Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Die lanternswaaier: ’n boek vol vrae, dog heel leesbaar


Francois Verster - 2011-10-19

Die lanternswaaier
SD Fourie
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780986990779
Prys: R152.95

Klik hier en koop Die lanternswaaier nou van Kalahari.net!


 Elke boek behoort by die voorblad te begin – die titel kan reeds die eerste frase van die teks wees, of minstens ’n duidelike aanduiding van die inhoud. Die lanternswaaier slaag hierdie eerste toets. Die voorblad-illustrasie ontsluit die boek via die titel en is boonop treffend: met die eerste oogopslag lyk dit soos twee persone wat in ’n omhelsing staan, donker en misterieus afgeëts, hoog op ’n rots, met ’n seilskip in die agtergrond – nogal dramaties. Die leser, of laat ons nie doekies omdraai nie, die voornemende kóper, kry ’n aanduiding waaroor die boek handel: donkerwerk is konkelwerk, asook ’n liefdesintrige, en weens die lantern en seilskip, duidelik ’n verhaal wat lank gelede afgespeel het. Dis nog onduidelik of dit ’n ware verhaal of ‘n fiksiewerk is, maar die potensiële leser (waarskynlik ’n dame weens die belofte van romanse) wil hopelik uitvind waaroor dit gaan en koop die boek.

Dus: die uitgewer, in hierdie geval Naledi, het maklik oor die eerste hekkie geseil, en ’n paar positiewe menings in die media verskaf verdere stukrag. Om die sportmetafoor verder te neem: dít is wat ’n outeur van ’n uitgewer verwag, want na die baie tyd, sweet en emosie wat in die manuskrip belê is, is die bal nou oor die net, het dit in die baan/mark geland en wag die outeur angstig om te sien of iemand wil saamspeel. En elke skrywer verdien hierdie diens indien ’n uitgewer onderneem het om van ’n manuskrip ’n boek te maak.

Die lanternswaaier is klaarblyklik ’n historiese roman, want die tydvak is die 1800’s, met die stranding van die Galera as vertrekpunt. (Of die skip op die voorblad ’n juiste afbeelding van die Galera is, is onbekend, maar dit maak nie saak nie, want ons lees gou dat etlike skepe deur die dodelike lanternswaaier na hulle einde gelok is.) Die skrywer lig die sluier oor haar modus operandi deur te erken dat die feite waarop die verhaal gegrond is, soms onseker is, en dat sy met name en tye gespeel het, soos met ’n sekere bergpas in die omgewing waaroor sy skryf. Sommige puriste mag hieroor frons, maar dis eerstens ’n roman en die waarhede oor die menslike bestaan is belangriker as name van bergpasse – so redeneer die meeste lesers immers.

Hans du Plessis het onlangs op LitNet Akademies genoem dat hy meen dat romansiers eers moet seker maak of die feite waarop hulle hulle fiksie baseer, korrek is. By die lees van sy artikel het ek hieroor gewonder, maar ná die lees van Die lanternswaaier kan ek sy punt insien, omdat twyfel oor geskiedkundige gegewens hinderlik is vir die leser – veral vir diegene wat voorheen oor spesifieke gebeure, ens gelees het: Sal botsende menings nie stoornis in die lesers se gemoed veroorsaak nie?

Ek verkies dat wanneer historiese bakens gebruik word, hulle eerder nie verskuif word nie. Die outeur kon maklik genoeg genoem het dat die hoofkarakter byvoorbeeld die ouer benaming verkies het, of iets in dier voege, eerder as om self te sê “... maar ek kon die versoeking nie weerstaan om die mooi ou naam te gebruik nie”. Soos ek sê: persoonlike voorkeur speel ’n rol.

