Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Die man wat so eerlik was


Pienkes du Plessis - 2011-10-25

Meneer Daniël Graabe se eerlikheid is onomstootlik te bewys uit die volgende feite:

Dit was sewe minute voor twaalf die Saterdagoggend toe hy ontdek dat daar ’n duisend pond uit die brandkas gesteel is.

“Dit was ’n fout om nie vanoggend die geld te gaan bank het nie,” sê hy vir sy seun Christo. “Ek sal Maandag ’n opdrag uitreik dat alle departemente voortaan op Saterdae ’n halfuur vroeër hulle inbetalings by jou maak.”

Daarmee het meneer Daniël Graabe die brandkasdeur toegedruk en die polisie gaan bel. Daar was by hom geen twyfel nie dat daar nêrens ’n administratiewe fout was nie, en daarom was sy antwoord aan die speurder later ietwat koel.

“In die Graabe-onderneming word sulke foute nie gemaak nie, Sersant. Indien dit wel gemaak word, word sorgvuldige aandag aan die probleem geskenk. As ons vind dat dit gewyt kan word aan ’n gebrek aan dissipline by een of meer werknemers, bring dit ’n verandering in ons personeelopset mee.”

“U is dus vas oortuig daarvan dat die geld nie slegs tydelik vermis word nie?”

“In die Graabe-onderneming word geld nie tydelik vermis nie, Sersant. Ek het u dit reeds gesê.”

Daarop het meneer Graabe omgedraai en na sy kantoor toe gegaan.

Alhoewel hy die ongelukkige voorval verwens het, het dit nie veel aan hom geskeel dat daar ’n duisend pond minder in die brandkas was nie, want alle gelde wat hanteer word, is ten volle verseker. Maar die dáád op sigself is ’n besliste vals noot in die administrasie van sy firma se geldsake. Te meer nog omdat daar nou onder die werknemers van die Graabe-onderneming ’n misdadiger is. So iets doen afbreuk aan die onderlinge vertroue wat heers, en dit word uiteindelik gereflekteer op die inkomstestaat aan die einde van die jaar. Daarom was dit vir meneer Graabe op daardie nat Saterdagoggend van besondere belang dat die dief onmiddellik gevang en gestraf moet word.

Terwyl meneer Graabe se seun Christo dus uitvoerig aan die speurder verduidelik hoekom dit op daardie dag nie moontlik was om betyds die geld te gaan bank het nie, het meneer Daniël Graabe koel-berekenend elke moontlikheid oordink om sodoende self vas te stel wie die skuldige was.

Dit was natuurlik uiters jammer dat die diefstal juis moet gebeur het op ’n Saterdagoggend wanneer sy seun in beheer van die rekenmeesterskantoor is, maar ’n seun moet ook heel vroeg in sy lewe kennis maak met elke moontlike krisis in die sakewêreld. Hierdie krisis is ’n buitengewone krisis, en Christo kan slegs baat vind daarby. Meneer Graabe is dan ook op daardie oomblik dankbaar dat hy bloot per toeval om sewe minute voor twaalf die brandkas oopgesluit het om die skuldbriewe in die Collins-boedel na te gaan. Anders sou hy eers die Maandag die diefstal ontdek het, en dan sou dit baie moeiliker gewees het om die dief vas te trek. Nou kan hy ’n baie korter lys name van moontlike skuldiges opstel – in der waarheid net vyf persone.

Die vyf name kry hy almal uit die bywoningsregister wat Miek Hamman, die deurwagter, op sy lessenaar kom neerlê. Vir die soveelste keer is meneer Graabe oortuig dat ’n bywoningsregister ’n baie doeltreffende metode is om die bewegings van personeel te kontroleer. Om elfuur op ’n Saterdagmôre gaan die meeste lede van die Graabe-onderneming se personeel huis toe, en hy kan baie goed onthou dat Christo die geld om vyf minute óór elf in die brandkluis gaan toesluit het, want hy moet deur sy kantoor gestap het om by die brandkas in die kantoor langsaan te kom. Hy merk dan ook in Miek se register dat almal die gebou verlaat het tussen elfuur en ongeveer tien oor elf.

