Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: Jack Parow se “Cooler as ekke” – ’n kritiese ontleding binne ’n sosiokulturele konteks: Paul Blom lewer kommentaar


Paul Blom - 2011-10-25

Paul Blom reageer op die artikel “Die banale as (rap-) identiteit: Jack Parow se ‘Cooler as ekke’” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Martina Viljoen.

Wanneer dit by musiek kom is die “gimmick” somtyds baie belangrik om jou van die res af te skei en die aandag dus op jou te vestig (al is dit net vir ’n kort genoeg tydperk om jou naam bekend te kry). Trends en styl in ’n globale Twitter- en Facebook-gemeenskap het uiters belangrik geword, en baie vind hul identiteit daarin, asook in musiek. ’n Kombinasie van die twee is dus logies. Wanneer ’n gimmick deel is van jou agtergrond en persoonlikheid, kan dit soveel makliker en oortuigend aan die publiek voorgelê word.

Platemaatskappye is dol oor iets wat nuut blyk (maar nie te vreemd is nie) en wat by ’n redelike of groot deel van die populasie aanklank kan vind. Hoe goedkoper dit aanmekaargesit kan word, hoe beter – minder uitgawes en ’n produk wat deur sosiale media "ge-hype" kan word.

Of Jack Parow se zef-styl so natuurlik is soos hy aandui, of ’n kreatiewe oortreffende trap van sy wortels is – dit is ook ’n gimmick wat hom van die groep verwyder en sy eie identiteit aan die publiek bied. Hy het al bekend gemaak dat hy van kleins af altyd van rap en hip-hop gehou het, so dis nie asof hy op die rap-bandwagon gespring het nie.

Ek stem saam met Viljoen se aantuiging: “Van belang vir my bespreking van Jack Parow se ‘Cooler as ekke’ is die idee dat hierdie liedjie ’n bepaalde beeld van eietydse Afrikanerskap skets waarin Afrikaner-verheerliking allermins aanwesig is, maar waarin die idee van die ‘viering’ van ’n Afrikaanse ‘zef’-identiteit sterk na vore kom. Ek wil dus nie beweer dat die liedjie Afrikanerskap as sodanig uitbeeld nie, maar dat dit wel ’n manifestasie van Afrikanerskap projekteer waarmee sekere Afrikaanssprekendes sterk mag identifiseer, terwyl dit by ander ewe sterk weerstand mag wek. Die oorheersing van die ‘zef’- Afrikaanse identiteit dui immers op ’n hipernormatiewe ‘waardeprojeksie’ in die liedjie.”

Campany se “Banaliteit”-verduideliking van “permanent limbo” en “obliterate the need for analysis” is ook vir my akkuraat.

Binne die Afrikaanse kultuur het die eensydige identiteit van die verlede oor die laaste paar dekades heelwat subgroepe, sosiale spatare en alternatiewe na vore gebring en van die ondergrond laat reis, en die dominante ligte popmusiek moes plek maak vir ander internasionale genres, insluitende metal en rap. Tot so ’n mate dat dié wat aan die ou dae wil vasklou, glo “hulle kultuur” word bedreig. Maar as mens na die radio luister, word hierdie alternatiewe nog steeds tot ’n mate onderdruk.

Binne ons konteks, watter een is nou juis die ware verteenwoordigende “kultuur”? Die oudste een? Die een wat die meeste publieke steun het? Die mees poëtiese en estetiese?

Almal is bevrees dat iemand se weerspieëling van ’n volksidentiteit nie ooreenstem met hoe hulle dit sien nie, en beledig voel. Kultuur is nie ’n eensydige entiteit waarin net sekere uitverkorenes kan deel nie. Die feit bly, wie is die alomvattende verteenwoordiger van een groep? Niemand kan die Afrikaanssprekende se “poster child” wees nie: FW de Klerk?  Eugene Terreblanche? Pieter Dirk Uys? Adam Small? Ruda Landman? Breyten Paulse? Zach Du Preez? Koos Kombuis? Emo Adams? Mimi Coertse? K.O.B.U.S.? Bok van Blerk? Karen Zoid? BJ Vorster? Rina Hugo? Riaan Cruywagen? Fokofpolisiekar? Johan Stemmett? Of dalk Jack Parow?