Soos die verhaal sy verloop neem, duik nog sulke klein krapperigheidjies op. Die outeur weerspreek haarself byvoorbeeld soms, soos wanneer sy sê dat die hoofkarakter (wel ’n aangrypende karakter met wie ek tóg graag sou wou kennis maak, al kan ek as man nie werklik met haar identifiseer nie) se vader, die antagonis, saggies rondloop – ’n regte nagsluiper (bl 5) – maar op bladsy nege hoor sy hom betyds aankom weens sy “swaar voetstappe”. Ook is Siena se “woord wet” op bl 117 en op bl 119 is haar pa, Jakobus Lourens, se “woord wet”. In ander gevalle is Sophie bevelvoerder en daag haar pa selfs uit.

Daar is ook heelwat clichés – ons heldin Sophie is darem baie nat: op bl 1 word sy in haar bed natgegooi deur haar pa, wat nogal drasties is, maar daar is seker geen erotiese of bloedskandelike motiewe nie (dié motief kom wel verder in die nie boek voor), en 40 bladsye later beland sy in die see sodat Kerneels, die goeie, maar minder begeerlike potensiële minnaar, haar bates kan aanskou (altans dis die outeur se doel, nie Sophie s’n nie); en wanneer Sophie wel reeds redelik erg gepla is deur al die erotiese gedagtes, duik sy weer in die see in om Robert, die verbode maar baie begeerlike minnaar, te red. Op dié stadium word dinge dan op ’n spits gedryf, by wyse van spreke.

Die tema van die “gawe uit die see”, die onweerstaanbare drenkeling wat weerloos in die hande van die heldin beland, is darem al holrug gery. Om die man dan boonop te laat prewel: “Are you an angel?” was die kersie op ’n koek wat my nie aanstaan nie. Sê elke (fiktiewe) man wat uit ’n koma - of iets ewe dramaties - wakker word, iets so romanties?
Sophie, daarenteen, kan nogal kru met die taal omgaan vir ’n meisie van daardie tyd, maar dalk het die boorlinge van daardie omgewing so gepraat, selfs voor hulle ouers. En Sophie het juis so ’n uiters pynlik-verfynde moeder gehad; die melodramaties-sporadies-flouvallende Jean. Wel, elke familie het sy eienaardighede – ek het eens by ’n familie naby Botrivier gekuier waar die vier pragtige dogters luidkeels wind opgebreek het in vreemde geselskap - en niemand het ’n oog geknip nie. Glo ’n soort familiekwaal, was die verduideliking. Sophie se taalgebruik is dus vir my vreemd, maar nie onmoontlik nie.

Dis van meet af duidelik dat die verhaal meer ’n liefdesroman is as ’n historiese roman, nieteenstaande die outeur se kennis van die milieu en lewensomstandighede van die karakters in die 1800’s. Ek voel so omdat Hoofkarakter se hartsake allesoorheersend is en daar byvoorbeeld min oor politieke aangeleenthede vermeld word - die geskiedenis self kom nie heeltyd so “teenwoordig” oor as in byvoorbeeld Sleigh se Eilande (2002) nie. Nie dat dit ’n fout is nie; te veel feite kan maklik prekerig klink en hang aan die verhaal soos oortollige bagasie wat die vloei vertraag. Vandag se lesers soek immers aksie: dinge moet sommer met die intrapslag gebeur, vinnig, vinnig, vinnig! En aan aksie ontbreek Die lanternswaaier beslis nie.

Die omgewing word wel plek-plek liries beskryf sonder om te veel momentum in te boet, juis nogal soos wat mens van verhale uit daardie tydperk sou verwag – die dralende, detailstrelende vertelstyl van 19de-eeuse skrywers is die rede hoekom so baie klassieke verhale deur almal gelees wíl word. (Maar vra bietjie wie het die meeste van hulle al gelees en dan hoor jy die boeke is nog op Jan en San se “leeslys”.)

Die storie vloei dus goed, en die periodes van telling, not showing is min – weer eens is dit nie doodsake nie en voel mens van meet af dis ‘n verdienstelike debuut: die outeur kán skryf – hét ook al - en sy sal met meer ondervinding/leiding van die uitgewerskant etlike van genoemde krapperighede kan systap. Elke genre het mos sy uitdagings.

