Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: Deugde en karaktersterktes as voorspellers van akademiese prestasie: Gert van der Westhuizen lewer kommentaar


Gert van der Westhuizen - 2011-10-18

Gert van der Westhuizen reageer op die artikel “Deugde en karaktersterktes as voorspellers van akademiese prestasie” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Leon Ueckermann en Gert Kruger.

1. Die artikel is baie goed geskryf en ’n toonbeeld van hoe duidelik, presies en mooi die Afrikaanse akademiese idioom kan wees. Dis ook ’n bewys dat Afrikaans steeds ’n bemagtigde taal is wat gebaat het by historiese bevoorregting tot op die punt dat dit naas internasionale tale ’n medium van kennisbou is wat nie vir ander tale hoef terug te tree nie.

Daar is nie baie geskrifte in Afrikaans wat die verband (nie verhouding nie) tussen deugde, karaktersterktes en akademiese prestasie ondersoek nie. Hierdie is ’n unieke bydrae, en hoewel die Engelse opsomming goed gedoen is, kan dit meer uitgebreid wees ter wille van toeganklikheid van die artikel vir sprekers van ander tale.  

Akademici soos Kruger en Ueckermann, wat steeds kies om hulle beste werk in Afrikaans te lewer, al is dit in die hoofsaaklik Engelse omgewing van die Universiteit van Johannesburg, verdien die publikasieruimte wat LitNet bied. Die kleim bly afgesteek, en die vondste van glanswerk mooi om te besit.

2. Hierdie studie lewer ’n sinvolle kennisbydrae. Dit werp lig op die problematiek van akademiese prestasie en mense se begrip van die faktore wat daarmee verband hou. Die bevindinge is sekerlik bruikbaar vir verskeie gehore – praktisyns in die beroeps- en voorligtingsielkunde, sowel as beleidmakers en dosente wat wil verstaan watter deugde studente aanmoedig om beter te presteer. Die kennis wat die navorsing na vore bring, moet egter omsigtig hanteer word, soos die skrywers self aanbeveel.

3. Die skrywers bied, soos ’n mens kan verwag van ’n stuk werk van hoogstaande gehalte, ’n baie eerlike selfevaluering aan. Dit is inderdaad gepas om tekorte in die teoretiese raamwerk uit te wys, sowel as om die probleme van sielkundige metings wat nie geldig is vir jonger en ander kulture nie, te erken. Die bydrae is egter ’n goeie een in die sin dat dit verkennend was en duidelike aanbevelings vir verdere navorsing maak.

4. Die artikel moet geëvalueer word in die akademiese tradisie waarin dit aangebied word, naamlik dié van die Positiewe (Empiriese) Sielkunde wat internasionaal gevorm word deur hoofsaaklik Westerse, Amerikaanse teoretici en navorsers.

Die ontwerp van die studie is uiters gepas, en volg duidelik die teksboekpatroon van veranderlikes identifiseer, operasionaliseer, meet, dan ontleed in terme van enkel- en meervoudige korrelasies, en laastens die berekening van variansies verklaar sowel as effekgroottes. Wel gedaan!

Die fokus op die verband tussen karaktersterktes en akademiese prestasie is aanbevelenswaardig. Die prosedure isoleer en meet spesifieke veranderlikes en bereken dan hulle relatiewe bydrae tot die voorspelling van prestasie. Die samevoeging van hierdie veranderlikes is ingewikkeld, veral as die voorspellingswaarde relatief tot ander veranderlikes bereken word. Die probleem is egter dat die relatiewe bydrae van veranderlikes tot die verklaring van verskille in akademiese prestasie as ’n reël variansies onverklaard laat. Anders gestel: mens wil so omvattend moontlik kyk na akademiese prestasie en so volledig moontlik al die relevante veranderlikes in ’n voorspellingsmodel inreken. So ’n meer omvattende model sou kon insluit: metings van vorige prestasie, kwaliteit van onderrig, vakhouding, motivering om te leer, leerondersteuning tuis, taalvaardigheid, ens. Meer omvattende prestasiemodelle bring die relatiewe voorspellingswaarde van veranderlikes in ’n duideliker en akkurater perspektief. 