Elke land het sy zef-kulture, soos “trailer park”-bewoners in die VSA, of Britse “yobs” en “chavs”. Die banale streetwise karakter wat Jack Parow in “Cooler as ekke” weergee, is een wat baie Afrikaanssprekendes kan herken, maar hier is dit in ’n konteks waar dit gevier word, in plaas van op neergesien word.

Die instrinsieke humor van “Cooler as ekke” is ’n uitbundige en selfgerigte draakstekery binne ’n zef-kultuur-uitbeelding, presies die teenoorgestelde van die rap-wêreld se (teen hierdie tyd vervelige) grootpraat en spog met duur voertuie, juweliersware ens.

Elke kultuur het hulle “haves and have nots”. Ons weet natuurlik dat nie alle wit mense ryk is nie. Dié wat grootgeword het in ’n Afrikanerbuurt wat nie noodwendig so welaf is nie, se omgewing kan op hulle afdruk. Om met lirieke uit te beeld wat jy ken in ’n rap-konteks word die verwysings in ’n zef-situasie een wat die ekonomieseklasverskil uitbeeld, en die banaliteit en humor daarin sien.

Met zef-rap is die Amerikaanse hip-hop-kultuur van stedelike swart herkoms oorgeplant in die absoluut teenoorgestelde van ’n wit voorstedelike Afrikanerkonteks. Dit kan gesien word as ’n banale, absurde, humoristiese karakterskepping van iemand wat met hierdie tipe musiek grootgeword het, en besluit het om dit self te doen, maar vanuit hulle kulturele oogpunt. Dis moeilik om dit ernstig op te neem, so enige kritiese uitbarstings is onnodig en nutteloos. Of jy vang die grap, of jy vang hom nie. As die punch line verduidelik moet word en ’n hele kultuur se agtergrond uitgeskets moet word, voel dit soos ’n mors van tyd.

Maar, dit is die wonder van musiek – mense kan in ander dele van die wêreld Parow se musiek waardeer sonder om Afrikaans te verstaan.

Rap se grootpratery is afkomstig van ’n sielkundige sosio-ekonomiese omgewing van die “inner city”, enkelouerhuise, geen toekomsblik, min werk en min geld – om hierdie platgetrapte situasie om te swaai, word die rappers opgehewe in hul eie lirieke wanneer hulle alles opnoem wat as statussimbole gesien word (of hulle dit nou wel ná hulle platekontrak gekry het of nie ...) Die opbou van selfvertroue kan ook gereeld gebeur ten koste van ’n ander: deur jouself op te hemel deur opponente af te kraak. Die “banaliteit” van Parow se grootpratery is waar die humor lê. Die cliché van zef en die teenoorgestelde beeldweerspieëling sorg vir ’n blik daarop wat illustreer hoe belaglik sulke faksies kan wees.

Vooroordeel word baie maklik aangewend en iemand se karakter word dadelik gebrandmerk net deur hulle mode, voertuig of haarstyl te sien, sonder om bewus te wees van hul persoonlikheid, denke, politieke siening, opvoeding, geleerdheid, ens.

Daar's ’n tipe heimwee vir diegene wat in die 70’er- en 80’erjare grootgeword het, en al is dit nie iets wat jy noodwendig self ervaar het nie, voel dit soos ’n deel van jou lewe, jou verlede, ’n deel van die land se kultuur en geskiedenis – mense wat jy geken het of waarvan jy te hore gekom het.

Jonger generasies is ook gatvol vir die politieke misdrywe van die verlede (en hede!) en vind ontvlugting in musiek wat ’n fok-jou-houding het. Baie jong Afrikaanssprekendes voel verlore in die post-apartheid-Suid-Afrika, en wil ’n nuwe identiteit skep aangesien nie een van die voriges gewerk het nie. Zef se herontdekking is nou wel ’n herhaling van iets wat in die wit middelklasbuurte iets alledaags was (en nog is), maar maak nog ’n deur oop as ’n opsie.

Aangaande Afrikanernostalgie reflekteer Parow elemente wat amper alle Afrikaanssprekendes herken, en die posh-teenstryding lig dit nog meer uit. Vir baie is dit net nog ’n fad om aan vas te klou en te voel dat hulle aan iets behoort, waar ander half verlig is dat dít waarmee hulle grootgeword het, nou as cool beskou word en nie ’n skande waarvoor jy skaam hoef te wees nie.

