Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Black Butterflies se inhoud skiet tekort


André Crous - 2011-10-20

Black Butterflies
Regisseur:
Paula van der Oest
Kamerawerk: Giulio Biccari
Rolverdeling: Carice van Houten, Liam Cunningham, Rutger Hauer, Nicholas Pauling
Looptyd: 95 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 21 Oktober 2011

 

Dit is nie maklik om hierdie film vanuit een enkele hoek te resenseer nie, aangesien ons te make het met ’n ware verhaal wat egter om kommersiële en ander redes verdraai is en die verband tussen voorstelling en werklikheid gevolglik behoorlik deurmekaar gegooi word. Die storie draai om die lewe van die Suid-Afrikaanse digter Ingrid Jonker, maar een van die belangrikste individue in haar lewe, André P Brink, is afwesig uit die verhaal. Enkele elemente uit hul verhouding word verplaas na ’n ander verhouding, met ’n fiktiewe karakter genaamd Eugene Maritz, ook ’n groot skrywer, maar in een gesprek tussen Ingrid en haar pa word ’n lys van haar seksmaats genoem en hierdie uiteenlopende groep mense sluit beide Maritz en Brink in.

As uitbeelding van ’n werklike verhaal is daar dus groot probleme met die film, want die draaiboek weet nie mooi watter waarheid dit wil vertel nie. ’n Nederlandse film, in die Engelse taal, oor een van die mees bekende figure in die Afrikaanse poësie, sou altyd moeilik gewees het vir ’n Suid-Afrikaanse gehoor; die film se gebruik van Engels as voertaal, met inbegrip van al die gedigte wat in Engels bedink, geskryf en voorgedra word, terwyl die film terselfdertyd die immerafwesige Afrikaanse taal noem, is verwarrend en onnodig. Hierdie is een film waar ’n mens nogal Afrikaanse onderskrifte sou waardeer het.

Ek let ook op dat die eindkrediete ’n karakter as “Ettiene le Roux” vermeld – dit wys jou hoe los daar met die werklikheid gewerk word. Die naam van hierdie kernfiguur van die groep Sestigers is eintlik Etienne Leroux.

Die film, wat die laaste vyf jaar van die hoofkarakter Ingrid Jonker uitbeeld, is nie gemaak om ons veel insig in haar lewe te gee nie – in vergelyking met die rol van die skrywer Jack Cope, met wie sy haar lewe vir die grootste deel van die 1960’s deel, is sy werklik oppervlakkig – maar eerder om ons te wys dat sy ’n slegte ma was, onuithoudbaar wanneer sy nugter is en onuithoudbaar wanneer sy (baie dikwels) dronk of histeries is, en ’n mens kan maklik tot die slotsom kom dat sy op die ou end selfmoord gepleeg het om aandag te soek. Uiteindelik bring die film nie veel diepte tot die hoofkarakter nie en ek weet nie hoe enigiemand sou omgee vir ’n karakter van wie die politieke en persoonlik trauma nooit werklik enige tyd op die skerm gegee word nie.

Die spanning tussen Ingrid en haar pa, Abraham Jonker, die hoof van die Suid-Afrikaanse sensuurraad, dien as ’n belangrike onderdeel van die film; en so ook die passievolle tonele tussen haar en Jack Cope. Die film is egter daarmee tevrede om Ingrid byna deurentyd aan te bied as iemand wat ly aan ’n soort grensgeval-steurnis, maar die enigste toneel wat werklik lig werp op die redes vir haar gemoedstoestand vind plaas in die Bo-Kaap, waar sy haar fetus laat aborteer.

Natuurlik steun die filmmaker op ons kennis dat Ingrid Jonker werklik bestaan het, om ons sodoende te laat voel dat ons nou op die skerm iets sien van hierdie enigmatiese kunstenaar, maar ons kan nie empatiseer met haar aksies nie, want daar is nie veel om uit hierdie film te haal nie.


Die genoemde aborsietoneel word uitstekend benader, omdat dit vir ’n verandering wys dat Jonker wel ernstige besluite op ’n ernstige wyse kan neem en die gevolge daarvan kan insien en probeer hanteer. Baie van haar probleme is selfopgelegde wonde en dit wil in hierdie toneel voorkom of sy dit besef, maar kort voor lank is sy weer besig om haarself te beseer en weier om haar situasie op enige volwasse wyse aan te spreek. Sy bly ’n kind.

Die Duitser Rutger Hauer vertolk sy rol as Ingrid Jonker se pa verrassend goed – fisies herinner hy aan Gene Hackman en Marius Weyers, maar sy stiltes is intens en hoewel hy nie ’n groot man is nie, het hy ’n onheilspellende teenwoordigheid in sy tonele. Teenoor Hauer is Carice van Houten, wat Jonker speel, nie ’n vreeslike goeie aktrise nie. Haar Nederlandse aksent help ook nie juis nie, want vir die Suid-Afrikaanse oor is dit altyd Nederlands eerder as Afrikaans (veral die uitspraak van die r’e verraai haar onmiddellik as ’n Nederlander).

Black Butterflies se pas is heel konsekwent en die film is nooit vervelig nie, maar die inhoud skiet te kort en veral die aanbieding van Ingrid Jonker se karakter is hopeloos eenvoudig. Danksy die film se eenvoud kan dit dien as ’n eerste blootstelling vir enigiemand in die buiteland wat nog nooit vantevore van haar gehoor het nie, maar as ’n beeld van dié ikoniese Suid-Afrikaanse digter is die fiktiewe konteks troebel, en die weglating van die karakter van André P Brink berokken die film erge skade.

 

Lees Carina van der Walt se artikels oor hierdie film.