5. Die studie is bedoel om ’n bydrae te wees tot die Positiewe Sielkunde. Die kennis wat geproduseer is, word geïnterpreteer in terme van die dominante Westerse kanon. Dit is te verstane, maar beteken dat navorsingstradisies in stand gehou en uitgebou word wat nie oop en sensitief is vir postkoloniale denkraamwerke nie. Laasgenoemde problematiseer die politiek van kennis, die dominansie van navorsingstradisies, sowel as die kennisbelange wat deur navorsing gedien word. Die perspektief van postkoloniale teorie moedig navorsers aan om krities te wees oor tradisies van navorsingsperspektiewe en -praktyke.

6. Die studie van Kruger en Ueckermann is onvoldoende gekontekstualiseer. Dis nie regtig duidelik wie die deelnemers is nie, wat hulle geleefde werklikhede is nie, en hoe hulle, kwalitatief gesproke, self byvoorbeeld die verband tussen karakter en prestasie beleef nie. Miskien is dit tyd dat navorsers verby die raskategorieë werk en deelnemers in hulle volle historiese menswees voorstel. Taal help hiermee: Watter interpretasies van deugde en karaktereienskappe kan byvoorbeeld in Tswana en Sotho gevind word wat dieper en meer outentieke insigte kan meebring?

7. Die artikel toon die verhouding tussen die navorsers en hulle deelnemers as ’n verwyderde verhouding, genoodsaak deur die behoefte van navorsers om objektief te wees. Hierteenoor is dit moontlik om navorsers en deelnemers te sien as mense van dieselfde gemeenskap wat in wederkerige verhoudings saam werk om doeleindes van gesonde menswees na te streef; ’n strewe wat gebaseer is op ’n holistiese wêreldbeskouing en die aanvaarding dat navorsers eintlik hulle rol speel as “gesondmakers” in die gemeenskap (Chilisa 2008).

8. Ten slotte: navorsers in Suid Afrika lewe in tye waar die oproepe om sosiale geregtigheid en demokratisering steeds hoog geag word. Mens sou die saak kon uitmaak dat die studie van Kruger en Ueckermann wel ’n sinvolle bydrae lewer. Die problematiek van onduidelikheid oor die faktore wat met akademiese prestasie verband hou, kan egter ook kwalitatief ondersoek word. Paradigmaties sou mens kon werk met ’n benadering wat ingestel is op inheemse kennisproduksie wat bevrydend is, en metodologies ruimte laat vir nuwe kenwyses, soos storievertellings, metafoorontledings, pryssange, gespreksvorme en so meer. Voorbeelde hiervan is in die werk van Chilisa (2005; 2008; 2011), Mertens (2008), Lincoln en Gonzalez (2008), Van der Westhuizen (ongepubliseer) en ander.    

 

Verwysings

Chilisa, B. 2005. Educational research within postcolonial Africa: a critique of HIV/AIDS research in Botswana. International Journal of Qualitative Studies in Education, 18(6):659–84.

—. 2008. Postcolonial Indigenous Research Methodologies: Theoretical and Philosophical underpinnings. Paper presented at the International Sociological Association’s RC33 Conference, September, Napels, Italië.

—. 2011. Indigenous research methods. Thousand Oaks, Sage.

Lincoln, YS en EM González y González. 2008. The Search for Emerging Decolonizing Methodologies in Qualitative Research: Further Strategies for Liberatory and Democratic Inquiry. Qualitative Inquiry, 14:784-805.

Mertens, DM. 2007. The African mosaic and global interactions: The multiple roles of, and approaches to monitoring and evaluation. Paper presented at the conference of the African Evaluation Association, January 18, Niamey, Niger.

—. 2008. Social Transformation and Research Ethics. Paper presented at the International Sociological Association’s RC33 conference, September, Napels, Italië. 

—. 2009. Transformative Research and Evaluation. NY: Guilford.

Van der Westhuizen, GJ. Ongepubliseer. Transformative Policy Research in Education – Strategies for Democratic Inquiry.