Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: Jack Parow se “Cooler as ekke” – ’n kritiese ontleding binne ’n sosiokulturele konteks: Arthur Hall lewer kommentaar


Arthur Hall - 2011-10-25

Arthur Hall reageer op die artikel “Die banale as (rap-) identiteit: Jack Parow se ‘Cooler as ekke’” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Martina Viljoen.

Martina Viljoen se artikel laat inderdaad vele stof tot nadenke. Met my mees onlangse navorsing wat oor identiteit handel, beoog ek om in hierdie bespreking primêr die vrae oor identiteit, die hedendaagse Afrikaner-identiteit, aan die hand van Parow se lirieke te beantwoord.

Eerstens gaan ek probeer spekuleer of Jack Parow rêrig so ’n vars briesie is as wat algemeen gemeen word. Tweedens wil ek die ou bespiegeling van noordelike en suidelike Afrikaners herondersoek aan die hand van die beweging wat Parow as deel van gesien kan word, en met inagneming van die mediadebatte wat hy ontlok het. Laastens wil ek spekuleer oor die toestand van die hedendaagse Afrikaner-identiteit deur alles wat vooraf gegaan het as vertrekpunt te gebruik.

Waar begin mens met Jack Parow? Kom ons plaas hom van die begin af binne ’n bepaalde beweging. Eerstens is daar die geografiese element, en dis verseker vas in die Wes-Kaap. Parow kan geëien word as deel van die breë musiekskat uit Bellville en werk ook gereeld saam met hierdie kunstenaars. Ek sluit hierby in Fokofpolisiekar, Van Coke Kartel, Die Heuwels Fantasties, Lukraakkitaar, Aking en Jack Parow self. Hierdie groepe se style bevat elemente van aanvallende kritiek op die samelewing waarin hulle bestaan en in my opinie kan hulle inslag as anarchistiese surrealisme beskryf word. Stel dit so: hulle maak beslis nie bubblegum-pop-rympies nie.

Kan Jack Parow rêrig as die “kultusfiguur” beskou word? Aan die hand van sy musikale produk dink ek nie so nie. Binne die sogenaamde “Bellville-beweging” ook nie. En verseker ook nie as kulturele bastion binne die herdefiniëring van Afrikaner-identiteit nie. Ten eerste is daar nie iets wat Parow oombliklik uniek maak nie. Hy gebruik bestaande mites oor wat dit is om zef te wees. Skaapvel oor die sitplekke en nagemaakte gras was al zef was in die dae toe my pa ’n jong man was. O ja, en moenie die lemoentjie op die kar se lugdraad vergeet nie. Hy verpak dit egter op ’n manier wat dit aanloklik maak vir baie mense en lok ook gesprek uit. Hy maak ook sterk staat op zef-mites uit Amerika, byvoorbeeld die “pirate of the caravan [trailer] park”. Parow is beslis nie besig met “hibriede transmutasies” in sy werk nie. Persoonlik dink ek hy dien meer as ’n zef-uitlaatklep wat elke Afrikaner maar het en net nog nooit individueel wou erken het  nie. Die vraag wat egter by my opkom, is of Parow zef beskou as onderliggend aan die verbruikers- en partytjiekultuur wat saam met globalisme gepaard gaan. Kom ons vergelyk drie lirieke waarby Parow betrokke is, naamlik, “Die Vraagstuk” (saam met Die Heuwels Fantasties), “Cooler as ekke” en “A tale of three cities” (saam met Bittereinder en Tumi Molekane). In die eerste twee kletsrym Parow oor wat hy soek en gebruik. Wat hy dra, doen, eet en drink. Met die derde een wil dit vir my voorkom asof hy bietjie gesukkel het om uiting te gee aan sy eie identiteit in dieselfde styl as Bittereinder en Tumi Molekane, asook op die manier of op die tema as wat die ander groepe in die “Bellville-beweging” dit doen. Sonder ’n verbruikers- en partytjieaanslag lyk dit of Parow uitdrukking moeilik vind.

Alhoewel ek nou wyd bespiegel, is dit vir my interessant om te sien hoe baie van die felste kritiek in die media teenoor Parow kom van (Afrikaner-) mense wat in die noorde van die land woon (van die Vrystaat af noord). Histories is dit natuurlik die blyplek van die groot groepe dwarstrekkers onder die Afrikaners (en ek sluit myself daarby in). Ek dink ook mens kan die noorde sien as die tuisbasis van die, soos Anton Goosen dit noem, “entertainer-aanhangers” onder die Afrikaners. Viljoen se artikel noem onder andere Kurt Darren en Steve Hofmeyr se musiekvideo’s, wat nie so goed doen op YouTube as Parow s’n nie. Ek reken dis juis so ’n voorbeeld wat hierdie geografiese onderskeid bewerkstellig. Daar blyk ’n meer globale benadering en reaksie of ten minste blootstelling onder Kaapse Afrikaners te wees as onder dié in die noordelike provinsies. Of ten minste lyk dit of (Amerikaanse) globalisme ’n ander uitwerking op elkeen van dié groepe het. Die suide kan in die breë gesien word as die teelaarde van meer skeppende en (durf ek dit sê) meer oorspronklike musiek en musiekbewegings. Dus kan die suide ook beskou word as die algemene tuiste van wat Anton Goosen “kunstenaars” noem. Maar daar moet ook in ag geneem word dat te oordeel aan verkope, “entertainers” veel beter doen as “kunstenaars”. Ek wil hierdie deel van my bydrae afsluit deur die volgende te vra: Kan daar ’n onderskeid getref word tussen Parow se zef en noordelike zef en is noordelike zef nie dalk meer oorspronklik nie, in die sin dat dit blykbaar anders beïnvloed word deur globalisme?

