Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Rugbyboeke 2011 – en een oor krieket


JB Roux - 2011-10-20

In ’n land waar die enigste “celebrities” sporthelde en korrupte politici is, is dit nie vreemd dat daar voor die aanvang van die Wêreldbekertoernooi soveel rugbyboeke verskyn het nie. Maar hoeveel van hierdie boeke gaan gelees word noudat ’n moedswillige skeidsregter die Springbokke die Wêreldbeker ontneem het? Want dis nou so dat Suid-Afrikaners ons nasionale rugbyspan tot die dood toe ondersteun … solank Die Span net nie gaan staan en verloor nie. Vir die volgende paar maande gaan SARU, die bestuurspan en heelwat Springbokspelers die rug toegekeer word. Intussen is rugbyboeke wat trots op koffietafels uitgestal is, solder toe verban en koerante se verkope het drasties afgeneem: ons lees nie eens meer oor rugby nie.

Gelukkig is nie almal so kleinlik nie.

Nadat Kleinboet twintig jaar gelede sy eerste rugbybal present gekry het, het hy nooit weer teruggekyk nie. Hy speel nog dikwels en rig soms laerskoollaaities af. Wanneer hy iets lees, is dit oor rugby.

Hy bel my onlangs: “Jý weet wanneer ’n boek die moeite werd is, maak nie saak watter soort boek dit is nie ...”

Ek het alles wat ek oor rugby weet by hom geleer, maar hy is reg oor my boeke-instink.

“My wittebrood is om die draai,” sê hy. “Wat maak ’n man ’n week lank met jouself as jy nie moet werk of rugby oefen nie? Toe dink ek: dan lees ek maar.”

Vir lojale rugbygeesdriftiges in ’n soortgelyke penarie beveel ek een van die onderstaandes aan:

 

Meer as rugby
Pierre Spies (met Myan Subrayan)

Uitgewer: Penguin
ISBN: 9780143528173
Prys: R148.95


Klik hier en koop Meer as rugby nou van Kalahari.net!


Dié boek het nie soveel blootstelling in die pers gekry nie, omdat dit later as ander rugbyboeke vrygestel is, maar ek vermoed dit gaan ’n langer raklewe hê as die meeste ander: niemand is virPierre Spies per se kwaad nie, al het hy effens lyf weggesteek tydens sy laaste paar Springbokwedstryde.

Dis net sporthelde wat in hul twintigs of dertigs reeds blitsverkoper-biografieë kan uitgee – in hierdie geval is die held nog op die kruin van sy loopbaan. Tog bied dié boek genoeg om lesers te boei. Spies gesels, met die hulp van die gesoute sportskrywer Myan Subrayan, oor alles wat sy rugbyloopbaan roemryk en interessant gemaak het. Daar is beserings, teleurstellings, hoogtepunte; op ’n stadium is selfs gevrees dat sy rugbyloopbaan van die baan sou wees voor dit behoorlik op dreef kon kom.

Spies vertel ook van sy familielede en geloof.

Daar is enkele taalfoute, maar Meer as rugby is oor die algemeen goed geskryf. Verskillende aspekte van Spies se lewe word in glansfoto’s uitgebeeld.

  • ’n Engelse weergawe, More than rugby, is ook beskikbaar.

 

Captain in the cauldron: The John Smit Story
(met Mike Greenaway)

Uitgewer: Highbury Safika Media
ISBN: 9780620447515
Prys: R108.95


Klik hier en koop Captain in the cauldron nou van Kalahari.net!


’n Mens weet nie regtig of jy dié boek moet noem nie. Smit is ná die Springbokke se eerste wedstryd in die 2011-toernooi – toe hulle Wallis met ’n punt geklop en hy dié oorwinning aan die meer ervare spelers in die span toegeskryf het – daarvan beskuldig dat hy loodvoete het en ons die toernooi kan kos.

Captain in the cauldron (die titel is nou éérs gepas!) is in 2009 uitgegee en twee keer herdruk. Met die 2011 Wêreldbekertoernooi in die vooruitsig het die boek skielik met ’n nuwe omslag in boekwinkelvensters gepryk.

Soos met Meer as rugby is Captain in the cauldron geskryf terwyl die persoon oor wie die boek gaan, nog lank nie klaar was met rugby nie. In dié geval sou ’n mens egter kon sê die boek is op presies die regte tyd geskryf – dis eerder Smit se loopbaan wat te lank geduur het!

Hoe ook al: dis die moeite werd om ’n ruk lank van die 2011-toernooi te vergeet en uit Smit se perspektief na die afgelope dekade se Springbokrugby te kyk. Smit is nie bang om sy bek te rek nie, en vuil wasgoed is volop.

 

Challenging beliefs – Memoirs of a career:
Tim Noakes (met Michael

Vlismas)
Uitgewer:
Zebra Press
ISBN: 9781770221468
Prys: R198.95


Klik hier en koop Challenging beliefs nou van Kalahari.net!


Nadat hy in 1978 aan sy eerste Comrades deelgeneem het, het Tim Noakes sy roeping ontdek. Vandag word hy nie bloot as een van Suid-Afrika se voorste sportwetenskaplikes beskóú nie, hy ís ons voorste sportwetenskaplike en word trouens wêreldwyd gerespekteer. Hy het onder meer ’n doktorsgraad vir sy navorsing oor oefenmetodes verwerf.

Noakes het vroeg reeds “uit die boksie” begin dink en heelwat gevestigde oortuigings op hulle kop gekeer. Heelwat ruimte word in dié boek, wat pas van die drukpers afgerol het, aan die uiteensetting van Noakes se uitgangspunte afgestaan. Daar word veral na rugby (spesifiek oor hoe om dié sportsoort veiliger te maak) en krieket gekyk. Omstrede temas soos verbode middels en kinders se betrokkenheid by sport word ook bespreek.

