Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Bek sonner brieke: Elias P Nel is ’n kultuurskat


Riette Rust - 2011-10-18

Bek sonner brieke
Elias P Nel
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869194604
Prys: R130.95

Klik hier en koop Bek sonder brieke nou van Kalahari.net!



Ek het lanklaas ’n bundel vertellinge so geniet soos Elias P Nel se Bek sonner brieke. By monde van oom Goliat Tross, oftewel oom Goltros, kan jy jou verluister, of “verlees”, aan sy stories oor die mense uit die “gorras” (syfergate) van die Boesmanland. 

Lesers is reeds in 1998 aan dié skrywer se werk bekendgestel toe hy met Iets goeds uit Verneukpan? (kortverhale) gedebuteer het. In 2001 het nóg verhale, Mafoiings en annerlike gelofietjies, verskyn. En met Bek sonner brieke bevestig hy sy plek as een van die beste kontreiverhaalskrywers in die land.

Mens is onmiddellik gek oor oom Goltros, vir wie jy dalk al in die ATKV se maandblad, Taalgenoot, leer ken het – dis waar die vertellinge voorheen, dikwels in gewysigde vorm, verskyn het. Oom Goltros laat glad nie toe dat feite in die pad van ’n goeie storie staan nie. Soos daar geskryf word: “Oom Goltros het nie eintlik spekgeskiet nie, hy het jou sommer met die hele vark gegooi.” Dié oom is ook ’n meester van oordrywing. Hy dra immers ‘n leeu huis toe, vang drie visse gelyk met ’n sweep en vertel dat vlooie en muskiete so groot is dat jy ná net twee, drie “suiwe aan jouse lyf” aan bloedarmoede ly! So oortuigend jy wil hom glo.

Daarby laat oom Gollie, soos hy ook genoem word, nie met hom mors nie. Niemand sê vir dié ouderling (“outerling”) en lid van die kerkkoor (“tjerkkoor”) “hoe lat” hy “moet joewwel en jyg” in die kerk nie. En as die oom hom werklik vervies, wil hy iemand “opdres” “lat hy nie weet waffer issie voorkant van sy gevreet’ie”.   

Oom Goltros besig Omgangsafrikaans soos net ’n inwoner van Verneukpan kan. Reeds in die eerste vertelling, “’n Landskap vir my siel”, staan daar: “[H]ier word ’n Afrikaans gepraat wat so vars en koel is soos ’n gorra se waters.” En terselfdertyd skemer ’n ongelooflike trots op die milieu deur. Want, sê die skrywer aan die begin, beauty is in the eye of the beholder. Al is dié wêreld hard, die plantegroei yl en die reën min, blom die karakters in baie kleure. Daar is manne soos Moos Grysman, ’n vreeslike “wintie”. Moos sê die Boland se grond is, in teenstelling met dié van die Boesmanland, só vrugbaar dat “as jy nou ’n waatlemoen plant en jy draai jou om jouse neus te snyt, dan is daai waatlemoen reg om geëet te word as jy trugdraai”. Ou Hans Arnols is weer “’n onbruikbare mens as daar al ooit een gewees’it”. En ’n donkiehings het Willem Kruppeloor se linkeroor middeldeur gebyt.

Die Boesmanland kan trots wees op twee ander interessanthede: dat die Hoodia gordoni, ’n vetplant wat kaktusagtig lyk en waarvan ’n verslankingsmiddel gemaak word, daarvandaan kom, lees jy. Tweedens is die rieldans, ’n besonderse kultuurskat, ook eie aan dié wêreld.                     

Op sy besonderse manier vertel oom Goltros stories oor spoke, maanlandings, visvang, jag, die liefde, karakters wat te lief is vir die vrug van die wingerdstok, en vele meer. Tussendeur haal hy gereeld sy oorle’ ma, “Gertruida Wilhelmina Jacomina gebore Duiker, getroud Tross”, se raak sêgoed aan. Soos: “’n Ongeluk is altyd gouer as ’n geluk.” En: die lewe is soos ’n rivier “wat sy lope loop, newwermaaind wat die mens ok al stane traai om te probeer om daaraan te veranner”.

Die uitdrukkings is kosbaar: wanneer jy honger raak, besluit jy “dis tyd om ietsietjie oener’ie hemp te sit”. Wanneer jy te veel gedrink het, loop jy langs jou skoene. Water is so helder “lat jy jou daarin kan spieël”. En ’n man se “hanne” is so groot soos sopborde en sy vingers hang daaraan soos ’n uitgegroeide bossie wortels.   

Die vertellinge laat jou keer op keer hardop lag. Soos wanneer oom Goltros ’n bietjie deurmekaar raak met die betekenis van “groter” woorde en van sy seun, wat ’n uitstekende naelloper is, sê: “Daai tjeent van my is vreeslik ligsinnig op sy voete!”

So gepraat van hardloop: die atleet Jessie Ouens se naam was glo besonder gepas, want wanneer iemand iets doen waaraan ons ons verwonder, sê ons mos: “Jissie ouens, kyk wat het hierdie mannetjie gemaak!” Wanneer oom Goltros wonder oor die gebruik van ’n woord soos “skoonfamilie”, sê hy: “Hoekom hulle nou skoon gestane noem word, sal ek tot innie ewageit nooit weet’ie. Want skoon issie meeste van hulle nou okkie juis nie.” Dan is daar natuurlik ook “draadfamilie”. Dis jou bure wat deur ’n draad van jou geskei word. En wanneer jy sit en slaap, dalk van te veel “geraasmaker” (drank), “sitte tiep” jy.        

Reeds op die voorblad met sy komiese illustrasie van Pegasus, die vlieënde perd uit die Griekse mitologie wat die Muse aanbring, weet jy wat om te verwag. Hoe lekker om ook binne-in die bundel verskeie komiese illustrasies, net so kleurvol soos die karakters, deur Mindi Flemming raak te loop.

Bek sonner brieke word as rubrieke bemark, maar mens wonder hieroor. Niemand neem ’n besliste standpunt in nie; dalk moet dit dus eerder vertellinge genoem word. Tweedens eindig sommige van die stories darem te didakties/voorskriftelik. Soos: “’n [O]u bok moet’ie vir hom met jong blaartjies stane ophou nie!” En: “Kyk agter jou baisekel, jou mouter en jouse vrou …” Die vertellinge sê dit reeds!

Dié bundel gee nie voor om ernstige letterkunde te wees nie, maar moenie dat die humor jou flous nie – dis bitter moeilik om dit suksesvol reg te kry. Daarby word die stories bleddie goed vertel. Elias P Nel is voorwaar self ’n Suid-Afrikaanse kultuurskat.

Skaf gerus die bundel aan. Dis goed vir die serotonienvlakke. 

  • Riette Rust is ’n joernalis en skrywer. Haar eerste boek, Lang bene & Lipstiek – Gebruik jou seksualiteit en behaal sukses, het pas by Naledi verskyn.