Almal behalwe die vyf persone wat Saterdae werk tot halfeen.

“Dankie Miek.” Hy wag tot die klein figuurtjie van Hamman by die deur uit is voordat hy weer sy aandag aan die lys name voor hom begin gee. Na een minuut krap hy twee dood: dié van Miek Hamman en juffrou Arends, sy sekretaresse. Miek Hamman kom nooit in die sentrale kantoor nie, en boonop kon hy nooit geweet het dat daar ’n duisend pond in note in die brandkas sou wees nie. Juffrou Arends moes deur sy kantoor gestap het as sy die geld wou gaan neem. Sy kon dus nie, want sy het die hele oggend in haar kantoortjie langs syne sit en tik.

Meneer Graabe sit nog vyf minute. Toe trek hy Alfred Cutting se naam ook dood. Cutting was besig met ’n onderhoud vanaf iets voor elf tot ten minste vyf-en-twintig voor twaalf. En vanaf vyf-en-twintig minute voor twaalf af kon Cutting dit ook nie gedoen het nie, want hy het onmiddellik daarna by hom oor die samesprekings kom verslag doen. En toe is hy na sy eie kantoor toe.

Dit laat dus twee name. Die eerste naam is dié van Kleinboet Hamman, Miek se kleinboet, een van daardie knap seuns wat mens tog soms uit die skole kry – negentien jaar oud, ’n vriendelike jongman, altyd gretig om iets nuuts te leer. Hy was die hele tyd naby die brandkas, en dit sou vir hom baie maklik gewees het om die sleutels uit die rekenmeesterskantoor te kry en die brandkas oop te sluit.

Maar meneer Graabe weet dit is nie Kleinboet Hamman nie. Hy wéét dit sommer, sonder dat iemand dit vir hom moet bewys. Is hy dan nie Miek Hamman se klein broertjie nie? En het Miek Hamman dan nie sy boewebestaan net so gelos om hierdie boetie op te pas en groot te maak nie?

Miek die Butcher.

Meneer Graabe onthou nog baie goed hoe ontsteld hy was die dag toe hy uitvind dat Miek Hamman uit die tronk gekom het pas voor hy by die Graabe-onderneming kom werk het. Miek die Butcher het hulle hom genoem.

“Ontslaan, Meneer?”

Meneer Graabe onthou weer die heesheid in Miek se stem, en ook toe hy kug, sien hy weer die hand wat soek-soek na die seuntjie s’n langs hom. Miskien daarom dat meneer Graabe vir die eerste keer in jare nie logies en beredeneerd gehandel het nie. Hy het selfs effens gestamel toe hy vir Miek Hamman sê: “Goed, jy ... kan bly.”

En Miek Haman het gebly en vir Kleinboet Hamman grootgemaak dat hy eendag “reg” kan loop en “nie soos ek word nie, Meneer”. Meneer Graabe het dan ook vir Kleinboet in sy personeel verwelkom toe hy deur matriek is, meer as ’n jaar gelede.

Dit is dus nie Kleinboet Hamman nie. Dit laat nog net een naam: Christo, sy eie seun.

En vir die eerste keer in sy lewe vloek meneer Graabe hardop in sy kantoor. Die klein gek! Noudat hy wéét wat hy om sewe minute oor twaalf net vermoed het, is dit maklik om die hele prentjie te voltooi. Die klein gek! Hy vermoed lankal dat sy seun geldmoeilikhede het. Eenkeer selfs gehoor dat Christo gereeld perdewedrenne toe gaan.

Hy vloek weer ’n keer sag. Toe staan hy op en stap na sy seun se kantoor toe.

“Verskoon my, Sersant,” sê hy vir die speurder, “ek moet my seun net vir ’n oomblik dringend spreek.”

Hy en sy seun neem regoor mekaar plaas en kyk na mekaar. “Waar is die geld?” vra meneer Graabe.

“Onder in my kabinet.” Die jong man se stem kraak en sy oë kyk grond toe.

“Jou klein gek,” sê meneer Graabe. Die seun bly stil en nou soek sy oë na die deur.
“Gaan terug na die speurder toe,” sê meneer Graabe verder, “en hou vol met jou verklaring. Dis te laat om nou die diefstal te erken.”

