Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Afrikaans met moedersmelk ingekry: Christo van der Rheede gesels oor sy nuwe aanstelling en visie


Christo van der Rheede - 2011-10-18

Baie geluk met die aanstelling as uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut vanaf 1 Januarie 2012. Die meeste van ons lesers is Afrikaanssprekend en wil graag meer van die mens weet wat hierdie belangrike posisie gaan beklee. Vertel asseblief vir ons van jou onderwysagtergrond.

Ek was vir 20 jaar in die onderwys en het in 1986 as musiekonderwyser te Elsiesrivier tot die onderwys toegetree. Musiekblyspele, kore en konserte was my forté. Na nege jaar het ek bevordering gekry tot departementshoof en later adjunkprinsipaal in Belhar. Onder my leiding het ons ’n nuwe rekenaarlokaal in gebruik geneem om leerlinge, onderwysers en ouers rekenaarvaardig te maak. Hierdie nuutjie is die gevolg van my betrokkenheid by die drukkery op Genadendal, waar hulle reeds in 1993 die jongste Apple-rekenaars in gebruik geneem het en my gevra het om die koraalboek van die Morawiese kerk saam te stel. Reino Ottermann van die Stellenbosch Konservatorium het met opgewondenheid kennis geneem van my “skouerskuur” met Steve Jobs se voorste tegnologie en het die benutting van musiektegnologie op Genadendal as ’n historiese gebeurtenis beskou. Twee musiekoperettes het ook met behulp daarvan die lig gesien en is by talle skole opgevoer. Ek was in my eerste prinsipaalpos te Silversands, Blue Downs in 1998 aangestel. Daarna is ek deur die WKOD gevra om ’n hoërskool te Wesbank, Delft te begin. Opwindende jare inderdaad om uit die stof en sand van die Kaapse Vlakte akademiese instellings te skep wat by die voorste Model C-skole kon kers vashou. Silversands het gespog met die mooiste tuin, twee rekenaarlokale geïntegreer met ’n biblioteek, ’n rugby- en sokkerveld, leerderondersteuningslokaal, ballet- en musiekonderrig, skoolorkes en omvattende buitemuurse program.  

Twintig jaar in die onderwys. Wat laat 'n man op 'n dag kans sien vir 'n nuwe omgewing, soos by die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans? Hoe het jou pad met hierdie organisasie gekruis?

My verdere studies aan die US se Besigheidskool en Skool vir Publieke Bestuur en Leierskap het my die selfvertroue gegee om aansoek te doen om senior poste. Na talle onsuksesvolle aansoeke om senior poste in die WKOD het ek besluit om na buite aansoek te doen. Die SBA het my in hul midde verwelkom en vandag kan ek ruiterlik getuig dat dit die beste besluit was wat ek geneem het. Die ruimte wat die SBA my gebied het om my kreatiwiteit uit te leef en die blootstelling wat ek gekry het, het my denke en my begrip van die kompleksiteite van die Suid-Afrikaanse samelewing ongelooflik verbreed.

Vertel ons asseblief hoe jou onderwysagtergrond jou voorberei het vir die aanstelling by die SBA.

Ek het op ’n vroeë stadium van my onderwysloopbaan agtergekom dat die taalvaardigheid van ons kinders ’n groot probleem inhou. Afrikaans- en isiXhosasprekende ouers het toenemend aangedring op onderrig in Engels vir hul kinders. Terselfdertyd het die KODESA-samesprekings ons almal onder die indruk gebring dat die toekoms van Suid-Afrika Engels sou wees. UWK het stelselmatig verengels; die middelklas, ek ingesluit, het ons kinders na Engelse skole toe gestuur, want voormalige Afrikaanse Model C-skole is as verkamp beskou. Vandag pluk ons die vrugte van besluite wat op emosies gegrond was. Ons kinders se taalvaardigheid is op ’n lae peil en dit word grootliks toegeskryf aan die taal van onderrig, Engels, wat in die meeste gevalle ’n tweede en selfs derde taal vir baie is. By die SBA het ek besef dat Afrikaans en ook ons ander inheemse tale ’n waardevolle rol te speel het en dat ons dit intensief in die onderwys moet benut om ons kinders ’n akademiese voorsprong te gee. Die aandrang op onderrig in Engels lei tot ’n agterstand. G’n wonder die onderwysowerhede gee nou paddaspronge nie.

Jy was die afgelope ses jaar by die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans. Wat was die visie van die SBA en hoe voel jy is hierdie visie gedurende jou tydperk daar, uitgevoer?

Ons het die visie van die SBA stelselmatig uitgebrei. Vandag is ons werksaam op voorskoolse, laer- en hoërskool- en die naskoolse vlak. Filmspanne van De Kat, kykNET en internasionaal loop die skole se drumpels deur om die SBA se leesprojekte te verfilm. Befondsers is ook opgewonde oor die werk wat ons doen en hierdie jaar het talle nuwe befondsers toegetree. Werkswinkels is ook aan duisende onderwysers, beheerliggaamslede en prinsipale gebied om hul onderrig-, beheer- en bestuursvaardighede te verbeter. En alles in Afrikaans. Ons betrokkenheid by feeste soos die KKNK, Suidoosterfees, Goedverwacht Snoek- en Patatfees, Elim Erfenisfees en talle ander projekte het ’n groot bydrae gelewer om die Afrikaanse huishouding te normaliseer deurdat dit veral bruin mense bewus gemaak het van die opvoedkundige, kulturele en ekonomiese bemagtigingsrol van Afrikaans en hulle verantwoordelikheid teenoor hul taal en erfenis in die breë.