Bygesê, ek het die gevoel gekry dat die tweede helfte van die verhaal reeds beter lees – feite is digter verpak, maar steeds nie so dat daar opdammings in die verhaalvloei is nie. Die vrae aangaande verhoudings tussen karakters, veral Sophie en haar pa, word bevredigend beantwoord – Sophie en Jakobus se ek-slaan-jou-en-jy-dreig my-verhouding het my nie aanvanklik oortuig nie en ek kon nie verstaan hoe Siena so kan baas speel en selfs bevele uitdeel indien mens die gebruike van dié land in ag neem nie. Selfs in Europa sou ’n kneg beswaarlik so met haar werkgewers praat. Moderne lesers wil gewoonlik weet hóékom dinge gebeur, en as dit ingewikkeld is, wil hulle ‘n ingewikkelde verklaring hê.

Dis te sê indien die outeur wil hê ’n boek moet oor genre-grense beweeg (goeie boeke doen dit soms) en nie net lesers bevredig wat vinnig lees van een vrytoneel na die ander nie. Dis hoe ek gedink het totdat die outeur begin het om ’n string ontknopings soos broodkrummels deur ’n bos uit te strooi. Maar suksesvol, want toe het sy my deeglik verlei om Sophie se aansienlike uitdagings te wíl beleef.

Soos genoem, is Fourie se naam met Matthee s’n gekoppel, en dit sal onregverdig wees om hulle nou al te vergelyk, maar dis reeds onvermydelik, aangesien dit al op papier staan (ook op die internet) – ’n groot naam is beslis ’n tweesnydende swaard! Vir die Naam én vir die Navolger. In ’n positiewe lig gesien: wel, Fourie is nou in die kalklig en moet nog die ruimte gegun word om haarself te bewys. Al verdien lesers altyd waarde vir hulle geld, behoort debuutwerke nie te krities beoordeel te word nie – daarvoor is die tweede boek daar!

Een van die kommentators het genoem dat Matthee seker baie graag met hierdie tema (strandjutters se donker dade) sou wou gewerk het (indien sy wel nie daarvan geweet het nie, wie weet?). Ja, die slinkse en wrede gebruik om skepe na die dodelike rotsriwwe te lok, wat dikwels tot die dood van die seevaarders sou lei, vra deeglike eksploitasie. Maar soos ek genoem het, die ding oor feite en mites in die geskiedenis kan ook hinderlike vrae na die oppervlak bring, wat later die mooi strande van die verbeelding besoedel soos drenkelinge en ander opdrifsels. Ek onthou dat ek jare gelede oor “wreckers” gelees het – mense wat iewers in Europa gedoen het wat Jakobus hier aangevang het. Volgens Wikipedia – nie dat ek ’n voorstander daarvan is nie (tik die woord “kommando” in en kyk wat beweer hulle!), maar net om te sien of daar verwysings is – is dié praktyk bloot ’n mite, want geen opgetekende gevalle bestaan nie. Bronne word wel genoem en met die logika dat geen skip na die land sal vaar as hy ’n flou lanternliggie (veral op ’n stormnag) sou kon sien nie, kan ek nie stry nie. Inteendeel; jy stuur juis weg van die land af – waarom sal jy op so ’n liggie afstuur? Waar land is, is rotse – enige matroos weet dit tog! Ook was ons suidkus alombekend vir sy gevaarlike riwwe – die talle wrakke, waarvan etlikes nog nie opgespoor is nie, getuig daarvan. Indien die sogenaamde strandjutters (jutte = wolwe) dus wel hierlangs sukses behaal het met hulle lanternswaaiery, is dit dan ’n uitsondering op die reël. Ek vermoed meer navorsing mag meer lig op hierdie onderwerp gooi. In elk geval, mites bevat soms elemente van waarheid.