As die deur toegaan agter die jong man, neem meneer Graabe die loper uit sy laai, stap af na die kleedkamers toe, en sluit sy seun se kabinet oop. Hy neem die geld onder in die kabinet, sluit Kleinboet Hamman se kabinet oop, sit die geld daarin en sluit weer die kabinet toe.

Toe stap hy terug na sy kantoor toe. Buite die kleedkamer in die gang loop hy vas teen Miek Hamman. Die deurwagter kyk hom verbaas aan, want dis uiters selde dat meneer Graabe ooit in die personeel se kleedkamers kom. Hulle sê egter niks vir mekaar nie en elkeen stap verder.

Vyftien minute later sluit die speurder Kleinboet Hamman se kabinet oop en haal die geld uit.

“Die klein gek,” sê die polisieman by die speurder.

“Hy het tog nie gedink hy gaan hiermee wegkom nie, die klein gek,” voeg die speurder by. Toe sit hulle die boeie om Kleinboet se polse en laai hom agter in die polisiemotor.

“Het jy dan nie geweet nie, ou maatjie, misdaad betaal nie?” sê die polisieman vir Kleinboet Hamman toe hulle ry en in die Saterdagmiddagverkeer wegraak. Die speurder en een polisieman bly agter om vir die vingerafdrukdeskundiges te wag.

Maar intussen pluk Miek Hamman meneer Daniël Graabe se deur oop en stap tot voor sy baas. Hulle kyk na mekaar en elkeen weet wat die ander weet.

“Dis jy!” sê Miek.

“Bewys dit,” sê meneer Graabe.

“Jou hond,” sê Miek. “As jy nie regmaak wat jy gedoen het nie, vrek jy.”

Maar meneer Graabe sê ongesteurd: “Jy verwag tog nie dat ek my seun se loopbaan moet opoffer ter wille van jou broertjie nie?”

“Maak reg wat jy gedoen het of jy vrek,” herhaal Miek en hy tree nader.

Toe vererg meneer Graabe hom vir sy deurwagter en sê: “Mens kan sien jy en jou broer bly maar lede van die deurwagtersklas.”

Toe storm Miek die Butcher.

Dit was bloot per geluk dat die een polisieman wat agtergebly het, op daardie oomblik die kantoor binnegekom het. Met sy dienspistool op Miek gerig het hy uiteindelik meneer Graabe bevry, alhoewel meneer Graabe teen daardie tyd al heelwat beserings opgedoen het, veral aan sy nek en sy gesig. Toe hy kon regop staan, sê hy vir die polisieman hulle kan vir Miek Hamman ook toesluit, want hy het gesien hoe Kleinboet Hamman vir Miek die pakkie geld gee om in sy kabinet toe te sluit. Dit was juis hieroor dat Miek hom gedreig en so wreed aangerand het.

As gevolg van hierdie nuus kom die ander polisiemanne weer terug na die Graabe-onderneming se kantoor toe. Hierdie keer sit hulle die boeie om Miek die Butcher se polse en neem hom ook weg. Hulle het later sy vingerafdrukke ook op Kleinboet Hamman se kabinet gekry.

Toe almal weg is, neem meneer Graabe sy aktetas en begin huis toe stap, soos elke werksdag van sy lewe vir twintig jaar al, deur die Kompanjiestuin, oor Oranje, dan nog drie blokke verderaan in Rheedestraat by die klooster verby tot by sy huis met die swaar ysterhek, ’n allenige groot huis van lank gelede.

Daardie middag toe wen die perd waarop Christo Graabe wou gewed het, met drie lengtes. Dit was glo ’n buiteperd en hy sou duisende ponde gemaak het.

Al hierdie dinge het gebeur op daardie nat Saterdagoggend. Tien jaar gelede. In Juniemaand.

’n Maand daarna het hulle vir Miek die Butcher gevonnis tot tien jaar in die tronk. Die landdros het gesê Miek is ’n gevaarlike man en moet op ’n veilige plek gehou word, veral ook in die lig van sy vorige veroordelings wat nog uit sy straatvegterstyd dateer.

