Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Ondersteuningsgroepe | Support Groups

Die siel: N Bezuidenhout en geestelikheid


Kobus de Klerk - 2011-10-20

N Bezuidenhout skrywe baie interessant dat hy/sy meen dat God tydens die skepping waarvan in Genesis melding gemaak word, reeds bestaande mense in hul geestelike hoedanigheid geskape het, sodat hulle by God as Gees kon aansluit en God as sodanig diensbaar kon wees.

Dit is vir my altyd verfrissend en bemoedigend om te sien hoe mense hulle verinnig in hulle bestaan en ontstaan en hulle verbintenis met God.

Hierdie interpretasie van N is egter nie sonder probleme nie, in die lig van talle ander aanduidings in Genesis van fisiese skeppings wat ook in die Woord se skeppingsperiode plaasgevind het – plante en diere is nie geestelike wesens nie en in die skeppingsverhaal is daar geen onderskeid tussen die fisiese skepping van hulle en die diere nie. Die verskil is te vinde in die gelyktydige installasie van geestelikheid in die mens wat nie by die ander skepsels gevind word nie.

N vermeld ook dat in die skepping waarvan in Genesis gepraat word, vanuit ’n natuur-oogpunt bekyk, dit half “onmoontlik” is dat ’n plek in die natuur woes en leeg kan wees, maar dat dit wel só kan wees in die gees – dat gedagtes (die aarde waarop God skryf en graveer) woes kan wees van allerhande denkwyses, maar ook leeg kan wees sonder die Gees van God.
Tog behoort N nie uit die oog te verloor dat daar in die res van die bekende skepping – die planete om ons heen – geen uitkenbare teken van lewe soos ons dit ken is nie, en daardie plekke is, sover dit ons betref, wél woes en leeg. Daarom kan ons die Woord, soos in Genesis opgeteken, nie in twyfel trek nie, maar wat daar beskrywe word, is die proses waarby die fisiese Goddelike herpopulasie van die aardse biosfeer beskrywe word.

Openbaring 12 gee die verklaring van waarom die aarde in só ’n fisies woeste en leë toestand, met water oor alles, verkeer het. Ons kan aanneem dat die aarde se oppervlak voor die skepping anders gelyk het as wat dit nou daar uitsien.

Die bewyse van vorige bestaan van lewe (byvoorbeeld hominiede fossiele) het ’n ander verklaring, naamlik dat die Woord aandui dat God van tyd tot tyd die lewe, die ganse biosfeer, van die aarde hernuwe (wat verklaar waarom daar steeds fossiele van hominiede en ander uitgestorwe diere van vorige eras gevind word, in teenstelling met die poging van die Darwinistiese evolusieleer wat dit probeer verklaar).

Maar N is tog reg wat betref die rede vir die geestelike aspek, want God het sy Gees in die liggaam van die mens “geïnstalleer” (Genesis 1:26 en 2:7) en sodoende die mens fisies as geestelike skepsel geskep deur die installering van die gees, juis sodat die mens ’n sinvolle verhouding met sy Skepper sal kan hê.

Toe daardie verhouding langdurig weens sonde skipbreuk ly, het God die Vader vir Jesus Christus die Here juis as mens deur die maagd Maria uit die Heilige Gees laat inkarneer om weer die mens geestelik te hernuwe deur die proses van wedergeboorte (Johannes 1:1-5 en 9-14).

N se verhaal vertel dus die een kant van die verhaal, van hoe die mens sy geestelikheid bekom en die doel daarvoor, maar die mens is inderdaad ook fisies “nut” geskape op die sesde skeppingsdag. ’n Studie in die biologie sal bevestig dat die mens inderdaad uit die aardstof geskape is, soos in Genesis staan (Genesis 2:7 en 3:19), want die menslike liggaam bevat al die essensiële elemente en minerale wat in die aarde se grond (aardstof) voorkom en het dit inderdaad ook nodig om te oorleef. Indien die skepping van die mens dus slegs ’n geestelike toerusting was, sou die gedeeltes van die fisiese skepping van die mens gewoon nie in die skeppingsverhaal voorkom nie. Maar die Woord verwys na beide die fisiese skepping én die geestelike toerusting van die mens. Die mens is juis uniek fisies deur God ontwerp (DNS) sodat die liggaam, en veral die brein, die spesiale geestelike hoedanighede kan hanteer en assimileer (Psalm 139). Toetse en navorsing in Italië het aangedui dat daar sekere breinareas aan die linker- en regterkant van die pariëtale breinlobbe is waar hoofsaaklik spirituele aktiwiteit plaasvind deurdat spirituele impulse hoofsaaklik daar geassimileer en verwerk word – gedagtig daaraan dat dit alles Goddelike energie is.

God het dus ook die mens fisies geskape om geestelik te lewe.

Groete

Kobus de Klerk

 




Reageer | Respond:
ondersteuning@litnet.co.za