te verklaar en uiteindelik ’n konsepbelydenis te aanvaar. Die Sinode het onder andere verklaar dat apartheid (afsonderlike ontwikkeling) ’n sonde is en dat die morele en teologiese regverdiging daarvan ’n bespotting van die evangelie en ’n teologiese kettery is. Die Belydenis van Belhar is nie (stel die begeleidende brief dit duidelik) gemik op spesifieke mense of kerke nie, maar is teen ’n valse leer, teen ’n ideologiese verdraaiing wat om die evangelie gedreig het.

Uiteindelik, op 26 September 1986, het die NGSK ná ’n lang kerkregtelike proses die Belydenis van Belhar as deel van hul belydenisgrondslag aanvaar. Die Belhar Belydenis was ‘n konfessionele reaksie op die apartheidsbeleid. Die konferensie het dus die publieke rol van die kerk gedurende die apartheidstryd belig.

Met groot dankbaarheid is gedurende die feesvieringe ook kennis geneem van die resepsieproses van die Belhar Belydenis. Belhar word wêreldwyd deur kerke gebruik om etlike sosiaal-etiese kwessies in hul eie kontekste aan te spreek. Talryke kerke het gevolglik die afgelope kwarteeu die Belhar Belydenis bestudeer en uiteindelik aanvaar, naamlik, die Evangeliese Gereformeerde Kerk in Afrika (EGKA) in Namibië (1997), die Verenigde Protestantse Kerk in België (1998), die Iglesia Reformada Dominican (2000) en die Reformed Church in America (RCA) (2010). Die Christian Reformed Church in America sal in 2012 die insluiting van die Belydenis Belhar finaal tot stemming bring.

Die besluit van die NGK Algemene Sinode 2011 maak deel uit van hierdie resepsieproses en plaas die verhouding met die NGK en die VGKSA op ’n nuwe koers:

Die Algemene Sinode besluit om die Belydenis van Belhar op kerkordelike wyse deel van die NG Kerk se belydenisgrondslag te maak en dra dit aan die Moderamen op om die nodige kerkordelike prosesse hiervoor in werking te stel. Met die besluit is ’n begin gemaak om saam die pad van versoening en geregtigheid te loop.

Die feesvieringe was egter ook ’n proses van selfondersoek. Ons leef immers in ’n heel ander wêreld as in die middel-tagtigs. Gedurende die stryd teen apartheid, in die afwesigheid van politieke partye, het die kerke, asook siviele organisasies,  ’n kwasipolitieke openbare rol vertolk. Die VGKSA was veral uitgedaag met betrekking tot die feit dat die kerk in postapartheid-Suid-Afrika van die publieke toneel verdwyn het. Op 26 September 2011 het die klem, in dieselfde gebou waar die Belhar Belydenis destyds aanvaar is, geval op die betekenis van die Belydenis van Belhar en ekonomiese geregtigheid in postapartheid-Suid-Afrika. Kennis was onder andere geneem van die sogenaamde elite-kompromie wat gedurende 1990 tot 1993 tydens ’n reeks onderhandelinge tussen die regerende Nasionale Party, die African National Congress en ’n wye verskeidenheid ander politieke organisasies bereik is en wat tot vandag toe verreikende gevolge vir ekonomiese geregtigheid en die herverdeling van rykdom in Suid-Afrika het. Die huidige ekonomiese stelsel in Suid-Afrika bevoordeel enkeles ten koste van die res van die bevolking. Daar was toe verder besin oor watter soort ekonomiese beleid Suid-Afrika dan wel nodig het om die skade van die ekonomiese nalatenskap van apartheid te herstel. ’n Kritiese analise van die huidige ekonomiese beleid in Suid-Afrika is gedoen. Aandag is ook op die konferensie gegee aan die gebrek aan dienslewering in Suid-Afrika, diep vlakke van armoede, werkloosheid en ekonomiese ongelykheid in die land, die onderwysstelsel, die eskalasie van geweld, korrupsie, die opkomende klas van swart miljoenêrs, die diskoers oor die nasionalisering van goudmyne, grondhervorming, basiese-inkomste-toelaag, welvaartsbelasting en die historiese feit dat talryke aanbevelings van die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) tot op hede nog nie geïmplementeer is nie. Die groot en groeiende gaping tussen ryk en arm in postapartheid-Suid-Afrika is een van die ontstellende nalatenskappe van die verlede wat nie deur die demokratiese proses noodwendig verminder is nie. Dit situasie in postapartheid-Suid-Afrika is moreel verwerplik, was dit duidelik op die konferensie gestel.

Meer as enigiets anders het die feesvieringe talryk in die VGKSA diep onder die indruk gebring dat ons nie altyd duidelik genoeg getuig het teen die onreg en ongeregtigheid in postapartheid-Suid-Afrika nie. Die VGKSA was op geroep om te pleit vir ware versoening tussen mense ongeag ras of geslag of geloof of kultuur, om mee te werk aan die radikale verandering van houdings en samelewingsstrukture, en om altyd gereed te wees om rekenskap te gee van die hoop wat in hulle is.

Prof Dirkie Smit het die VGKSA onder andere uitgedaag om hul roeping ten opsigte van die belydenis met vrees en sagmoedigheid uit te leef (1 Petrus 3:15-16):

Onthou u wonderlike roeping, onthou die genade wat u ontvang het, onthou wie u is – en moenie moed opgee nie. Inteendeel, wees altyd gereed om rekenskap te gee vir die hoop wat in julle is, maar doen dit met sagmoedigheid en vrees.

Meer as ooit het die VGKSA diep onder die indruk gekom dat ons so teenoor ons naaste, die armes, noodlydendes in postapartheid-Suid-Afrika, ja selfs teenoor die rykes, behoort op te tree dat ons nie die inhoud van ons eie belydenis nie sal verraai nie.