Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

NG Kerk getuie van Christus


Leopold Scholtz - 2011-10-26

Untitled Document

Die taak van die Christelike kerk, tot sy diepste kern gereduseer, is om ’n getuie vir Christus in die wêreld te wees. Nie noodwendig om sekulêre ideologieë, regerings of ander wêreldlike instansies te legitimeer – of te verdoem – nie, maar om oor sy geloof in die opgestane Jesus Christus te getuig.

Oor die inhoud en wyse van die getuienis verskaf die Bybel riglyne. Dit hou in ’n simbiotiese verbintenis tussen die vertikale element (die verhouding tussen God en mens) en die horisontale (die verhouding tussen mens en mens). Saam vorm die twee ’n kruis. ’n Kruis met net een van die twee bene is net so logies onmoontlik as om met slegs een hand te apploudisseer.

Die samevatting van die wet – om God bo alles lief te hê en jou naaste soos jouself – gee dit aan. So ook Paulus se vermaning dat die liefde die vervulling van die wet is.

Dit beteken dat ’n korrekte vertikale verhouding outomaties aanleiding gee tot ’n korrekte horisontale verhouding. Dit kom reeds tot uiting by verskeie Israelitiese profete, soos Jesaja en Miga, wat groot klem lê op die beskerming van die swakkes in die samelewing – “die weduwee en die wees”.

Die verhaal van Agab en Isébel en die wingerd van Nabot neem dit ’n stappie verder: ook die lede van die owerheid is onderhewig aan God se gebod om die swakkes nie te verdruk of uit te buit nie. En Jesus se gelykenis van die ryk mense wat nie die huweliksfees van die koning se seun wil bywoon nie, wat tot gevolg het dat die “plebs” by die stadpoorte na die fees uitgenooi word, gee aan dat aardse klas en stand nie vir God tel nie.

Die sendbrief van Jakobus is ’n logiese verdere stap: dit help nie om geloof te bely en terselfdertyd jou honger naaste nie te voed nie. Dít is ’n valse geloof.

Daarom sê Christus dan ook dat sy volgelinge geken sal word aan hul onderlinge naasteliefde, wat hulle van die sondige wêreld onderskei.

Om uitdrukking aan dié geloof te gee, het die kerk deur die eeue verskillende belydenisse opgestel. Die geloofsbelydenis van Nicea was die eerste, maar dit het gegaan oor die debat van die tyd, naamlik of Christus ’n goddelike en/of menslike aard had.

Daarna het verskeie ander geloofsbelydenisse gevolg, met inbegrip van die Drie Formuliere van Enigheid: die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls – waarop die reformatoriese tradisie berus. Almal is opgestel na aanleiding van nuwe omstandighede en nuwe vrae. Almal het gaan kyk wat die Bybel vir die (destyds) huidige tyd te sê het.

Dit het weer in 1934 gebeur met die Verklaring van Barmen, toe die kerk nóg ’n nuwe antwoord moes gee op ’n nuwe situasie, naamlik die goddelose totalitarisme van die Hitler-regime.

Die Belydenis van Belhar moet teen dieselfde agtergrond as al die vorige belydenisse en verklarings gesien word. Die kerk moes ’n antwoord, gegrond op die Bybel, soek op die teologie en praktyk van apartheid wat – ondanks aanvanklike goeie bedoelings – in die praktyk op onreg en diskriminasie neergekom het. Meer nog, die NG Kerk het in eie kring apartheid op grond van velkleur beoefen. Dit terwyl die ganse Christelike kerk deur al die eeue heen juis die teenoorgestelde bely en gepraktiseer het.

As die Belydenis van Belhar onnodig is, soos sommige sê, is al die vorige belydenisse en verklarings ook onnodig. As die dokument op ’n onbybelse bevrydingsteologie neerkom, soos sommige beweer, moet boeke soos Jesaja, Miga en Jakobus, en die Bergrede uit die Bybel geskrap word.

Deur die Belydenis van Belhar amptelik te aanvaar, wys die NG Kerk dat hy ’n getuie van Christus op aarde is. Die volgende logiese stap is die hereniging met die kerke met wie hy geen teologiese verskille het nie – die Verenigende Gereformeerde Kerk, die NGKA, die RCA, die Gereformeerde Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk. Dán is die smet van apartheid verwyder en kan dié Kerk die wêreld vierkant in die oë kyk!

Die kerk behoort nie aan die wittes of aan die Afrikaners nie. Dit behoort aan God. En as sodanig moet dit God meer gehoorsaam as die mense.