Vir Kleinboet Hamman het hulle weggestuur na ’n plek toe waar hulle seuns heen stuur wat geld uit brandkaste steel. Toe hy eendag saam met ’n paar van hierdie seuns probeer wegloop, vang hulle hom en stuur hom na ’n plek toe waar hulle seuns heen stuur wat bewaarders met messe aanhou en oor die kop slaan.

Toe hy hier uitkom, vat hy ’n baksteen en gooi die horlosiewinkel se venster stukkend. Maar hulle vang hom en stuur hom na ’n plek toe waar hulle diewe en inbrekers heen stuur.

Toe hy hier uitkom, bind hy ’n sakdoek oor sy gesig, druk ’n rewolwer in ’n bankklerk se gesig en vat al die geld wat in die laai was. Maar hierdie keer vang hulle hom nie. Hy doen dit ’n paar keer, maar eendag pluk ’n bankklerk self ’n rewolwer uit en skiet na hom. Hy sou Kleinboet waarskynlik doodgeskiet het as Kleinboet nie teruggeskiet het nie. En omdat die bankklerk hom deur die been geskiet het, vang hulle hom nog voordat hy by die motor kon kom waarin sy maters was. Maar die bankklerk is toe nie dood nie en Kleinboet word gestuur na ’n plek toe waar hulle mense heen stuur wat na ander mense met rewolwers skiet.

Op hierdie manier het Kleinboet geleer dat jy eerste moet skiet en nie moet wag tot iemand ’n rewolwer uit die laai pluk om jou te skiet nie. Dis toe hoekom hy ’n paar jaar later, toe hulle hom weer laat loop, nie eers gewag het dat die bankklerk ’n rewolwer uit die laai pluk nie. Hy skiet toe sommer dadelik die klerk deur die skouer en hardloop weg met die geld. Daarna doen hy dit nog ’n paar keer en hardloop elke keer weg met die geld.

Maar eendag toe skiet hy te laag en die bankklerk gaan dood.

Toe vang hulle hom en hang hom op.

Al hierdie dinge hoor Miek die Butcher waar hy in die tronk sit en wag dat die tien jaar moet verbygaan. En in die aande as hy gaan slaap, dan knyp hy sy oë styf toe, want hy voel daar is nattigheid in sy oë en hy wil nie hê dit moet uitloop nie. Eenkeer ruk sy lyf ook soos hy keer dat hy nie dalk moet huil nie, maar dit sou gelukkig nie saak gemaak het nie, want in die tronk kry jy soms een van dié wat toegesluit is wat sommer net huil, al weet hy nie eers waaroor nie. Maar Miek weet dat sy lyf geruk het oor Kleinboet. En oor Daniël Graabe. En hoe hy moet vrek.

Mens kan baie dink in tien jaar.

Maar meneer Daniël Graabe het in die tien jaar ook baie gedink. Dit doen hy veral saans in sy allenige groot huis in Rheedestraat, en as hy dan na die klooster se klokke luister. Hy lees in die koerante wat Kleinboet Hamman alles doen en hy dink dat Kleinboet in elk geval tog vroeër of later ’n misdadiger sou geword het. Maar dis tog jammer hulle het hom opgehang. Die inrigtings en tronke het miskien net sy ware kleure openbaar. Hy haal dus sy skouers op en bepaal hom met groter ywer by die Graabe-onderneming se sake.

Meneer Graabe sou waarskynlik mettertyd van Kleinboet Hamman vergeet het as hy nie op ’n dag ná Kleinboet se dood ’n slordige briefie in die posbus van sy groot huis in Rheedestraat gekry het nie, sy allenige huis van lank gelede.

“Miek sê as hy uitkom, vrek jy, Graabe, want jy is ’n hond,” het in die briefie gestaan.

