Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Poësie | Poetry > Afrikaans > Gepubliseerde digters

die weerligvoël


Petra Courtney - 2011-10-14

die weerligvoël

hoekom sirkel die weerligvoël vannag al om my hut, my dogter?
hoekom klap hy sy donderende vlerke oor my woonplek?
hoekom spoeg hy gevurkte vuurtonge
wat sissend diep vore om my buitemure skroei?

ek sien helder verwondering in jou oë, my dogter
jou hande wat huiwerig uitreik na iets wat vaag bekend is
jy bondel nie verskrik saam met ons in die verste, donker hoekie nie
jy kniel nie vreesbevange saam met die res van jou familie
en roep na die voorvadergeeste nie

ek het jou vanaand sien sit by die uitspattige vreemdeling
om die vuur waar die mans sit en bier drink
met sy vreemde rooi en wit klere het hy op lang bene
voor al die vrouens gepronk
met sy gekromde neus net skuinsweg aan die moutbier gesnuif
en sy rooi voete het ’n eie onheilspellende ritme
op die dansvloer uitgestamp

en toe die mans versigtig vyandig naderstaan
nadat die vroue meegesleur sy ritme begin saamklap
het hy stil-stil weggesluip

is dit die weerligvoël wat jou kom soek, my dogter?
het sy gladde mond jou ore met bliksemwoorde toe laat slaan?
het sy vuur jou verstand
soos die swart geraamte van ’n boom laat stol?
het hy jou, my skone, gehoorsame en getroue dogter, verheks?

ek sal my hut moet afbreek en op ’n ander plek gaan bou
want ek sidder voor die woede van die weerligvoël
wat met ’n enkele vlerkgeklap my hele woning verdelg
en met sy krom rooi pote my tuin vol swart gate skop
o my dogter, hoekom bly sit jy op sy onheilsnes?