Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Vat ’n gap boei, inspireer en vat raak


Alette de Beer - 2011-10-26

Vat ’n gap
Jana du Plessis
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624052739
Prys: R139.95

Klik hier en koop Vat ’n gap nou van Kalahari.net!

 

“Ek is Jaz Coetzee en ek doen fashion.” Jana du Plessis het met haar debuut ’n eietydse, prontuit storie geskep wat veral sal praat met jongerige meisies wat hou van chick flicks, ontwerpersklere, cocktails, nagklubs en lang, aantreklike mans. Nes die karakters is die boek mooi verpak met ’n sjiek omslag wat smeek om saam met ’n Gucci-sonbril en Accessorize-bikini op Clifton se strand te gaan beenwys.

Margaretha Jasmyn aka “Jaz” Coetzee is ’n prototipiese chick lit-protagonis: ’n egosentriese, wêreldwyse, 21-jarige antiheldin. ’n Fashionista met die voorkoms, die geld, die mode-ontwerpgraad agter die blad en die wye wêreld voor haar. Ons leer haar ken aan die begin van haar gap-jaar in Londen, waar sy van plan is om die modebedryf op sy kop te keer met haar talent en styl, die glansryke naglewe van Londen te verken, haar gesin en die verlede agter te laat, en “haarself totaal en al te verloor” (7).

Uit die staanspoor blyk dit egter dat alles nie pluis is agter Jaz se koel en selfversekerde skerm nie. Haar onlangs-geskeide ma en pa trek tou vir haar aandag met geld en geskenke, wat sy sonder skroom (en sonder werklike dankbaarheid of liefde) aanvaar. Sy en haar ma het ’n koue, katterige verhouding wat beter by ’n tienerdogter en ma sou pas, haar pa is afwesig behalwe in haar bankbalans, en daar is iets in Suid-Afrika en haar verlede waarvan sy met alle mag wil wegkom en vergeet, iets te make met haar beste vriendin Jess, aan wie sy probeer om nie te dink nie.

Soos die tipiese glamour-queen-op-hoërskool is Jaz se persoonlikheid tegelyk bitter irriterend en onweerstaanbaar aantreklik. Jy wil jou oë rol vir hoe oppervlakkig en selfsugtig sy is en sit reg vir wanneer sy onvermydelik vanaf haar stiletto’s moet aarde toe kom. Maar wanneer sy, Bridget Jones-styl, haarself oorgee aan sigarette en wyn, haar vasloop teen ’n preutse huismaat, katterige kollegas, onregverdige terugslae of selfs haar eie swak besluite en vinnige humeur, voel ’n mens onwillekeurig empatie. Soos die uitdagings van die regte lewe in Londen geleidelik haar diva-streke en politoerlaag afskil, word Jaz ook meer mens en iemand van wie mens kan hou.

Sy vind uit dat sy eintlik maar niemand is in die groot onpersoonlike wêreldstad nie. Haar briljante ontwerpportefeulje en Vogue-klerekas bring haar niks nader aan haar droomwerk nie, en waar mans gewoonlik aan haar voete is, kry sy hier skielik koue skouers of onverwagte moeilikheid wanneer sy wel haar geoefende flirtasies uithaal. 

Wanneer Pa Coetsee se geld skielik opdroog en sy haar inkopiesakke en manikure vir ’n kelnerin-voorskoot en hope vuil skottelgoed in ’n pub moet verruil, begin Jaz wonder: “Is die gras groener in Engeland? Hier waar niemand haar verstaan en vir haar omgee nie?” Sy bly egter glo haar “big break” gaan kom, maar “die probleem met big breaks is dat hulle nie gebeur wanneer jy dit die nodigste het nie” (85).

Dis egter juis wanneer sy rock bottom tref dat Jaz ’n draaipunt bereik. Nie ’n dramatiese ommekeer nie, maar ’n geleidelike proses van groei, terugval en skaaf waarin sy stuk-stuk haar spoke konfronteer, verbaas word deur hoop, vriendskap en menslikheid waar sy dit die minste verwag, en haar mure behoedsaam laat begin sak om nuwe vriende in te laat: die koekige, dweperige Annika met haar naïewe opregtheid, die moffie Frank met sy liefde vir wyn, mooi mans, opera en wilde kuieraande, die skaam tienjarige rooikop Lily vir wie Jaz oppas om haar huur te betaal, en natuurlik Brendan, die sexy nuwe huismaat wat onverklaarbaar nie ’n saak het met haar gewoonlik onfeilbare attensies en “Jazness” nie (119).

Karakterisering van plekke en mense is puik. Die verhaal word ingekleur met Frank se kleurvolle Kaapse Vlakte/queen-Afrikaans, Jaz se taal wat tussen Sandton-snob, platvloers en meisiemooi wissel, en Annika se preutse dweperigheid, die suikerlagie bo-op haar meer opregte omgee.

Die omgewing word effektief ingespan om gebeure te onderstreep, soos die “patetiese golwe” en flou son op Brighton se strand (150) ná Jaz die skokkende nuus kry dat haar pa se tweede vrou oorlede is. So is Jaz se “outfit van die maand” aan die begin van elke hoofstuk (een vir elke maand van die jaar) ook beskrywend van haar persoonlikheid asook haar groei en die stand van haar binnewêreld. Op haar laagtepunt in April (78) slof sy in nagklere rond; in Julie speel sy op die rand van ’n afgrond en haar uitrusting is verleidelik en gevaarlik uitdagend met minirompe en laehalstoppies (138).

Plek-plek raak die dialoog ’n bietjie melodramaties en daar is ’n paar geykte uitdrukkings en vals note, soos in ’n regte televisiesepie. So raak die byname Blommetjie en Bytjie tussen Frank en Jaz net een te veel en die über-cool Jaz wat haar ma ewe outyds Moeder noem (en nie op ’n speelse, liefdevolle manier nie) pla effens. So ook die klein kringetjie waarbinne die verhaal veral aan die begin afspeel. Soos in Oppikoffi in 7de Laan lyk dit asof die Slug & Lettuce die enigste kuier- en werkplek in die ganse Londen is, amper asof daar letterlik nie ’n begroting vir meer akteurs of ’n groter stel was nie.

Dan is daar ook die talle verwysings na eers Jaz en later haar ma se vreeslike “jet lag” ná ’n Suid-Afrika-Londen-vlug. Siende dat die tydsverskil tussen Suid-Afrika en Londen een, of hoogstens twee, ure is, voel dit ’n bietjie oordrewe.

Die gronde vir kritiek is egter min; gesien binne die raamwerk van die genre en as ’n debuut is dit baie geslaagd, ’n lekker boek vir vakansie-ontspanning wat tog iets om die lyf het. Die psige en karakterontwikkeling van Jaz wat as jong vrou en as “Saffa” in Londen haar voete moet vind, is die lokus van ’n hedendaagse verhaal wat wyer strek en universele menslike kwessies soos emigrasie, stereotipes en oordeel, dood en egskeiding, werkloosheid, drome, liefde, vriendskap en geloof omvat.

Dis ’n storielyn wat raakvat, boei en inspireer. Die alchemie in Vat ’n gap gebeur daar waar drome (verwagtinge, vooropgestelde idees en selfs stereotipes) en die werklikheid kop teen kop bots. Daar is pyn en verlies, maar ook groei, versoening en die ontdek van vriendskappe en innerlike sterkte op onverwagte plekke.