Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Uit Blou Maandag: ’n Maniese Maandag


Deborah Steinmair - 2011-10-18

Untitled Document

and the lesson today is how to die
and then the bullhorn crackles
and the captain tackles
with the problems and the hows and whys
and he can see no reasons
’cos there are no reasons
what reason do you need to die?
– “I don’t like Mondays”, The Boomtown Rats

Die nag voor die moord het ek diep en behaaglik geslaap. Dit was die laaste goeie nagrus van my lewe. Die volgende dag, Maandag, sou ’n rustige dag wees. My voorbereiding vir Dinsdag se kongres was so te sê klaar – die PowerPoint-voorlegging opgestel, die toespraak amper ingestudeer. Ek sit rustig aan die ontbyttafel en besin oor die veeleisende week wat voorlê. Riedwaan sit stug en breed in sy stoel in die sonkol voor die yskas. Hy is geen oggendmens nie en rep nooit ’n woord voor elfuur nie. Dit pas my goed. Met ’n stomende koppie koffi e in die een hand blaai ek ingedagte deur die vouer van die reisagentskap met die volgende dag se vliegkaartjie, ’n koepon vir Budget Rent a Car en aanwysings na die konferensiesentrum. My oog val terloops op die datum van vertrek. Vandag se datum. Ek word yskoud, só koud dat ek skaars die kokende koffi e oor my dye voel uitstort. Vertrektyd: tienuur voormiddag. Airport check-in opens 90 minutes before take-off and closes sharply 30 min before your fl ight departs. Halftien dus. Dis nou skuins ná agt. Ek woon ’n uur en ’n half se ry van die lughawe af, ás die pad skoon is. Dis spitstyd.

Ek was al aangetrek, maar nou lyk my roomkleurige linnelangbroek na ’n vuil koffiesak. Thobeka was verlede Donderdag siek en voorverlede Donderdag begrafnis toe, en die Donderdag voor dit was Vryheidsdag – dus is my hele klerekas in die wasgoedmandjie. My arms windmeul, gryp hier, laat val daar. Ek storm motorhuis toe in ’n swart romp wat sou kon doen met ’n goeie stryk. Ek voel hoe my sykous leer, al langs my been af tot binne-in my hofskoen, wat erg knyp. Hol terug en gryp my geheuestokkie op die lessenaar. Die stokkie met my PowerPointstuk. In die verbygaan vang ek per ongeluk Riedwaan se donker oog. Dit sein iets onaangenaams: leedvermaak. Schadenfreude is die enigste vreugde wat hy nog smaak.

Die petrolnaald lê ver onder half. Daar is ’n Engen op pad lug - hawe toe; ek moet eerder so gou as moontlik op die snelweg kom. Dis ’n nagmerrierit lughawe toe: rooi verkeersligte, omgeslane vragmotor, verkeersknope. Knope. Soos my sedige saliger ouma prewel ek herhaaldelik: “My goeie liewe hemel en verblerriedomp.” Ek trap die lepel plat wanneer dit moontlik is. ’n Rooi petrolpompie fl ikker op die paneelbord. Terwyl my maag in ’n bak jellie verander.

Tienuur storm ek die lughawegebou binne met geleerde sykous en hofskoene wat knyp. Vries. Draai in my spoor om. Die geheuestokkie. Nael terug parkade toe. Die stokkie lê op die passasiersitplek vir my en knipoog. Die sleutel pronk blink in die aansitter. Al die deure is gesluit. Tyd vir slotmakers is daar nie. Ek tel ’n verdwaalde baksteen op en versplinter die klein venstertjie met die tweede probeerslag. ’n Skerp glasskerf sny my pols, maar ek pluk die sleutel uit die aansitter, bewend, sluit oop, gryp die stokkie en laat spaander met bloeiende arm, terwyl ’n  veiligheidswag op my afpyl. Watwo, ek was in die jare sewentig naelloopkampioen. Ek reis lig. My elmboë pomp soos suiers. Ek wen vinnig veld. Die instaphek is my wenpaal. Ek skouer myself deur die hekkie, bo-oor die besware van die beampte: “Ek móét op hierdie vlug wees,” prewel ek verbete. Dis tien oor tien. Die bussie is al vort, maar ek maak oop en toe oor die aanloopbaan na die vliegtuig toe. Hulle is besig om die trappie weg te stoot. Ek steek ’n stokkie daarvoor. Ek is ’n bol adrenalien. Ek is gefokus en dikvellig. Ek veeg besware en verwyte uit die pad. Ook die beskuldigende oë van die ander passasiers. Jammer om van julle twak te verneem. Dis lewe en dood.

Die vliegtuig land sonder voorval. Ek is weer betyds. Alles loop reg, altyd reg. Ek is voorbereid en kalm. Ons is almal wenners.

Tot ek die slaggat tref en die skoot hoor klap. Dis die band van die gehuurde motor wat bars. Kalm onthou ek om nie rem te trap nie, swenk eenvoudig die gevaarlik swaaiende voertuig af na die skouer van die pad, haal my voet van die petrolpedaal af, voer ’n amper foutlose noodrem uit met die ratte, lig die handrem op. Kom in ’n stofstreep, met klippers wat spat, teësinnig tot stilstand. Wag ’n driekwartier dat die AA opdaag.

Nou is ek weer laat – en onseker oor die ligging van die konferensiesentrum. Verdwaal in ’n voorstad wat bestaan uit konsentriese sirkels wat die slagoffer dieper en dieper die doolhof inlei, soos ’n insek in ’n venusvlieëvanger. Huil ’n bietjie. Klop by ’n polisiekant oor aan met visioene van vriendelike offi siere in blou wat my met fl itsende blou ligte na my bestemming begelei.  Toe nie. Die nors beamptes het nog nooit van die voorstad of die konferensiesentrum gehoor nie, en geen blou sitvlak lig uit ’n stoel uit op nie. By ’n stopteken keer ek ’n haastige Hell’s Angel vol tatoeëermerke aan en smeek hom om my ten minste uit die voorstad te begelei.