Maar terug na die verhaal: halfpad deur Die lanternswaaier is reeds ’n paar spanningslyne styf getrek – vrae soos wie die geheimsinnige blonde lanternswaaier is, wat tussen Robert die Skot en Sophie die Boerin se families gebeur het (terloops, almal het hulle nog nie destyds as Afrikaners gesien nie; eerder as Kolonialers, maar dít het wyd verskil), en gaan Jakobus sy rieme styfloop, gaan Sophie met Robert of Kerneels trou of glad nie, gaan daar hoegenaamd ’n gelukkige einde wees ...? Sodoende slaag die outeur stelselmatig daarin om die leser se aandag te trek en die volgende vraag is: Gaan sy dit behou?

Die antwoord is ja. Sy het, en dit goed gedoen ook: die uiteindelike uitlê van die familie-intriges was die sleutel. En waar die outeur moes kies tussen ’n mooi en ’n tragiese einde, was Robert die spil. Hier het ek nogal reg geraai (het eintlik gehoop ek is verkeerd), maar sal dit aan die lesers oorlaat om te kyk of hulle reg of verkeerd sal wees.

Enkele verstellings wat gedoen kan word met ’n tweede uitgawe is dalk die volgende: Ek sou nie iemand wat uit die see gespoel het of van ’n wa geval het, ’n “sieke” noem nie – eerder ’n “beseerde”, en dat Jakobus Die Dokter (ek sou dink hulle was op voornaambasis daar rond destyds) verkeerd bewys het, was ietwat van ’n onbesonge wonderwerk. Ook dink ek nie die Uyse van Buffelsjacht en die Lourense van Hagelkraal hoef mekaar met skielike uiterlike vertoon te probeer beïndruk nie (bl 123) – hulle sou mekaar al deeglik geken het as hulle jare lank op buurplase gewoon het. Ook verstaan ek nie hoekom benadruk word dat Jakobus die buurplaas so dringend begeer nie, want ek glo nie Kerneels sou sy skoonpa se heerskappy aanvaar het nie. Dis eerder Kerneels wat sou baat uit die huwelik – finansieel en andersins. Nee, daar was darem meer mense betrokke by dié saak as Jakobus.

En Spietjieriet se onkunde in die kombuis het gepla – sou haar ma haar nie al beter geleer het nie? Verder is Sophie se verduideliking aan Robert, naamlik: “Afrikanerdogters moet die bevele van hulle ouers uitvoer” (bl 132) dalk onnodig – dis nie net hier waar paternalisme hoogty gevier het nie; inteendeel: ons sogenaamde Westerse gebruike kom juis uit die Skot se breër milieu, terwyl die inheemse mense hier sekerlik nie meer demokraties was binne familiegeledere nie. Op die volgende bladsy word “my angel” in kursief gedruk en “my dearest darling” weer nie, maar hierdie tipe fout is darem seldsaam in dié boek, wat ook visueel baie aantreklik is.

Die toneel waar Kerneels en sy pa Mathys kom kuier, was heel goed opgestel, hoewel die outeur dalk die spanning bietjie meer kon opgejaag het, en so ook die “driehoekige” konflik by die troue. Daar het mens groter vuurwerke verwag. En van vuurwerke gepraat, die uiteindelike klimaks was ook goed beplan, maar Kerneels het my teleurgestel: hy verdwyn sommer net asof sy vlammetjie uitgeblaas is. Poef, jy’s weg asof jy nooit bestaan het nie. Bygesê, die karakters is interessant en ek het daarvan gehou dat Jakobus nie bloot ’n bose karikatuur was nie.

Om af te sluit: Die lanternswaaier is, ten spyte van die vrae, tog ’n onthoubare debuut. Ek het so pas verneem Stellenbosch se universiteitsbiblioteek het dit aangekoop en my reaksie daarop was ’n eerlike, instemmende kopknik. Nou vir die volgende een, me Fourie. Gaan soek vir jou ’n sappige tema in die Kaapse Argief!