Meneer Graabe het die saak oordink en besluit dat een van Miek se tronkvriende wat pas uit die tronk gekom het, waarskynlik die briefie geskryf het. Hy het dus die briefie opgefrommel en met die minagting wat dit verdien, in die snippermandjie gegooi, want daar was baie ander belangrike sake waaraan hy sy aandag en energie moet spandeer het. So was daar die Graabe-onderneming se sake wat jaar na jaar groter en groter geword het. En so was daar ook Christo se ongedissiplineerde lewe en sy teleurstellende prestasies in die Graabe-onderneming wat hom ten diepste gegrief het.

Pas na die brandkas-episode het hy Christo ’n staat laat opstel van al sy uitstaande skulde en dit toe persoonlik gaan betaal. Hy het sy seun ook laat belowe om enige geldelike probleem wat hy mag hê, onmiddellik met hom te kom bespreek. Meneer Graabe het ook vir sy seun alle moontlike hulp en bystand beloof, wat hy dan ook by verskeie geleenthede die afgelope jare ten uitvoering moet gebring het. Hierdie optredes het nie verhoed dat Christo verskeie kere gered moet word nie, maar dit het tog waarskynlik verhoed dat hy weer ’n erge sotheid aanvang.

Maar daardie aand nadat hy die briefie ontvang het, dink hy weer ongemaklik oor die woorde na. Dit laat hom tog kriewelrig voel, want hy onthou toe van die vorige keer toe Miek dieselfde woorde vir hom gesê het, die dag toe die polisie vir Kleinboet gaan toesluit het. Toe hy die lig afskakel, moet hy sy oë styf toeknyp, want die maan wat deur die venster skyn, lyk soos Miek die Butcher se gesig. Daarom was dit diep in die nanag voordat hy aan die slaap raak.

Die volgende dag het hy begin navraag doen oor Miek se lewe, en ’n speuragentskap aangesê om elke brokkie inligting oor Miek in die hande te kry.

Twee weke later het meneer Graabe ’n hele lêer gehad met uitvoerige besonderhede van Miek se lewe. Hy sit die lêer in sy aktetas en vat dit saam huis toe, stap deur die Kompanjiestuin, oor Oranje en dan in Rheede regs, by die klooster verby. Daardie aand begin hy rustig daaruit lees. Toe hy halfpad is, staan hy op en gaan skink vir hom ’n drankie. Dis toe dat hy opmerk dat sy hande liggies bewe. Maar hy slaan die drankie weg en lees verder. Toe hy klaar is, maak hy die lêer stadig toe, gaan bêre dit en skink vir hom nog ’n drankie. Sy hande bewe toe nog meer, sien hy, en hy mors selfs van die whisky op die kabinet, die eerste keer dat so iets met hom gebeur. Maar dit was ook die eerste keer in sy lewe dat hy presies uitgevind het wie Miek die Butcher was.

Want het Miek dan nie in die vorige oorlog Italianers en Duitsers in die nag agter die linies gaan slag nie? En is dit nie hy wat in Viareggio se appelboorde met ’n oopspringmes tussen sy tande rondgesluip het en offisiere tussen die wagte gaan uithaal het nie? En wat op vyf treë ’n appel met ’n mes middeldeur kon kloof nie? In die sirkus geleer, in die buiteland, Hongarye of iewers. Niemand beter of vinniger nie, staan dit in die lêer.

Of wat van die keer toe hy drie dae lank in die slikwaters van ’n moeras iewers in Frankryk gelê het terwyl die Duitsers met bajonette in die vlak water na hom gesteek-soek het? Van dié tyd af dat hy mos die hoesie het. Dit het glo sy bors so aangetas dat die dokters hom huis toe gestuur het voor die oorlog nog tot ’n einde gekom het. En toe hy terug is? Is dit nie algemene kennis dat hy Sam Timms se Teddy Boys een-een in Woodstock se straatjies gevang en met sy oopspringmes aan die boarms gemerk het nadat hulle hom op ‘n aand uit ’n soldatekroeg naby die stasie gesmyt het omdat hulle gesê het hy het van die oorlog af weggehol oor hy bang was nie?

