Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Helse manier van koebaai sê: Die finale Rooi Luiperd stel nie teleur nie


Madri Victor - 2011-10-26

Helse manier van koebaai sê
Francois Bloemhof
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798155878
Prys: R162.95

Klik hier en koop Helse manier van koebaai sê nou van Kalahari.net!

 

James Bond. Sinoniem met ver, eksotiese plekke, vinnige motors, mooi meisies en gedugte teenstanders. Die wêreld van ’n MI5-agent bestaan uit spanning, avontuur, lewensgevaarlike opdragte en baie glitz and glamour. Suid-Afrika se weergawe van James Bond, agent Mark Steyn, oftewel die Rooi Luiperd, het pas sy finale kniebuiging gemaak. Hy is aanvanklik deur Francois Bloemhof geskep as huldeblyk aan Ian Flemming vir dié se 100ste verjaardagherdenking. In 2008 maak Mark Steyn sy eerste verskyning in Rooi Luiperd. Daarna volg Afspraak in Venesië (2009) en Die Genesis-faktor (2010). Telkens word hy deur Die Fabriek (Suid-Afrika se weergawe van MI5) op ’n lewensgevaarlike sending gestuur. Aanvanklik moes hy teen sy beste vriend meeding om die “Rooi Luiperd”-titel en die rooi klaring, oftewel licence to kill, wat daarmee saamgaan. Daarna word hy, in Afspraak in Venesië, na Venesië gestuur, waar hy saam met die mooie Lana Dubois die raaiselagtige dood van ’n Suid-Afrikaner in ’n bomontploffing, enkele dae nadat die man se vrou en kind as vermis aangegee word, moet ondersoek. In Die Genesis-faktor is die ruimte minder eksoties: Mark en Lana neem hulle intrek op ’n Swartlandse plaas, waar die Kinders van Genesis klaarblyklik vir meer as net die verkondiging van die Woord verantwoordelik is. Wát is niemand egter seker nie, en daar is geen bewyse van dié groep se misdade nie. Nou is die laaste boek in die Rooi Luiperd-reeks op die rakke: Helse manier van koebaai sê.

Uiteindelik kom agent Mark Steyn tot sy reg as volwaardige James Bond: hy het die weelderige woonplek met al wat ’n gadget is, hy ry die nuutste en spoggerigste Mercedes op die mark, en van Lana wil hy niks weet nie. Na hulle baie kort romanse in Venesië (só ’n romantiese stad vra immers vir ’n liefdestoneel) voorspel sy vir hom net moeilikheid en ’n gebrek aan konsentrasie – daar is genoeg ander meisies met wie hy hom kan vermaak. Steyn kom ook teen sy mees gedugte teenstander nóg te staan: die Skerpioen, of Schorpioen, een van die gevaarlikste huurmoordenaars op die internasionale toneel. Die Skerpioen het pas ’n aanslag op die baas van Die Fabriek, Clive Sharp, se lewe probeer en die kenmerkende groet “Houdoe” in Sharp se oor gefluister. Sharp roep sy beste agente, Steyn en Dubois, in vir ’n sensitiewe opdrag: hulle moet hóm beskerm. Maar dit word vinnig duidelik dat hier veel meer op die spel is, en lojaliteite verdag. Die Skerpioen weet op onverklaarbare wyse van elke skuif van Steyn en bly hom een voor. Boonop sit Lana met ’n probleem wat nie net haar loopbaan nie, maar ook haar wankelrige verhouding met Mark in sy glorie kan stuur.

Met Helse manier van koebaai sê word die spanning reeds op die voorblad geskep: dit sê immers duidelik dat ons Mark Steyn “groet”. Die openingstoneel het ten doel om die leser te wys presies watter gedugte teenstander die Skerpioen is. En Bloemhof smokkel goed met die leser se kop deur juis Clive Sharp die “kliënt” te maak. Vanaf Afspraak in Venesië en daarna in Die Genesis-faktor is die spanning tussen Steyn en Sharp slim opgebou. Dit is duidelik dat Steyn en Sharp nie veel respek vir mekaar het nie. Clive Sharp is ’n man wat kry wat hy wil hê en dit nie kan verduur dat sy onderdane, soos hy aan hulle dink, hom nie respekteer nie. Hy beskou homself as die poppemeester, die een wat altyd in beheer is. Nou is hy afhanklik van Steyn se leiding en beskerming.

Die ruimtes waarteen die verhaal afspeel, wissel tussen Sandbaai, ’n piepklein kusdorpie, en Kaapstad. Bloemhof gebruik bekende bakens en teken telkens die ruimte só lewensgetrou dat die wêreld van Steyn en Dubois jou van meet af intrek. Die gebeure in Helse manier van koebaai sê volg kort op mekaar, die tempo is vinnig. Die nuwe tegnologie (soos Steyn en Dubois se horlosies) word op ’n interessante manier gebruik en herinner dadelik aan vele Bond-verhale. Waar die eerste boek in die reeks nog herinner het aan ’n verhaal vir jong volwassenes, is Helse manier van koebaai sê pure Bond. Die Nederlandse Skerpioen met sy Indiese assistent bring die eksotiese dié keer na ons eie bodem. Ook hulle martelmaniere en “toor”-middels roep ver plekke op. Ek het wel ’n paar vrae rondom uitwerking van die middel wat Lana ingegee: die gebrek aan newe-effekte oortuig my nie, en die einde voel byna geforseerd gelukkig. Maar dit doen nie afbreuk aan die verhaallyn nie. En hierdie roman het immers ten doel om die leser te vermaak. Steyn is vir die eerste keer die interessante, veelvlakkige Bond-karakter wat die leser enduit geboei hou. Sy karakter is deur die reeks goed ontwikkel, met genoeg van sy persoonlike agtergrond om hom daardie donker, gevaarlike kant te gee. Lana, daarenteen, ontwikkel nie op dieselfde vlak nie, maar haar persoonlike dramas beïnvloed Steyn weer ten sterkste en sorg só vir die nodige emosionele diepte. Steyn en Dubois se interaksie laat jou dink aan die tango. Die leser is self nie seker of hierdie twee werklik goed vir mekaar kan wees nie. Kan ’n agent soos Mark Steyn die ernstige eggenoot raak? Waarskynlik nie. Boonop weet die leser wat met Lamla gebeur het. Getrou aan ’n Bond-verhaal staan dit die leser vry om teen die einde van die verhaal sy of haar eie afleidings te maak.

Voorin elke Rooi Luiperd-boek is bykans twee bladsye “menings van ander skrywendes” waarin Bloemhof se lof besing word. Dit mag dalk effens oordrewe voorkom, maar Bloemhof is ’n gesoute skrywer met etlike pryse agter die blad. Sy repertoire sluit volwasse sowel as tienerfiksie, verhoogstukke, radiodramas en vervolgverhale in. Hy is ook joernalis, resensent en kritikus. Só ’n skrywer se produktiwiteit stel vanself hoë standaarde; die leser verwag dat sy boeke – veral ’n James Bond-tipe boek, in Koos Kombuis se woorde “blerrie goeie entertainment” moet wees. Helse manier van koebaai sê stel nie teleur nie en Bloemhof-aanhangers sal definitief jammer wees om agent Mark Steyn te groet.