Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Uit Blou Maandag: Ek en my hond op ’n Maandagoggend


Erns Grundling - 2011-10-18

Ek is ’n linkshandige Skerpioen, gebore op 12 November 1979. ’n Maandag. Dieselfde jaar was die Boomtown Rats se popliedjie “I Don’t Like Mondays” ’n treffer.

Later jare sou ek die liedjie dikwels hoor op Radio Algoa, die radiostasie waarmee ek op Uitenhage in die Oos-Kaap grootgeword het. Maar eers onlangs het ek ontdek Bob Geldof se inspirasie vir die lirieke was ’n 16-jarige meisie, Brenda Ann Spencer, wat op 29 Januarie 1979 by die Cleveland Elementary School in San Diego, Amerika, met ’n geweer losgebrand het op kinders op die speelterrein. Twee volwassenes is doodgeskiet en agt leerlinge en ’n polisieman is gewond.

Haar enigste verduideliking was: “I don’t like Mondays; this livens up the day.”

Terug by my geboorte: My ma was ernstig siek – sy het nierstuipe gehad – en ek het twee en ’n half maande te vroeg my opwagting gemaak. Ek spot dikwels dat dit die enigste keer was dat ek betyds opgedaag het vir iets. Want sien, uitstel – ek verkies die Engelse woord “procrastination” – is my achilleshiel. En op ’n propperse blou Maandag dink ek keer op keer aan al die onafgehandelde take, halfl eë beloftes en verstrykte verskonings.

Vir my is die ergste van ’n blou Maandag beslis nie die praktiese dinge wat skeefl oop nie. Dis die skrikwekkende antisipasie, en hoe dit afspeel in my onbemande beheerkamer van angs.

’n Blou Maandag begin gewoonlik onbetaamlik vroeg, dikwels in die klein ure van die nag, die tyd wanneer Leonard Cohen briewe skryf en sy verdriet agter ’n blou reënjas verskans. Dán, wanneer die res van Groenpunt sluimer, maak die sooibrand in my psige slapende wonde wakker. Met die mishoring wat uitasem blaas – ’n maritieme vuvuzela, monotoon.

In hierdie weeklikse “long dark teatime of the soul” (om ’n frase by Douglas Adams te leen) is dit veral die dinge wat ek uitstel wat by my kom spook – of dit nou die tart van ’n sperdatum by die werk is, ’n oproep na ’n byna vergete vriend, of bloot die kat se inenting.

Ek het as student by die destydse Universiteit van Port Elizabeth al dié tekortkoming besef, en by die universiteitsbiblioteek die boek Overcoming Procrastination deur Albert Ellis en William J. Knaus uitgeneem. Dit het eers beskuldigend op my lessenaar gelê en later byna ongesiens na die boekrak toe gemigreer. Elke dag het
ek gedreig: “Vanáánd.”

Uiteindelik het ek byna twee maande later, op ’n Maandagoggend – hoe dan anders? – met my stert ferm tussen die bene die boek by die biblioteek gaan inhandig. Ongelees.

Asof ’n blou Maandag nie genoeg van ’n uitdaging is nie – is daar boonop die Sondag wat al die angs en stres voorafgaan. Ek vermoed ons onderspeel die uitwerking van die sogenaamde Sunday Blues. Wie ken nie dié hol gevoel wanneer ’n naamlose hartseer hom teen skemertyd kom aanmeld nie?

Die oorsprong van dié eksistensiële struikelblok het dalk daarmee te make dat ons geslagte lank op Sondae niks mag gedoen het nie. My ma vertel toe sy klein was, was selfs naaldwerk op die sewende dag taboe. Die oueres van dae sou glo luidkeels vermaan: “As jy op ’n Sondag met daai naald werk, dan steek jy dit in die Here se oog!”

As jy vroegoggend tot vervelens toe orrelpype tel in die kerk, slegte nuus en sinlose skinder in die Sondagkoerante lees, jou trommeldik eet aan rys, vleis en aartappels, en dan die leë ure daarna moet uitkolf, kan dit mos niks anders wees as ’n wenresep vir die blues nie.

Ek onthou veral toe ek jonk was hoe die hadedas op ’n Sondag teen skemertyd met ’n grootskaalse lawaai in ons agterplaas neergestryk het, so al asof hulle ook bewus was van die naderende, onafwendbare onheil.

Hierdie skemertyd het ’n naam: die blou uur.

Ek het die eerste keer van die blou uur gelees in ’n rubriek deur Etienne van Heerden wat in Die Burger verskyn het. “As jy die geheim van die blou uur kan kraak, het jy die kuns van die lewe ontdek.” Hy gaan voort deur te vertel Eugène Marais het dit ’n ander naam gegee: hesperiese neerslagtigheid.

Volgens Marais is hierdie toestand iets waaraan alle soogdiere – ook die mens – ly. In die diereryk sien jy dit veral by bokke en bobbejane. Teen skemertyd word die trop die meeste bedreig, en dan moet hulle kophou, waaksaam wees.  Die bokke staan dig bymekaar en die bobbejane begin luidkeels treur.

Ek hoef nie ver teen my eie stamboom uit te klouter om die oorsprong te vind van die knaende serotonientekort tussen my slape nie. My oupa Bernardus Rens het op Kruisrivier buite Uitenhage met groente geboer. Hy het altyd soggens by die kombuistafel kom sit, en wanneer my ouma sy koppie koffi e vir hom bring, glo gesug en uitgeroep: “Ai! Dis bítter om ’n mens te wees.”

Ek kan nie namens my oupa praat nie, maar alles dui daarop dat hy, net soos ek, die Swart Hond geken het. Dis ’n bekende metafoor vir depressie wat sy ontstaan by Winston Churchill gehad het. Pasop vir die hond, veral as hy jou beste vriend wil wees.

Ek het onlangs op ’n prentjie van die Swart Hond afgekom, deur Matthew Johnstone, ’n Australiese illustreerder wat die boek I Had a Black Dog gepubliseer het. Dis ’n prentjie van ’n man wat in sy bed lê, met ’n groot swart hond wat bo-op hom sit met sy voorpote rofweg op sy slape. Die tyd op die wekker is 03:20. Die hond lyk mistroostig, selfs simpatiek – dis blykbaar ook bitter om ’n Swart Hond te wees . . . hy doen maar net sy werk. Só ontstaan daar ’n wedersydse lojaliteit.

My eie Swart Hond? Ek leer om saam met hom te leef, veral tydens ’n diepblou Maandagoggend. Ek is nie sy baas nie, en hy nie myne nie. Ons ontmoet mekaar seker maar iewers in die middel.

Ek weet nie of my oupa sou saamstem nie, maar ondanks alles wat sy uitkyk waarskynlik bevestig, verskil ek van hom: “Dis bittersoet om ’n mens te wees.”