Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Deurbraak in die Belhar-besluit


Piet Naudé - 2011-10-26

Untitled Document

Ek was op pad tussen George en Port Elizabeth toe ek die sms van kollega Rheti van Niekerk kry dat die NGK se Algemene Sinode deurbraakbesluite oor kerkhereniging en Belhar geneem het. Ek is nie tans meer aktief betrokke by kerklike leierskap nie, en het nie die binnekringdebatte noukeurig gevolg nie.

Maar ek was onmiddellik bly en verlig oor die nuus.

Die rede hiervoor is dat ek nooit sinies oor die kerk of spesifiek die NGK was of kon word nie. Tydens ’n bespreking van my Belhar-monografie, Neither calendar nor clock,  in Bloemfontein het die gespreksleier uit Nederland gevra: “Hoe kan jy nog lidmaat van hierdie kerk bly?” My antwoord was: “Dis God se kerk, en Christus se Heerskap kan op die lang duur nooit gekeer word nie – al vat dit jare, en al gebeur dit deur skade en skande.”

Die besluit oor kerkhereniging is nie regtig nuut nie. Die NGK het in 1986 die draai weg van ’n rasgebaseerde ekklesiologie gemaak, en toe reeds ’n verbintenis tot sigbare kerkeenheid uitgespreek. Wat wel nuut is, is die dringendheid en duidelike praktiese riglyne hoe so ’n proses kerkregtelk moet geskied. Die daad word nou by die vroeëre woord gevoeg, en dit moes eintlik al lankal gebeur het.

Dis ’n uiters wyse en nugtere besluit wat wil keer teen verdere kerkskeuring (soos die APK) en teen moontlike onverkwiklike stryde agterna. Dit sal nou koelkopleierskap en goeie teologiese begeleiding verg om die pad deur gemeentes en ringe te loop terug na die Algemene Sinode.

Die eintlike deurbraak lê in die Belhar-besluit.

Vir baie ontleders en teoloë was die normatiewe Gereformeerde karakter van die NGK op die spel met Belhar. Ek en ander het met besonderheidsontledings aangetoon waarom die NGK in 1986 en die jare daarna nie konstruktief met Belhar kon omgaan nie: dis aanvanklik beskou as aanval op die NGK; die feit van ’n belydenis was as onnodig radikaal gesien; die ontstaansgeskiedenis het die motiewe van die NGSK verdag gemaak; en daar is lomp, maar onsuksesvolle, pogings aangewend om die inhoud van die belydenis te diskrediteer.

Maar die diepste redes vir die NGK se onbeholpe hantering van Belhar was teologies van aard: die NGK se teologiese rigting in die eerste helfte van die 20ste eeu is deur ’n spesifiek Suid-Afrikaanse vertolking van Abraham Kuyper se  neo-Calvinisme en die Skotse piëtisme van Andrew Murray bepaal. Die neiging was dus om vanuit die skepping en die pluriformiteitsbeginsel te dink eerder as vanuit die herskepping en die versoening in Christus. Die werklike posisie van Johannes Calvyn en die konfessionele impak van Karl Barth het eers in die vroeë 1970’s begin om stadig in die teologie van die NGK in te sypel. Laat ons nie vergeet dat van die heel eerste geskrifte oor ’n belydende kerk uit die pen van Beyers Naudé gevloei het nie, en die hoofstroom bereik het in die werk van die Stellenbosse dogmatikus Willie Jonker. 

Hierteenoor het die destydse NGSK hul Gereformeerde selfverstaan sterk vanuit Barth en Bonhoeffer en die ekumeniese teologie bedink. Belhar 1982 was die resultaat van ’n lang en moeisame tog om eenheid, versoening en geregtigheid vanuit die Bybel en die Gereformeerde tradisie tot belydenis te omvorm.

In hierdie sin was Belhar dus teologies gewoon te vroeg vir die NGK.

Ek is nie so seker dat die NKG se huidige besluit uit ’n diep teologiese verskuiwing spruit nie. Vyf-en-twintig jaar het ’n nuwe geslag gebring met minder emosionele en historiese bagasie. Die demokratiese oorgang in Suid-Afrika het lidmate al hoe meer gemaklik laat word in ’n multikulturele samelewing waar besluitnemingsbevoegdheid nie meer eksklusief by Afrikaners lê nie. En die proporsionele vermindering van die Gereformeerde aandeel aan Christene in Suid-Afrika speel waarskynlik ook ’n rol om liewer saam te staan as alleen.

Maar teologie staan mos nooit los van konteks nie. Wat nou nodig is, is herbesinning van die NGK se teologiese rigting. Menslik gesproke sal Belhar baie moeilik deur die NGK self aanvaar word, maar dat ons Belhar in ’n herenigde kerk sal ontmoet, staan nou ten minste vas.

Dis nooit te laat om te bely nie.