Spoor die lokaal swetsend en swetend op, tien minute nadat my voorlegging moes begin. My direkteur sou my waarskynlik probeer bel het, maar my selfoon het ure gelede vanself afgeskakel. Battery low.

Op die smal trappie voor die lokaal geef die hak van my hofskoen die gees. Dit hang aan ’n draadjie en swaai nutteloos soos ’n slap swingel. Ek hink die lesinglokaal binne, beswete, hare teen die kop vasgepleister, maskaratrane onder die oë, leer in die sykous, bloed aan die baadjiemou. Ons maatskappydirekteur staan agter die mikrofoon en kleitrap. Sy frons verdiep toe hy my gewaar en op en af aankyk soos iets wat ’n mens van jou skoensool afgekrap het. Ek haal diep asem en trek my skouers terug. Nonchalant. Kaalvoet oor die Drakensberg. Onderweg na die podium skop ek een van die agbare kliënte se aktetas dat hy dáár trek. Gee pad, ek het tonnelvisie.

Ek is weer in beheer. Ek is kalmer as kalm. Ek glimlag soos moeder Theresa en groet die aanwesiges om die beurt hartlik, gemoduleerd. Steek my stokkie in die maatskappy se skootrekenaar wat gereed staan. Die dokument wat opspring, is nie PowerPoint nie. Dis ’n Adobe-dokument, naamloos. View slide show? wil die rekenaar weet. Het ek dit verkeerd gesave? Ek dubbelklik maar daarop, koelkomkommer. Vet letters in ’n sanserif-font word op die wit skerm voor in die lokaal gegooi: SUPERBOOBILICIOUS BUTT-NAKED FAT-ARSED BABES IN THE BARNYARD. Ek klap die skerm toe op die eerste skyfi e van ’n bomenslik dikke lady Godiva, viervoet tussen die varke, punt in die wind. Vervloekte Riedwaan, die siek ploert. Ek probeer die rekenaar vervaard afskakel, sonder sukses. Die beeldmateriaal is nou gesensor, maar die klank vier hoogty. Verrukte sugte en snakke wat styg na ’n klimaks, otte wat snotter.

Ons maatskappydirekteur sak met rasse skrede op die podium toe, wasbleek, skakel die klank af. Sy mond ’n styfgespanne doringdraad. Ek loer na die kliënte. Totale afkeer op die stroewe gesigte. Ek gooi die handdoek in en draai op my stukkende hak om. Hangskouer.

Op pad na die gehuurde motor haal die direkteur my in. “Beskou jouself hiermee as afgedank, mev. Patel. Dit was die laaste strooi.” Hy hou die stokkie tussen duim en wysvinger na my uit, asof dit ’n vuil snesie is.

Dit was die goeie deel van my dag.

Ek en my advokaat het ontoerekeningsvatbaarheid, tydelike kranksinnigheid en senu-ineenstorting gepleit, maar so iets is moeilik om te bewys en buitendien het my geld vir regsverteenwoordiging opgedroog. Ek wens ek kon, soos ’n mens moordenaars dikwels hoor protesteer, niks van die gebeure onthou nie. Ongelukkig is die teendeel waar. Elke oomblik is op my netvlies ingebrand.

Ek was dodelik kalm. Alles was glashelder en totaal onvermydelik, soos in ’n nagmerrie. Hierdie Maandag was die dag waarop ek alles beëindig. Riedwaan is miskien volksvreemd, maar ek is ’n trotse Afrikaner. Gesinsmoord is in ons gene. Natuurlik is dit gewoonlik die man wat vrou en hond, kind en kraai uitwis voordat hy homself skiet. Maar met Riedwaan se siekte dra ek al so lank die broek in hierdie huis. Miskien het ek verander in die man met wie ek wou getrou het. Gelukkig het ons nie kinders nie, geen arme bloedjies om af te ransel nie.

Riedwaan was maklik om mee klaar te speel. Van die eksotiese, briljante, aantreklike donkerkop-advokaat met wie ek teen my familie se sin getrou het, het in elk geval weinig oorgebly. ’n Bondeltjie wrewel in ’n rolstoel, al sy ledemate verlam deur motorneuronsiekte. Hy smeek my al lank om hom van kant te maak. Sy mediese uitgawes het my onherroeplik in die skuld gedompel en sy bitterheid vergal my dae. Die siek gemors op die stokkie was die blerrie limit.

’n Kussing oor sy suur gesig. Tien, twintig, dertig, veertig tellings. Dit was belaglik maklik. En die bruisende adrenalienoordosis wat my kop laat suis het ná die daad, salig. Ek het heeltemal te goed gevoel om myself uit te wis met sy morfi enpille, soos wat die plan eers was.

Natuurlik het ek hoog en laag gelieg en hard probeer om dit na spontane hartstilstand of fynbeplande selfmoord te laat lyk. Ek het nie gereken op die e-posse wat hy in die voorafgaande weke met die laaste werkende vinger afgevuur het na al sy kennisse en vervreemde familielede nie. E-posse waarin hy vertel hoe lief hy die lewe het en dat hy elke kosbare oomblik wat hom gegun word, met dankbaarheid aangryp.

Hier sit ek nou. Ek het hope tyd om te wonder of dinge anders sou verloop het as ek op daardie potblou Maandag eerder in die bed gebly het. Maar gedane sake het geen keer nie. En ten minste sukkel niemand met my nie: My nooi Soekie is die armdrukkampioen van die hele Blok B.