Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

One Day vele dae te lank


Jacques Liebenberg - 2011-10-18

One Day
Regisseur:
Lone Scherfig
Kamerawerk: Benoit Delhomme
Rolverdeling: Jim Sturgess en Anne Hathaway
Looptyd: 107 minute




Dié is een vir die smartvrate.

En daarby ’n fliek sonder enige teken van momentum, waarvan die opmerklikste eienskap die vertoning van die datum is soos die jare aanstap.

Dis so vrekvervelig jy kan nie besluit of jy moet lag of huil wanneer die Groot Gebeurtenis uiteindelik – en ons praat hier eers van so tien minute voor die einde – sy opwagting maak nie. Hier’s goeie raad: gooi jou springmielies en koeldrank vroeg al gelyktydig in jou keel af en kyk of jy verstik. Dit sal soete ontvlugting bied. Want sien, dis eintlik veronderstel om ’n bittersoet tragedie te wees. ’n Bietjie soos Sliding Doors, maar sonder John Hannah se charisma.

Waarin Lone Scherfig, regisseur, en David Nicholls, wat sy boek vir die groot skerm aangepas het, wel slaag, is om aan die altyd middelmatige Jim Sturgess die geleentheid te bied om een van die mees onsimpatieke karakters in die onlangse fliekgeskiedenis te skep. Wat die duiwel Anne Hathaway se bleeksiel-boekwurm in hom sien, gaan die verstand te bowe. Daar’s eintlik nogal heelwat ooreenkomste met An Education, Scherfig se debuut. Daarin word die naïewe, akademiese hoofkarakter ook meegevoer deur die “verkeerde soort” man en Parys bied ook aan haar ’n “opvoeding”. Maar dis die aard van die liefde, reisigers. Niemand kan dit verklaar nie en bla-bla.

Hier’s nog goeie raad: as jy op ’n selfsugtige verloorder verlief is en jy ontmoet in Parys ’n suksesvolle musikant en hy lyk gaaf, kies altyd die Fransman.

Dit kom voor asof Scherfig nie mooi kon besluit hoe hy die storie wil skik nie. Daar’s geen dramatiese momentum nie en die episodeagtige vertelling is so gefragmenteerd en onsamehangend mens verloor gou belangstelling. Hathaway, wat nog nooit gewys het sy kan ’n ernstiger fliek dra nie, oortuig eweneens nie. Dis ironies genoeg die byspelers – Patricia Clarkson as Sturgess se ma; Ken Stott as sy pa; en Georgia King as sy eerste vrou – wat die grootste indruk maak.

En dan breek daardie voorspelbare, melodramatiese ontknoping aan en uiteindelik openbaar One Day ’n skynseltjie diepte – in sy terugflitse! Dis ’n hele klomp dae te laat, mnr Scherfig. Begín volgende keer daarmee. Selfs Christopher Nolan kan dit doen.

One Day bied nie veel as ’n epiese romanse nie. Jack & Sarah bied in sy éérste tien minute aangrypender kykstof. Epiese romanses? Ek kyk sommer weer na Betty Blue – en dis nie die soort fliek wat goed afgaan met pizza nie. Die kat daarin het ten minste meer van ’n persoonlikheid as Sturgess en Hathaway sáám.