Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews

Kerneels Breytenbach oor die Afrikaanse Skrywersunie


Kerneels Breytenbach - 2011-10-24

Wat is die doel van die Afrikaanse Skrywersunie en hoe is hierdie organisasie verskillend van iets soos die Afrikaanse Skrywersvereniging?

Ons is nog net in die proses van belangstelling peil voordat ons formeel oorgaan tot die stigting van die Afrikaanse Skrywersunie. Daar is verskeie doelstellinge, onder meer die bevordering van die belange van die boek, die verkry van bedingingsmag vir skrywers, die stryd teen sensuur en teenstand teen die marginalisering van Afrikaans, veral op onderwysgebied. Mens sal eers by die stigtingsvergadering ’n beter idee kan kry oor die mate waarin dit van die Afrikaanse Skrywersvereniging sal verskil. Lede van die Skrywersvereniging is op die loodskomitee.
 

Wie mag deel word van die Afrikaanse Skrywersunie? Hoekom ’n Afrikaanse Skrywersunie en nie ’n Suid-Afrikaanse Skrywersunie nie?

Die organisasie wil, soos op ’n verkennende vergadering vroeër vanjaar op Stellenbosch geformuleer, op Afrikaans fokus en ’n stem aan Afrikaanse skrywers gee. Die organisasie moet Afrikaanse skrywers verenig, en enige skrywers in Afrikaans, asook resensente, akademici en uitgewers, is welkom om aan te sluit. Daar is reeds liggame vir Engelse skrywers, byvoorbeeld PEN.

Gaan hierdie ’n skrywersvakbond wees wat baklei vir skrywers se posisie as woordwerkers, of beoog julle om ’n meer politieke rol te speel?

Dit kan nie ’n vakbond wees soos die wetgewer die begrip verstaan nie, maar die gedagte is om almal wat doenig is met die skryf, vertaal, resenseer, analiseer, uitgee en verkoop van Afrikaanse boeke te betrek.

Lees nog oor die Afrikaanse Skrywersunie.