Daar word ook gesê dat hy daar in die beginjare van die oorlog twee keer in die tronk was – een keer voor die oorlog toe hy ’n soldaat by die trappe van ’n hawekroeg afgesmyt het, en later toe hulle hom vang met ’n vyfpondnoot wat ’n Spanjaard iewers in ’n kamertjie in die Bo-Kaap op ’n handmasjien gedruk het. Maar om een of ander rede het niemand ooit teen hom getuig nie. Mense sê dis sy oopspringmes wat hy soms so in sy hande gerol het wat mense laat besluit het om maar liewer nie in die hof te getuig nie.

Dis mos hoekom hulle hom Miek die Butcher genoem het.

Dit was eers later, toe al die soldate van die oorlog af terug is en die Kaap op sy kop gedraai word dat Miek en die hawepolisie se paaie begin kruis het. Drie keer vang hulle hom vir oproerigheid en vir aanranding met die doel om opsetlik te beseer, en twee keer is hy tronk toe. En toe ’n derde keer ’n verdere jaar plus nog opgeskorte tydperke. ’n Gevaarlike straatboef, het die landdros beslis.

Maar toe hy die laaste keer uit die tronk kom, sê hulle vir hom sy ma is siek en hy moet na haar toe gaan. Dis toe hy by die huis in Vasco kom dat hy die kind kry wat by sy ma se bed sit. Kleinboet was sy naam.

“Hoekom huil jy?” vra Miek vir hom.

“Sy’s dood,” sê die kind en huil verder. Miek kyk vir die vrou.

“Ma,” sê hy, “ek is jammer.” Maar die vrou hoor hom nie, want sy is dood.

“Ma,” sê hy weer, “Ek het vir Ma die stukkie rokgoed gebring. Hierso Ma”, en hy sit die stuk lap wat hy by ’n basaar gekoop het, op die bed by haar voete neer. Maar die vrou kan dit nie sien nie, want sy is dood. Sy lê met verdriet op haar gesig. Die kind sien die verdriet en draai sy gesig na Miek toe.

Toe sien Miek dat die kind en sy ma se verdriet dieselfde verdriet is. Oor hom, Miek die Butcher. Hy vat toe die kind saam met hom en gaan bly in ‘n kamer iewers. Twee weke later begin hy by die Graabe-onderneming werk.

Al hierdie dinge lees meneer Graabe in die lêer wat die agentskap vir hom gestuur het. Hy sit nog lank stil. Toe staan hy op en gaan maak self al die deure en vensters in die huis toe. Hy dink ook baie vernuftig verder en trek die gordyne ook toe, sodat hy nie die maan moet sien nie, want die maan se gesig lyk weer soos Miek die Butcher s’n.

Toe hy gaan lê, bewe hy.

Want meneer Graabe weet dat as Miek nie die eerste keer daarin slaag om hom dood te maak nie, hy ’n tweede keer sal probeer, en ’n derde. ’n Vierde. Maar eendag sal hy slaag.

In die maande wat kom, kry meneer Graabe egter stadig weer beheer oor homself. Hy besluit dat alhoewel Miek ’n gedugte opponent is, hy nog nie vir hom, Daniël Graabe, as vyand gehad het nie. En sover as wat meneer Graabe kan onthou, was daar selde ’n probleem waarvoor hy nie ’n oplossing gehad het nie. Daar is niks, besluit hy ook, wat jy nie met logika kan aftakel tot klein stukkies antwoorde nie. Miek die Butcher en sy oopspringmes is nie verhewe bo logika nie en hy kan ook so afgetakel word.

So begin hy dus sistematies na die antwoorde op die probleem soek. Mettertyd begin hy antwoorde vind. Die plaaslike Kommissaris van Polisie is ook besonder simpatiek oor die hele saak en hy blaai met aandag deur die lêer. Toe meneer Graabe die volgende dag ’n stewige vyfsyfer-skenking aan die polisie se Weduwee-en-Wese Trustfonds maak, bel die Kommissaris hom terug en bedank hom hartlik. Daar heers ’n goeie verstandhouding tussen hulle.

Toe hy dus weer een aand na werk in die posbus by sy allenige huis in Rheedestraat met die swaar ysterhek ’n briefie kry wat sê dat Miek sê sy tyd is nou naby, net drie maande nog, en dat hy ’n hond is wat gaan vrek, toe was meneer Graabe nogal verbaas dat hy nie weer so ontsteld soos met die eerste briefie was nie. Hy frommel nie weer die briefie op en gooi dit weg nie. Hierdie keer bêre hy dit sorgvuldig in die lêer van die speuragentskap, want hy gaan dit later nodig kry.