Mense is mense, en sukses word gereeld gekoppel aan dít wat jy versamel. Parow se vrede maak met sy tekortkominge en die beste maak van die situasie en dit uitbeeld as meer geloofwaardig as die meer trendy style kan as ’n oorwinning gesien word vir hom en dié wat met hom identifiseer.

Die underdog moet ook partykeer sy plekkie in die son kry, en zef as kultuur is nog altyd afgekraak deur al die ander taal- en rassegroepe, asook binne die Afrikanerkultuur self, so dis amper die “ultimate underdog”. So om dit in die media- en vermaaklikheidskollig te kry, is ’n prestasie (ook grootliks te danke aan die internet en die Bellville Rock-beweging wat die area na vore gebring het). Hoewel, dit voel of zef meestal in die humoristiese weerspieëling daarvan gedoen kan word, en ek weet nie of temas in die musiekgenre soos braai, Klipdrift en Coke drink, en aan jou Ford Cortina se enjin werk ooit sosiale temas kan aanraak binne die kultuur van bloedskande, vroueslanery en ja, rassisme nie? Dit sal ’n bietjie die partytjie-element daarvan verwoes ...

Almal wil cool wees, aanvaar word en na opgekyk word. Ryk en arm, posh en zef. Realiteits- TV-sterre kry aanhangers bloot deurdat hul alledaagse lewens afgeneem word (en natuurlik opgespice word om meer kykers te trek).

Om cool te wees, is op alle bevolkingsgroepe se lys. Deesdae wil almal cool wees bloot deur gebore te word, sonder om enigiets noemenswaardig te bemag of uit te rig. En veral sedert die 1980’s se verbruikersontploffing word iemand se coolheid gemeet aan die brands en labels wat hulle dra of sekere trends wat hulle navolg. Radio-DJ’s, musikante, akteurs, hotelmagnate se kinders – almal moet hulle cool weerspieël waar hulle ook al mag wees. Doodgewoon is nie goed genoeg nie. So, as jy niks het nie, pronk daarmee.

Dit het ’n kulturele instelling geword om die beste te wees; as Afrikaners word dit veral in kulturele instellings soos sport gesien. ’n Dryfkrag om te presteer, is vir baie mense belangrik as bewys van hulle waarde. In die skooljare het dit veral ’n groot invloed.

Dis noodsaaklik om jou street cred-punte hoog te hou. ’n Maklike manier om dit te doen, is om die ander ou se nadele uit te lig.

Parow se karakter het nie baie geld (of hoofstroomstyl) nie, so hy spog met sy laerklasbates as ’n kenteken van sy “hardcore, keeping it real”-houding. En as Parow se populariteit sy bankrekening vir die res van sy lewe uitsort, gaan hy by sy zef-wortels bly, hom daarvan distansieer, ’n middeweg vind, of dit uitwys as die middel wat hom sukses laat behaal het?

Vermaak is ’n eindelose worsmasjien en is verplig om gedurig iets uit te stuur wat net ’n bietjie anders is (of ’n nuwe herinterpretasie van iets wat al honderd keer gedoen is). Is dit ’n beroep, ’n impuls, kunsskepping, of ’n geldmasjien? Madonna het haarself al telkemale herskep as ’n popkommoditeit – sal Parow dieselfde kan doen of is hy “zef to the bone”?

Die mensdom sien neer op dít wat anders is as wat hulle ken. Dié wat in ’n laer sosio-ekonomiese situasie grootword, wil dit gewoonlik ontsnap en enige bewyse daarvan verwoes, byvoorbeeld soos wat in reekse soos Agter elke man deel van die tema is. Maar, waarom dit nie omhels nie?

Zef is nog al die jare afgekraak, maar hier swaai Parow dit om deur sy opponent se mainstream-styl as “fake” publiek te maak. In “Cooler as ekke” word daar neergesien op styl en smaak, dit wat iemand dadelik in ’n spesifieke clique kan laat pas – en nie so ernstig soos rassisme of sekssisme nie.

Vir my kom dit daarop neer dat dit in die verlede ’n mate van rassegroepe was wat as “anders” beskou word, maar eintlik is daar ook heelwat verskille binne sekere groepe, en almal wat hul eie identiteit het, sal iets kan vind wat verskil van elk van die 6 biljoen mense op hierdie planeet. Daar is te veel van ons op hierdie draaiende klip en dis amper onmoontlik dat daar nie wrywing gaan wees nie. So as die verskille humoristies uitgebeeld word (al is dit met ’n paar vloeke ingesluit), is dit meer positief as wat die klaers dit sien. Iemand wat in die VSA Parow se video sien en dink dis alle Afrikaners, dink ook almal in Ierland lyk soos Leprechauns.

