Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Artikels | Features

Gedigte in die Goudstad: Melville Poetry Festival


René Bohnen - 2011-10-21

Untitled Document

Op Saterdag 15 Oktober was gedigte in die Goudstad gratis. Veel liefliker nog: hulle was ook vry.

Plakkaat vir die uitstalling van Hans Pienaar se werk en Charl-Pierre Naudé se metafoorposse
Sypaadjieverse met hart en ritme

Die Melville Poetry Festival het afgeskop op die hoek van Sewende Straat en Vierde Laan. Op soek na parkering toe ek daar aankom, het luide gejuig en lewendige tromspel aangekondig dat die gees reeds hoog loop. Die strate is nie afgesper nie; motors en voetgangers het ewe gemoedelik en behendig die ruimte gedeel. Die sonnige weer het bygedra tot ’n atmosfeer van spontaneïteit en vrolikheid. Ek sien nie dikwels dat ’n gehoor handeklap en saamsing op hulle eie wysies om te harmonieer met gedigte nie. Maar in Mellies vandag gebeur dit: die digters word aangemoedig, toegejuig – daar is suiwer plesier in die lug.

Baniere hang kordaat tussen pilare, plakkate is teen winkelvensters geplak met die bekende wit plakbolletjies. Daar was ’n e-pos of vier, so twee of drie klein koerantberiggies, en voila, ’n poësiefees het materialiseer. Nie vreeslik groot nie, nie formeel nie, amper soos ’n flash-mob, het ongeveer 50 digters op uitnodiging opgedaag en begin lees en praat en selfs dans en sing.

Vir my was die aanbieding oor Wopko Jensma en sy werk beslis die hoogtepunt. Dit was byna soos ’n happening: een oomblik nog was die witgeverfde winkel leeg, ons wonder waar die lesinkie gaan wees, en die volgende oomblik word rooi stoele ingedra en ’n kleurryke skaretjie mense kom sit. Toe ek my oë uitvee, is daar net plek op die vloer oor en kaplaks is ek en my kamera heel voor op die sementvloer – ant’s-eye view op die sprekers en op die kuns teen die mure.

Gary Cummiskey hou ’n Jensma-bundel vas.
Johann Lodewyk Marais

Leti Kleyn het ’n volledige tydlyn van Jensma se lewe weergegee, aangevul met geprojekteerde beelde. Johann Lodewyk Marais het vrae uit die gehoor beantwoord en uiters sinvol aangesluit by Leti se aanbieding. Hulle is die gedugte navorsingspan wat geruime tyd nou al besig is met inligting versamel oor hierdie onderwaardeerde digter. Gary Cummiskey het ook vertel van sy ontmoeting met Jensma in 1991. Michael Gardiner het van die Engelse verse gelees. Sprekend van die maklike, spontane mixing wat Johannesburg kan bied, het een dame gevra of iemand nie ’n Afrikaanse Jensma-gedig kan lees nie. Sy verklaar toe dat sy dit nie sal kan verstaan nie, maar sy wil baie graag hoor hoe dit klink. Johann Lodewyk Marais, wat Jensma se werk so goed ken, kon dadelik aan hierdie versoek voldoen, tot ons almal se vreugde.

Roerende oomblikke duik soms onverwags op en dis presies wat gebeur het toe Colin Smuts, ’n persoonlike vriend van Jensma, onbeplan die gedig voorgelees het wat Wopko destyds vir hom geskryf het toe Colin se seun gebore is.

Hierna het die fees behoorlik momentum gekry en mens moes maar kies wat jy gaan bywoon en wat jy gaan misloop, want baie dinge het gelyktydig plaasgevind – ’n heerlikheid van wyn en woorde! Soos klein pop-up shops het boekwinkels en koffieplekke verander in teatertjies waar nuwe bundels vrygestel is (soos Gail Dendy se Closer than that) en verse voorgelees is.

Charl-Pierre Naudé

Daar was twee Afrikaanse sessies. In Melon Courtyard en later in die rebelse rooigeverfde Love and Revolution. Ek kon amper almal afneem, maar soms net van agter, want ons het enige plek gesit, ook weer op die vloer en lekker ingedruk ewe informeel ons koue drinkgoedjies sommer saamgedra waar ons loop.

Weer straat-af is ons na die Jam Alley-studio waar Written on air plaasgevind het: drie dansende mans, van verskillende tale en kleure. Christo van Staden, Itumeleng Magope en Charl-Pierre Naudé het ’n lang gedig intuïtief in choreografie interpreteer. Eksperimenteel en roerend, het ons digters hier in ’n ongewone gedaante gesien.

Dit was ’n lang, besige dag en nog was het einde niet. In Johannesburg kry die bene eers lewe na die son gesak het en hierdie naweek was geen uitsondering nie. Gesamentlike etes en sosiale verkeer, ou bande wat opgetel is, nuwe bande wat gesmee is; hierdie dinge het die tafel gedek vir die aand se pret.

Surrealisties maar werklik het die Mbongi se stem oor die dakke weerklink – amper soos ’n profesie, het ek gedink. Laat almal hier saam wees in hul tweespalt en vrede. Laat Lionel Murcott sy “Stones and Angels” vertel. Dit is sy mees ambisieuse projek tot dusver, deel hy my mee toe hy my help om ’n plakkaat te gaps ter herdenking van die dag.

“I am still a slam virgin,” hoor ek ’n Persiese meisiekind agter my sê. “But I am into Floetry, it kind of just oozes …” en haar lyfie slang so in die pers toppie, maar daar word ek weggevoer deur die tou mense wat vorentoe beweeg na die Movie House waar muso’s hulle instrumente begin uitpak en inprop. Tot diep in die nag het die musiek en die slams aangehou, het dit sekerlik ge-ooze. Ons het almal eers baie, báie laat die volgende dag begin om saggies hallo te sê op Gesiggieboek.

Die plan is om volgende jaar weer so te maak – hierdie was ’n toetslopie. Applous kommunikeer in alle tale. Miskien skryf ons omdat ons hoop. Volgende jaar wil ons weer ons gedigte oor die dakke fluister.