Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Ghoera: Speelse verse met oerwysheid


Nini Bennett - 2011-10-19

Ghoera
Hennie Aucamp
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869194536
Prys: R135.95

Klik hier en koop Ghoera nou van Kalahari.net!



Hennie Aucamp het in 1963 as kortverhaalskrywer gedebuteer. Benewens kortprosabundels het hy ook vyf digbundels gepubliseer. Hy het al talle pryse verower en het geen bekendstelling onder sy lesers nodig nie.

In dié nuwe digbundel tree musiek op die voorgrond. Die titel, Ghoera, dui op ’n primitiewe musiekinstrument wat deur die Boesman, Khoi en Koranna gebruik is: dit is ’n booginstrument wat verskillende toonhoogtes voortbring as mens met ’n veerpen daarop blaas. Alhoewel Aucamp in die subtitel na Ghoera verwys as “Afrika-verse vir kinders”, bied dié verse ook baie pitkos vir volwasse lesers. Die omdigtings van mites, verhale, sprokies en fabels spreek universeel tot die leser. Die panteïstiese ondertone in die gedigte in tandem met die sangerige aard daarvan raak aan ’n kosmiese bewussyn, gevoed deur die oorlewering van oerwyshede. Die omslagontwerp, ’n kunswerk van Peter Webber, is dan heel gepas getitel: “Kan jy die musiek van die maan en die sterre nie hoor nie?” Die kunswerk en teks word saamgetrek rondom die woord luister, en vra ook om ’n akoestiese waardering van die poësie. Die maan en sterre kan nie letterlik musiek maak nie, en die man (vermoedelik ’n Khoi-Khoi) in die vermelde kunswerk sit peinsend deur ’n stel oorfone na musiek en luister. Die oorfone suggereer iets van ’n meditatiewe luister, of “na binne luister”, en is met ’n kabel verbind aan die maan (nag en kosmos). Deur moderne tegnologie (oorfone) met die primitiewe (Khoi en natuur) te jukstaponeer, bring Aucamp ook vernuwing deur staaltjies en stories van toeka in Afrikaans te verwerk en te berym, in ’n digbundel wat in 2011 in ’n moderne konteks verskyn.

Die man in Webber se kunswerk het ’n opening in sy kop – uit ’n teosofiese hoek sou die leser merk dat die kroon-chakra (energiesetel gekoppel aan die goddelike/heilige) heeltemal oop en ontvanklik is en dus na die kosmiese musiek “luister”. Woorde wat na natuurelemente soos die son, maan, wind en reën verwys, word ook deurlopend met hoofletters gespel, wat die panteïstiese invloed in die gedigte onderstreep, naamlik dat primitiewe stamme die natuur met ’n heilige of goddelike respek bejeën het.

Sommige van die gedigte is deur Zakkie Eloff geïllustreer. Dié illustrasies, sensitief en minimalisties, vul die verse sinvol aan – dit oorheers nie die teks nie. (Die tekening van die jakkals op p 52 is eintlik meesterlik in sy eenvoud, en herinner sterk aan San-kuns, waarmee die verse ook indirek in gesprek tree.)

Al die gedigte is in vierreëlige strofes geskryf, ’n strategie wat digters gebruik om stories te vertel. Aucamp maak oorwegend van gebroke rym gebruik en die gedigte behou deurgaans ’n sangerige toon sonder dat die rym gedwonge aandoen.

Die bundel is in vyf genommerde, maar onbetitelde, afdelings verdeel. Afdeling I handel oor verskynsels in die lug, naamlik die son, maan, sterre, melkweg, wind en wolke. Die leser kry die gevoel dat ’n orakel aan die woord is, en gelukkig temper wysheid die naïewe gang van die verse. Die primitiewe mens, met sy vrese, vreugdes en bygelowe, lig die leser op speelse wyse in waar die son en maan vandaan kom (13-5), hoe die melkweg ontstaan het (17), en van heilige ontsag vir wind en wolke (18-9). Uit ’n teosofiese hoek sou die ernstige poësieliefhebber interessante parallelle in die polêre spanning: son/Yang/manlik teenoor maan/Yin/vroulik merk in die gedig “Son en Maan” (13). Dié spanning kom deurlopend voor in die verwysing na die son/maan dwarsdeur die bundel. Die naïewe lewensbeskouing van die Boesman blyk duidelik uit “Die melkweg” (17): ’n vrou wat by ’n skermvuur op jagters gewag het, het as in die lug opgegooi en só het die melkweg ontstaan.