Parow se doel om almal saam te laat party kan wel gedoen word met diegene wat oop genoeg is om alle sye te kan waardeer – daar’s min kans dat alle tipes ewe skielik oor die weg sal kom. Ongelukkig is dit een van die mensdom se simptome – om gereeld jóú manier as die beste te sien.

’n Elite-houding wat een styl as beter of slegter sien, is uit die staanspoor korrup, en kan ongelukkig ook gesien word as verdeeldheid binne ’n reeds klein bevolkingsgroep. Die ironie is dat Parow hom ook daaraan skuldig maak, maar die humor daaragter skeld hom vry.

Die verskille tussen klassieke musiek of iets soos “Stoutgattreffers” is ooglopend, maar elke genre het sy mark en aanhangers, en om die meriete van die een teenoor die ander te stel, kan wel gedoen word, maar sal min verrig behalwe om diegene wat reeds aan die kant van hul keuse sit, sterker daaraan te skoei. Dit sal basies lei tot Parow se uitbeelding van twee uiteenlopende smake wat nooit mekaar sal vind nie. Dit is wat dit is en analise kan ’n mors van tyd wees.

Aangaande musiek-analise is reg en verkeerd nie die punt nie, en teoretiese toepassing van voorgeskrewe metodes en teorieë teenoor ’n ongeskoolde natuurlike uitdrukking deur klank is ongebalanseerd. Musiek val saam met ons gemoedstoestand, kan kalmerend wees, atmosfeer skep en sosiale en politieke aktivering, fisiese ontlading en emosie soos huil of lag uitbring. Parow se hoofdoel skyn te wees om sy gehoor te laat lag en ’n jol te laat hê.

Met musiek is daar nie een regte of verkeerde manier nie. Die gebruik van “samples”, leen en verwerking van bestaande materiaal is ’n manier van rekonstruksie (en somtyds blote luiheid), maar is ’n moderne metode wat nie noodwendig musikaliteit of talent verg nie, maar ’n doel dien.

Wat jou posisie ook al is, as jy gemaklik is in jou vel, maak dit nie veel saak nie. Bollywood-akteurs wat hulle as super-cool voordoen, kom byvoorbeeld gewoonlik voor as super-nerds, maar hulle is enorme sterre in hul kultuur. Alles is relatief tot jou omgewing. Soos die ou met die motorfiets in die 70’s wat in standerd agt skool verlaat het om tegniese kollege toe te gaan, dagga gerook het, ens. Maar, waar is hy nou en sou jy hom vandag bewonder, of selfs met hom kon kommunikeer?

Die “hip to be square”-styl is al baie aangewend en Huey Lewis & The News het selfs in die 80’s ’n liedjie daaroor geskryf. Om zef in die middel van sy geboorte as ’n styl te probeer bemark, sou nie werk nie. ’n Paar dekades is tussenin nodig vir ’n bietjie afstand om dit as iets nuuts en prettigs te kan waarneem, en om dit ’n meer mitiese fantasie-element te laat bykry. Parow se rol in die zef-ontploffing is net op die regte tyd.

Zef se groei in vermaak dui ook op “anything goes” in die industrie. Lady Gaga se belaglike uitrustings het niks met musiek te doen nie, maar laat almal praat en hou haar in die nuus. Parow se enorme pet dien geen doel nie, maar is sy kitskenmerk.

Die vraag is, hoe lank sal zef die aandag hou voor dit oorwaai, of is dit hier om te bly? En al sien diegene wat dit omhels dit as hul ware identiteit, as die media iets nuuts vind om aan vas te klou om die bevolking te prikkel, kan dit weer uit die pad gestoot word? Sal dit dan weer uncool wees om uncool te wees?

Met die meeste rap- en hip-hop-style is die musiek in hierdie genre van minder belang as die woorde “beat” en “tempo”. “Cooler as ekke” se kitaar “loop” herinner aan Beck en gee dit ’n “laid back groove” saam met die ritme wat Parow se karakter as cool reflekteer.
“Cooler as ekke” sal nie so goed werk in Engels nie, want dan sou baie van die verwysings verander moes word – of die protagonis en antagonis sou bloot omgeswaai word (?).