Waarvan neem jy moeilik afskeid by die SBA?

Die vryheid wat die SBA se direksie ons gegee het om ons kreatiwiteit te laat geld en met die wonderlikste projekte in die Wes-Kaap, Noord-Kaap, Vrystaat, Gauteng en Oos-Kaap vorendag te kom.

Dit kon nie net maklik gewees het by die SBA nie. Net hier, op LitNet, was daar soms heftige briewe. Maar in een van hierdie briewe sit jy netjies uiteen waarmee die SBA homself besighou. Voel jy aan die einde van jou tydperk by die SBA dat die SBA mense se gesindhede verander het - of ten minste daaraan begin timmer het?

Dis moeilik om te sê, want verhoudingsbou is nie ’n “fly by night”-besigheid nie. Daaraan moet ons voortdurend werk, want Suid-Afrikaners is geneig om op die ou etniese weë terug te val. Hulle is egter deeglik daarvan bewus dat dit op langtermyn nie haalbaar is nie, want ons lotsgebondenheid is ineengestrengel. In dié verband speel die SBA oor grense heen ’n prysenswaardige rol om mense voortdurend bewus te maak van hul nasionale verantwoordelikheid en hul bydrae tot die nasiebouprojek.

In die onlangse verlede het die SBA al hoe meer projekte aangepak wat ook ander Afrikatale, bv isiXhosa, as wetenskap- en onderwystaal bevorder. Sal dit in jou rol by die AHI steeds ’n fokuspunt vir jou wees?

Inderdaad; ons moet oor grense heen skakel en ons taalgenote bemagtig om die opvoedkundige en ekonomiese waarde van hulle eie tale te ontdek. Die AHI het ’n groot rol om te speel in dié verband om ons inheemse tale as drywers van die gedrukte en elektroniese media, musiekbedryf, advertensiebedryf, erfenistoerisme, publikasiebedryf, televisie- en filmbedryf, ens te posisioneer. So kan ons die plaaslike ekonomie stimuleer en werkskepping bewerkstellig.

Jy was inisieerder en ’n groot voorprater van die Vrye Afrikaanse Universiteit Inisiatief (VAU-inisiatief). Wat het geword van hierdie projek en glo jy dat dit steeds sal voortgaan, of sal jy dit steeds in jou nuwe hoedanigheid nastreef?

Hierdie projek word nou onder die vaandel van die ATR voortgesit en ek bly betrokke.

Jy het heelwat handelsbetrekkinge met Nederland gesmee. Voel jy die Nederlandse konneksie is deel van die toekoms van Afrikaans?

Inderdaad; ons het reeds die week met SANEC ontmoet en daar word heelwat toekomstige netwerking tussen die AHI en SANEC voorsien.  

En nou die Handelsinstituut, as nuwe uitdaging. Mens lees van groot skoene om vol te staan, en van onpaar karperde, 'n "agterdog tussen verteenwoordigers van georganiseerde sake en die regering (wat) openlike kommunikasie en samewerking (belemmer) en (...) ekonomiese ontwikkeling in die land (vertraag)". Hoe beoog jy om hierdie uitdagings te takel?

Suid-Afrika is ’n land van uiterstes en dit maak my opgewonde. As voorbeeld, luister net na die woordeskat van ekonomiese belanghebbendes: die georganiseerde werkgewersorganisasies praat van ekonomiese groei, die georganiseerde werknemersunies van herverdeling/nasionalisering. Kompeterendheid versus uitbuiting. Produktiwiteit versus regte. En iewers tussenin val die pap op die grond. Ons kom nie by die groeikoerse van ses persent uit nie en jaarliks verloor duisende mense hul werk. In dié verband kan die AHI ’n rol speel om ’n “nuwe” woordeskat te help skep wat pragmatisme, wedersydse respek en samewerking, gemeenskaplike visie en missie reflekteer. Ons is dit verskuldig aan ons miljoene landsburgers wat nog steeds in armoede en wanhopigheid vasgevang is. Want ’n ideologies-besoedelde woordeskat sit nie kos op die tafel nie, ook nié onvolhoubare ekonomiese strategieë gebaseer op uitbuiting, gierigheid, vertrapping van menseregte, vernietiging van die natuur en monopolisering van kapitaal nie. Dwarsoor die wêreld lei dit tans tot opstand en anargie.

Wat is jou visie vir die AHI?

Om voort te bou op die ongelooflike werk van my voorganger, Stef Coetzee, om samewerking oor grense heen te bewerkstellig, om ’n kultuur van entrepreneurskap onder skoolgaande jeug te vestig en om eienaarskap veral onder voorheenbenadeelde entrepreneurs te bevorder.

Jy het grootgeword op Goedverwacht, ’n sendingstasie. Hoe het dit jou siening en houding ten opsigte van Afrikaans beïnvloed?

Ek het Afrikaans met moedersmelk ingekry ... dit verklaar als.