Toe hy gaan slaap, skuif hy die gordyne oop en kyk goed na die maan om te sien of Miek se gesig daaruit gryns. Maar die maan is net ’n gewone maan, sonder Miek daarin. Hy slaap ook die hele nag deur en staan versterk op toe die son weer skyn.

Dis in hierdie maande, dus, dat meneer Graabe as beginpunt besluit dat Miek met sy eerste aanslag gevang moet word. Daarna wag ’n verdere vyftien jaar in ’n tronksel vir hom. Lank genoeg vir die hoes in sy dun lyfie om sy werk te doen. Gevangenes word selde oud, hoor hy. Hy beredeneer sy plan logies, oorweeg elke stap rustig en metodies voordat hy tot die volgende stap oorgaan. Hy vind Miek ’n banale probleem, maar selfs so ’n banale probleem verg logiese besluite wat hy moet neem. Dis wat hy dan ook doen, want agter sy plan lê meer as dertig jaar se ondervinding as strateeg, van finansiële beplanning en bepeinsing. ’n Wêreld waarvan Miek die Butcher nie die vaagste benul kon hê nie.

Uit hierdie wêreld het hy nou sy plan geput om ontslae te raak van Miek die Butcher. Hy, Daniël Graabe, moet self die geleentheid vir Miek se aanslag bepaal. Én die tyd én die plek. As hierdie besluit aan Miek oorgelaat word, kan hy wat meneer Graabe is, nie daarop voorbereid wees nie. Dit was die kern van die saak: die tyd en die plek. Dít moet hy weet, en om dit te kan weet, moet hy dit self bepaal.

Hy moet soos Miek begin dink, self Miek wees. En as hy Miek is, is hy ’n straatvegter. ’n Straatvegter dink soos ’n straatvegter wat sy vyand in die straat aanval. As hy, Daniël Graabe, dan Miek se vyand is, beteken dit dat hy meneer Graabe in die straat sal aanval. Omdat meneer Graabe maar selde in die stad se strate kom, was dit eintlik sy eie daaglikse roete wat meneer Graabe se verbeelding aangegryp het, én wat hy geweet het Miek se verbeelding ook sou aangryp. Dis tog logies dat Miek hom op hierdie roete sal aanval.

Na al die jare begin hy vir die eerste keer sy roete ontleed. Hy stap dit sommige aande selfs twee keer, klim in Miek se lyf en kop in en soek die antwoord. Waar sal Miek gaan skuil? Wintersaande sewe-uur is dit reeds donker deur die Tuine, maar die beligting tussen die plante en teen die bome vir die honderde toeriste maak dit vir Miek heeltemal ongeskik. Verderaan, dus. Anderkant Oranje. By die digte verkeer verby.

Digby Rheedestraat kry hy dit. Die klein donker laninkie met aan die einde daarvan die ou Kwartiermeester-gebou wat onmiddellik op die straat uitloop. Vir ’n paar aande staan meneer Graabe lank en kyk na die beskutte bek van die gebou, die laagliggende dak oor die sypaadjie en die swak straatbeligting. Uit Miek se oogpunt kan hy selfs nog een van die gloeilampe in die oorhangdak verwyder, die verste een dalk. Dan word die halfdonkerte nog dieper.

Hier, het hy geweet, gaan Miek die Butcher hom aanval. En hier sou die sestal speurders vir Miek vastrap. Al wat nou nog oorbly, was om die saak met die plaaslike Kommissaris van die polisie te finaliseer. Dit doen hy dan ook die volgende dag, waartydens die Kommissaris hom van sy hartlike samewerking verseker. Die Kommissaris se siening is ook dat straatvegters met messe permanent uit die samelewing verwyder moet word. Hy sê ook hy het uitgevind misdadigers soos Miek word altyd op ’n Vrydag vrygelaat, die Vrydag voor sy vonnis verstryk. Hy en meneer Graabe stem ook saam dat meneer Graabe nie op die betrokke Vrydag of Saterdag kantoor toe sal gaan nie, maar eers weer die Maandag. Dit gee Miek ook kans om sy eie sake vir die Maandagaand te beplan.