Eers ’n paar opmerkings oor Viljoen se teoretiese raamwerk, wat by my punte hier bo asook by my mening oor hedendaagse Afrikaners sal aansluit. Suid-Afrika is geen uitsondering met betrekking tot die kultureel kritiese kontekstualisering nie, soos deur Muller en Cook aangevoer. Dat Suid-Afrika egter uniek is, is nie te betwyfel nie. Ek dink daar sou amper meer nut daarin wees om verskillende kultuurgroepe binne die land musikaal te oorweeg, en slegs daarna die effek van die internasionale mark op hulle besonderse style te oorweeg. Dan eers kan daar gekyk word hoe hulle mekaar beïnvloed en wat die effek dan spesifiek van Eurosentriese invloede op Afrikaanse musiek is. Kan ons egter nie maar van die begin af bepaal dat Afrikaanse musiek ’n mate van Eurosentrisme gaan bevat nie? Dis nou nog voordat globale kommersiële tendense in ag geneem word. Dit sluit tog meer gepas, en minder geforseerd, aan by die post-moderne waarneming dat musiek nooit neutraal is nie, “... en dat dit, in hierdie tyd, op komplekse wyses sosiaal en kultureel bemiddel word”.

Maar hoe word Afrikaner-identiteit vandag deur al bogenoemde beïnvloed? Eenvoudig gestel, is Afrikaner-identiteit dalk in vandag se tyd besig met ’n herontdekking, waar party aspekte van die breë verlede agtergelaat word en ander nuwe betekenis kry. En tog bly identiteit van kritiese belang. Of dit nou Baumeister (1985) is wat dit tot ’n sielkundige model met komponente verklaar het, of Grodin en Lindlof (1996:3) wat identiteit beskou as kern tot menslike gedrag. Identiteit is die sleutel tot menslike sosiale bestaan.

Weereens dink ek ons sit met twee groepe binne ons gesamentlike Afrikanerskap. Eerstens is daar die geslag wat in hul tienerjare was vanaf die middel tot die einde van die Grensoorlog, om en by die tydperk 1978-1989. Die meeste van hierdie geslag is dus ook op een of ander manier deur die oorlog beïnvloed – op ’n direkte of indirekte manier. In die huidige politieke dispensasie is dit ook hierdie geslag Afrikaners wat dikwels die skuld kry vir die verlede. Hierdie groep is tans besig met ’n terugskouing oor hulle lewe tot dusver, met vrae soos “Wat beteken my opvoeding vir my vandag?”, “Was dit en dat verkeerd?”, “Wat het ons aangevang?”, “Hoe het ons so hard baklei en tog so maklik boedel oorgegee?” en “Wat gaan van my kinders word in die land waarvoor ek my bloed en sweet gegee het?”. Jy hoef net boekwinkels se rakke dop te hou om tekens van hierdie terugskouings raak te sien.

Dan is daar die groep waaronder ek self sal val. Dié wat ná die einde van die Grensoorlog gebore is en nog die oorgang na die “nuwe” Suid-Afrika kan onthou. Dis hierdie geslag wat die aanvanklike dryfveer agter MK op DSTV was. MK, as produk, sê egter ook baie van hierdie geslag. Omdat hulle die kinders is van ’n geslag wat nou so intens met sy verlede worstel, kan dit moontlik wees dat daar nie so ’n sterk identiteitsoordrag is nie. En dit is presies in hierdie situasie wat (Amerikaanse) globalisme weer sy lelike kop uitsteek. Barney Simon vra nou die dag wat van die oorspronlike MTV geword het. Daar is vandag bitter min musiekvideo’s en meer realiteitsreekse op MTV, volgens Simon. En wat het vandag se MK gedoen? Hulle het eenvoudig dieselfde proses gevat en op hulself toegepas, net baie vinniger.  Die resultate van swak kulturele oordrag kan gesien word in baie van die programme op MK. Neem byvoorbeeld JIP. Die aanbieder, Natalie Roos, is so daarop ingestel op soos ’n celebrity op te tree dat sy geforseerd en nagemaak voorkom. Om nie eers te praat van haar ingesteldheid om tog ’n sin Engels tussendeur te praat nie (met so ’n aangeplakte aksent). Kyk, ek kan verstaan dat Engels en Afrikaans mekaar gaan beïnvloed en ek het nie ’n probleem daarmee as daar hier en daar ’n Engelse woord in Afrikaans gebruik word nie. Maar dít wat MK en spesifiek Roos doen, kom vir my eenvoudig vertraag voor. Waarvandaan kom hierdie “vertraagheid”? Myns insiens is dit ’n jonger geslag wat geen of bitter min konkrete kulturele leiding van hulle ouer geslag kry of gekry het. Kellner (1995:220) waarsku dat identiteit volledige sosiale konstruksies is en nie afsonderlik van kulturele meganismes kan funksioneer nie. Dit is hier waar die stand van die huidige geslag identiteitsproduseerders die gevaarligte laat flikker. Of dit nou Jack Parow is, of bloot die gemiddelde 16- tot 30-jarige Afrikaner – sonder die kulturele aanwysing van die ouers is die identiteit en kultuur op pad om te sneuwel.


<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<