Challenging beliefs word aanbeveel vir leuenstoelentoesiaste wat wil weet wat agter die skerms moet gebeur om ’n sportheld na die beste van sy of haar vermoë te laat presteer (talent is lankal nie meer genoeg nie en wetenskap speel ’n al hoe groter rol). Iemand wat self sport beoefen, sal hierdie boek heeltemal onmisbaar vind.

 

Agter die doellyn
Uitgewer:
Christelike Uitgewersmaatskappy
ISBN: 9781431601943
Prys: R98.95


Klik hier en koop Agter die doellyn nou van Kalahari.net!


Meer as ’n handvol hoëvlakspelers maak geen geheim daarvan dat hulle Christene is nie en ’n boek waarin baie van hierdie spelers openlik oor hul geloof praat, maak sin.

Ná die inleiding (“Verslaaf aan Groen en Goud” deur Louis de Villiers) volg “Speler 23” (oor ons stoerste rugby-ondersteuners) deur Johan Smith. Daarna kom twee interessante hoofstukke, “Hoe rugby ontstaan het” en “Hoogtepunte in die geskiedenis van rugby in Suid-Afrika”, aan die beurt.

In die afdeling “Lewenstories en getuienisse” val die kollig op 33 spelers en oudspelers. Dié stukke is nie te lank nie, lees lekker en word aangevul met kleurfoto’s – sommige is van die beste rugbyfoto’s wat ooit geneem is. 

  • Agter die doellyn is op glanspapier gedruk en word in groot formaat uitgegee.

 

The Springbok handbook
Eddie Grieb en Stuart Farmer
Uitgewer:
Zebra Press
ISBN: 9780798151139
Prys: R85.95


Klik hier en koop The Springbok handbook nou van Kalahari.net!


The Springbok Handbook is ’n buksie propvol statistieke en ander nuttige en minder nuttige inligting wat oral saamgedra kan word – om rugby-argumente te besleg of jouself uit die kwaad mee te hou terwyl jy wag dat Vroulief klaarkry met haar inkopies, of iets.

 

The Number 10s – South Africa’s finest flyhalves, 1891–2010 deur
Chris Schoeman
Uitgewer:
Zebra Press
ISBN: 9781770221390
Prys: R162.95


Klik hier en koop The Number 10s nou van Kalahari.net!


’n Mens kan jou kwalik ’n interessanter tema vir ’n rugbyboek bedink. Die losskakel is dikwels dié speler op die veld: die generaal wat strategie bepaal en besluit of daar met ’n bal gehardloop moet word en of hy liewer die ding moet wegskop vir die voorspelers om oor te baklei.

Nie net is dit opwindend om tien van Suid-Afrika se beste losskakels deur die jare heen se loopbane van nader te bekyk nie, dié boek bied sommer ’n kitsoorsig van Suid-Afrika se rugbygeskiedenis in die algemeen.

 

Touch, Pause, Engage – Exploring the heart of South African rugby
Liz McGregor
Uitgewer:
Jonathan Ball Publishers
ISBN: 9781868423095
Prys: R116.95


Klik hier en koop Touch, Pause, Engage nou van Kalahari.net!


Liz McGregor is ’n skrywer en joernalis wat haarself uitgedaag het om binne drie jaar tot die siel van Suid-Afrikaanse rugby deur te dring – en dit reggekry het. Sy het die land deurkruis om skolerugby, universiteitsrugby en Springbokrugby te deurgrond. In die proses het sy die menslike sy van rugby ontdek en besef dat dit ’n hoogs emosionele spel is. ’n Uiters leesbare boek.

 

The Springboks and the Holy Grail
Dan Retief
Uitgewer:
Zebra Press
ISBN: 9781770221475
Prys: R139.95


Klik hier en koop The Springboks and the Holy Grail nou van Kalahari.net!


Hierdie is een van die beste rugbyboeke wat die afgelope ruk verskyn het – geskryf deur een van Suid-Afrika se voorste rugbyskrywers. Suid-Afrika het, voor 2011, aan vier Wêreldbekertoernooie deelgeneem, waarvan ons twee gewen en twee verloor het. Dan Retief was elke keer dáár; hy weet presies wat tydens elke toernooi gebeur, wat reg verloop of verkeerd geloop het en hoekom. En hy is nie suinig om dié inligting met rugbygeesdriftiges te deel nie.

 

To the point
Herschelle Gibbs (met Steve Smith)
Uitgewer:
Zebra Press
ISBN: 9781770221314
Prys: R180.95


Klik hier en koop To the point nou van Kalahari.net!


Gibbs se outobiografie het verlede jaar verskyn, maar is steeds algemeen beskikbaar. Natuurlik speel Gibbs krieket, nie rugby nie. Boonop het hierdie boek verál weens Gibbs se kaskenades van die veld af opspraak gewek. Maar as jy vir eers liefs op krieket wil konsentreer en nog nie hierdie boek gelees het nie, is dit dalk nou tyd. Baie van die vertellinge sal jou net so breed laat grinnik soos Gibbs op die voorbladfoto. Dis goeie vermaak, maar hierdie boek kan net so min ernstig opgeneem word as Gibbs self.

 

Terloops . . .

Butch James en Victor Matfield se biografieë verskyn later vanjaar. Hou gerus die oë oop: teen daardie het die gemoedere gesak en is Springbok-aanhangers weer lus vir lees.

 

Pasella

Twee lesers kry elk ’n getekende eksemplaar van Pierre Spies se Meer as rugby present! Stuur ’n e-pos met “Meer as rugby” in die onderwerplyn na wen@litnet.co.za. Onthou om jou posadres te noem.