Daardie aand toe meneer Graabe gaan slaap, toe kruip die maan weg agter groot swart wolke. “Ek is nie meer bekommerd nie,” sê meneer Graabe vir homself en raak aan die slaap. Van toe af slaap hy snags rustig, want hy weet nou presies wat die plek en die tyd van Miek se aanval is. Hy het dit self logies beplan.

Drie dae voordat Miek die Butcher uit die tronk sou kom, kom jong Christo Graabe die nag dronk van ’n partytjie af en jaag agter in ’n meubelwa vas. Hulle moes die stuk motor oopkap om hom uit te kry sodat hulle hom kon begrawe. Op ’n Donderdag was dit, die dag voor Miek se ontslag, ’n allenige begrafnis, al was die kerk vol. Die volgende dag bly meneer Graabe by die huis, ook die hele naweek, en as sy aande droewe aande word, dink hy dieselfde gedagtes oor en oor. Op die Sondagnag luister hy allenig as die klokke van die klooster die ure van die voornag aftel.

En soos die vorige nagte onthou hy weer al die dinge wat hy wou vergeet het. Van die jong vrou wat dood is voor sy hulle kind gesien het, van die bondeltjie mens wat saam met die verpleegster in die kinderkamer slaap, van die kind later wat in die nag soms huil oor hy alleen is, van die jong knaap wat vir sy skool se span op die vleuel speel, maar snags laat nog by uithangplekke in Seepunt rondlê. Of by dobbelplekke. Ook van die duisend pond uit die brandkas die Saterdagmôre.

Meneer Graabe maak sy oë toe.

Hy onthou ook van Kleinboet Hamman. Van Miek die Butcher. Maar bowenal van die woede in sy oë. Of kon dit verdriet wees? Die dag toe hulle Kleinboet weggevat het. Is dit hoekom Miek sê hy is ’n hond en hoekom ’n hond soos hy moet vrek.

Was Kleinboet dalk Miek se Christo?

Hy maak sy oë oop, maar vlak by sy venster dryf die volmaan waaruit Miek vir hom lag. Hy dink dus dis beter dat hy sy oë weer toeknyp, want buitendien is daar trane in meneer Graabe se oë en hy wil nie hê dit moet uitloop nie. Dit help egter niks nie.

“Ek is jammer,” fluister hy vir Miek die Butcher wat in die maan sit. Miek hoor hom nie, want hy hou aan met lag.

“Hoor jy nie, Miek, ek is jammer.”

Maar die maan bly net so grynsend soos tevore voor die venster hang. So kyk hulle die hele voornag vir mekaar.

In die nanag versit die maan en kom kyk na meneer Graabe deur die ander venster. Hy sien in sy gedagtes die donker laninkie, hoe hy aanstap tot voor by die oorhangdak en hoe hy dan tot stilstand kom as hy die hoesie en die klik van die oopspringmes hoor. En hoe die speurders dan vir Miek gryp.

Dis eers as die rooidag kom dat die maan padgee en dat meneer Graabe weet wat om te doen. Hy slaap ’n rustige uur voordat hy opstaan en werk toe gaan. Op sy pad kyk hy skaars na die oorhangdak in die laninkie.

Die hele dag werk hy hard, want daar is baie dinge om te reël. Hy bel ook die Kommissaris. Toe hy soos gewoonlik na sewe-uur huis toe stap, dink hy dat dit goed is dat hy nie die ses speurders van die polisie laat kom het nie. Hoe anders sal hy dan sy skuld aan Miek die Butcher betaal?

Voor by die ingang van die laninkie gaan hy staan. Hy is nie verbaas om te sien dat een van die ligte in die oorhangdak nou dood is nie, die verste een. Hy kyk na die halfdonker voor hom.

“Jou beurt, Miek,” sê hy saggies.

Toe haal hy diep asem en stap die donkerte in.