Interessant is die konkrete, letterlike en personifiërende wyse waarop primitiewe mense alles om hulle waarneem. Daar is feitlik geen abstraksies nie en die verhouding groot:klein is arbitrêr. Alles en almal word “opgelos” in die kosmos: oorlede persone se hare word byvoorbeeld wolke in “Die wolke” (19), en sterre, die son, die wind en mense geniet gelyke status. Die verse is dan bekoorlik omdat die perspektief so ongekunsteld is.

Afdeling II handel oor diere soos magiese skilpaaie, heksery, en hoe die eerste eland, die eerste volstruis en die eerste mens ontstaan het. In “Die bose skilpad” (23) word vertel dat die volmaan genesende kragte het – ’n siening wat ook deur ander antieke gelowe, byvoorbeeld Wicca, gedeel word. Die eerste eland is deur Kaggen getoor in “Die eerste eland” (28), terwyl ’n volstruis in “Die eerste volstruis” (29) op ’n magiese wyse verrys uit die dood:

Die veer, nog rooi van hartebloed,
raak nat en opgehewe,
en groei weer uit tot ’n volstruis
wat regop kom en skop en lewe.

Volgens antieke kennis is die magiese krag en bygelowe rondom vere welbekend. (Selfs binne die moderne New Age-diskoers is daar volgelinge wat vas glo dat vere wat jy optel, boodskappe van die gode bevat.)

Afdeling III is meer verhalend en bevat ook meer morele lesse. Dit handel oor die skaarsste en kosbaarheid van water, en konflik tussen diere. Die skilpad word geteken as ’n sluwe en wyse ou dier in “olifant en reën” (35-6), terwyl jakkalse die ongewildes, en hiënas die uitgeworpenes, onder die diere blyk te wees in “Jakkals en Hiëna eet wolke” (39). Hen se kuikens word tot vandag toe deur Valk opgevreet omdat Hen nie haar belofte gehou het en Valk se skêr teruggegee het nie, in “Valk en Hen (40), en is tekenend van die kinderlike moraliteitsbewussyn in dié Afrika-sprokie.

Afdeling IV gee eweneens verduidelikings vir die voorkoms van diere: hoe ’n tarentaal sy spikkels gekry het of ’n swartrugjakkals die streep op sy rug’ hoekom ’n reier se nek skeef is, of hoekom ’n uil “hoe-hoe?” roep. Die opbring van uilballe as deel van ’n uil se verteringsproses word só beskryf in “Die uil en die tinktinkie” (55):

Maar Uil begin te knikkebol
ná ’n nag van fuif,
sy ronde kop sak skewer,
en skuinser ook sy kuif.

Naas vorige temas oor metamorfose, magie, kamoeflering en identiteitsvorming in die natuur, handel afdeling V ook oor die dood. Die sikliese gang van lewe ná dood word treffend verwoord in “Hoe dood in die wêreld gekom het” (64):

Van daardie dag af is die Dood
die mens se metgesel;
en Boesmans bly die storie
aan násate vertel.

Die bundel, wat ingestem is op musiek, word dan gepas afgesluit met “Wieglied” (65), waar die maan as trooster en oermoeder van die dooies geskets word. Só word die sikliese gang van die maan (en die verse as eenheid) volrond voltooi.

Ghoera se omdigtings en berymings van Afrika-staaltjies soos opgeteken deur onder andere EW Thomas en GR von Wielligh probeer nie hoogdrawende poësie wees nie. Inteendeel, die ligte en speelse trant en aardsheid van die verse maak daarvan ’n bundel wat deur oud en jonk geniet kan word. Eiesoortig in tematiek en aanbieding is dit egter ook ’n bundel wat maklik ’n gevoel van oorversadiging by die leser kan laat – iets waarvan Aucamp egter nie beskuldig kan word nie. Die vraag is net: Hoeveel soortgelyke bundels wat handel oor die hoe en hoekom van diere se voorkoms, asook die yl intellektuele verwysingsraamwerk van inheemse verhale, kan gelees word sonder om meriete prys te gee?