“Kru en gee aanstoot.” Rap-musiek is oor die algemeen aanvallend as sosiale kommentaar en die resep is nie geskep vir iemand wat gou beledig sal voel of geskok word nie, so daar kan nie van Parow verwag word om skurwe taal uit te los nie. Dis deel van sy (en baie van ons se) alledaagse lingo. In ons huidige dispensasie is daar nie eintlik meer iets wat kan skok nie. Alles is al gedoen.

Dis naïef om slegs een musikale styl of genre aan ’n sekere etniese of kulturele groep toe te skryf. Almal is geregtig daarop om na enige musiekstyl te luister, dit uit te voer of ’n splinternuwe genre te skep (bv. zef).

Met die rap-genre se basis wat grotendeels as ’n sosiale en politieke een begin het, het dit ongelukkig te veel die grootpraatrigting ingevaar. Die meeste rappers sê op die ou end dieselfde ding, en met Jack Parow is dit nie ’n nuwe ommeswaai hiervan nie, maar hy maak dit humoristies as dit in ’n konteks is wat jy kultureel herken of verstaan, en maak dit vir ’n Afrikaanssprekendes verfrissend om dit in hul eie taal te hoor. En vir ’n buitelander kan enigiets wat blatant onstylvol voorkom, voorgee dat dit potensiaal is vir humor.

Luisteraars wat Parow se musiek kan waardeer, is nie noodwendig self zef nie, maar mense wat hulle op ’n meer oop internasionale vlak in die wêreld vind en nie vasklou aan wat hulle glo hulle gaan verloor nie. Dis ook natuurlik ’n oorwinning en identiteitsontwaking vir mense wat wel so grootgeword het. Glo ultrakonserwatiewes wat dink dit verniel die Afrikanerkultuur, en dat Malan en Verwoerd die kultuur ’n voorreg aangedoen het? Nie almal kan met volkspele en die Afrikaanse digkuns identifiseer nie, en nie almal kan met hip-hop beats, nuwe tekkiestyle en iPhones inval nie. Ander voel weer vervreemd van al hierdie dinge. So, kies wat vir jou werk.

Zef se herontdekking en instelling as rap-gebaseerde musiekgenre is nie almal se koppie tee nie, maar verbreed die reeds oorversadigde industrie met nog ’n opsie. En dis ’n bonus as dit ’n partytjie-element het, jou kan laat lag, en ’n kultuur-identiteit uitlig wat al die jare as “kommin” of “agteraf” beskou is, en nie geïgnoreer kan word nie.

Wanneer dit kom by kritiek oor Parow wat hom as kru beskou en die mening huldig dat hy die Afrikaanse kultuur ’n onreg aandoen, moet ek bieg dat ek baie minder vertroue in iemand het wat agter ’n Bybel of ander “gelowige” boek wegkruip as iemand wat weier om hom te inhibeer. Jy weet ten minste meer waarvoor jy jou inlaat. Maar vir ander gelowiges (bv. gevalle soos Hansie) is die duiwel altyd ’n goeie verskoning.

Een liedjie van ’n kunstenaar is nie die totale omvatting van hulle identiteit en selfs persoonlikheid nie, en ’n “holier than thou attitude” van iemand soos Juanita wat nie die Onse Vader wil sing op ’n verhoog wat met Parow gedeel word nie, is pateties en ’n verleentheid. “Ordentlike” Afrikaners het ook maar geheimpies – soos daardie “ordentlike” Afrikanerheld Joost?

Diegene wat nie weet van Parow se selferkende zefheid nie, kan dit sien as ’n parodie op kultuur as geheel en beide kante van die liedjie se aanval en ophemeling waardeer. Want as ’n buitestander is dit belaglik hoe mense se klein verskille in snit, kleur, musieksmaak, buurt en haarstyl so ’n groot issue kan wees, in so ’n mate dat dit tot “vyandige” faksies ingedeel word.

Met die “politiek van verskil” word Parow se kontraste komies uitgedruk waar dit basies iets is wat mens sou dink irrelevant is in alledaagse sisteme wat die wêreld laat draai – maar as die zef en posh ou vir ’n job interview gaan, en albei dieselfde CV het, watter een gaan dit kry?


<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<