Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Kommentaar | Commentary

Oor Regtig rubriek


JJF - 2007-02-28


Dis 'n koue Sondagmôre hier in Engeland vanwaar ek my nou wend tot reaksie op die beautiful woorde wat ek pas gelees het. Die huis is stil en dis net ek hier en tussendeur die harde getik van my huismaat se groot horloos teen die muur, het my grinnik en gelag die stilte nou vir 'n wyle kom steur. Dankie aan Anna-Marie de Vos vir jou woorde.

Ek onthou dat ek 'n paar jaar gelede die program op televisie van jou en Suzanne gesien het en dit het my ook geraak: sien, dit is my droom om eendag in my land te kan leef – hand-aan-hand met die liefde van my lewe. Sedert ek gewerk het in die Transkei is dit my hartsbegeerte om ook kinders aan te neem. Ek wil 'n verskil maak, ek wil 'n verskil leef in al my andersheid, in al my weirdheid en queergeit! want ek het dit nog altyd gesien as kosbaar te midde van al die seer- en swaarkry wat dit in mens se lewe meebring. Ek glo in 'n God wat my in alle eenvoudigheid net lief het. Soos wat ek in alle eenvoud my ewige reisgenoot net lief het. Daar is geen kwaad daarin nie. Daar is geen lelik daarin nie. Dit is wat dit is: opreg.

Tans is ek hier in Engeland. Ek hou skool en hoop dat dit my menswees ook so vorm dat ek eendag in my land in 'n gemeenskap kan werk en 'n verskil kan maak ten spyte van die feit dat ek 'n vrou lief het. Die liefde van my lewe werk in die kerk in Suid-Afrika. Haar roeping dwing haar om nie oor my te praat nie. Soms is dit waansinniglik moeilik, maar dan herinner woorde soos Anna-Marie s'n my net weer vanoggend om dankbaar te wees vir die weg wat al gebaan is na die swaar gelaaide bruiloffees wat ook vir ons voorlê, eendag.


JJF
21/1/2007