Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Skryfsake | Writing matters > Afrikaans

Praatjie by geleentheid van eretoekenning aan Floris Abraham Brown deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans


Charles P Beukes - 2011-10-13

Ek sit een laat somermiddag in die bovertrek van ’n gastehuis in Aucherareder, ’n dorpie in Skotland, naby die wêreldberoemde Glen Eagles Hotel, waar my dogter haar praktika doen, en begin skryf oor Floris Brown. Sommer net want ek oorweeg ’n artikel in een of ander publikasie. Nooit het ek kon dink dat daardie stukkie spontane werk beslag sou kry by vandag se verrigtinge hier by die US, waar Brown vereer word deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans nie. Vir my is dit ’n besondere eer om deel van hierdie prestigeryke geleentheid te wees.

Dankie, Boeta vir die eer en voorreg.

Noem die naam Floris Brown en verskeie beelde flits deur jou gedagtes. Dis die komponis, die instrumentalis en sanger. Skepper van Treffersparade-sukses. Dis die Engelse digter, die Afrikaanse digter, die internasionale digter. Dis die kultuuraktivis. Die bekroonde sportlegende wat in 2007 vereer is vir sy bydrae tot skaak onder swart spelers.

“Boeta” vir sy musiekaanhangers regoor die land en “FA Brown” vir die kultuurghoeroes van Suid-Afrika en Nederland.

Al die genoemde kwaliteite in een mens. Maar as lewenstaak nommer 1: die onderwyser van Worcester.

Floris Abraham Brown was onderwyser voor onderwysers “opvoeders” geword het.

Gebore op Worcester op 10 September 1948 as die oudste seun van Johnny en Maggie Brown het hy sy skoolloopbaan te African Methodist Episcopal Church School (laerskool) en Esselenpark Hoërskool voltooi, en sy onderwysstudie aan HEWAT.

Ons paaie het vir die eerste maal gekruis toe my pa die Boy Scouts, of Padvinders, in Worcester begin het en Boeta ons troepleier was.

Daarna was ek bevoorreg om verskeie artikels oor hierdie begaafde persoon te kon skryf.

Floris Brown het pas sy 23ste werk, Kaleidoskoop, uitgegee in Maart vanjaar, toe is hy is alweer besig met drie nuwe werke, waarvan een ’n handleiding vir die digbundel Gloei is.

Brown se missie is om sy mense te inspireer om nie hul Godgegewe talente te verberg nie, maar hul talente optimaal te gebruik, ongeag of jy minder of meer talentvol is en ongeag of jy minderwaardig voel weens ’n liggaamsgebrek.

Sy musiektalent is gestimuleer deur sy pa. Sy musiekleierskap word vroeg al bevestig toe hy op ouderdom 15 alreeds in ’n orkes, Romeo 5, sy musiektalent vertoon, en op ouderdom 18 het hy Restless Children gestig wat bestem was om een van die land se gewildste orkeste te word, en in besondere klas, naamlik ’n groep met sy eie oorspronklike komposisies, waarvan “Until tomorrow” deur die rassistiese kleurgrens gebars het om die amptelike Top 20 van Suid-Afrika te haal en boonop Goueplaat-status (vir verkope oor 25 000) te verwerf. In daardie stadium was hy al lid van die prestigeryke Guild of International Songwriters and Composers.

Dié van u wat destyds die Allemans op ’n Saterdagoggend op TV gevolg het, sou ook Floris en sy Restless Children gesien het in die program.

Daarbenewens is nog een van sy komposisies, wat hy ook self sing, “Hard to reach you”, in 2007 opgeneem in die rolprent Dollars and white pipes.

En – kan ek byvoeg? - vandag in postapartheid-Suid-Afrika is sy komposisies steeds ’n openbaring vir vele van ons landsburgers - asof ’n musikale herlewing van ’n era waarop hulle deur apartheid uitgemis het.

Hulle wie destyds weens apartheid nooit die voorreg gehad het om die supergroep Restless Children te ervaar nie - of vir wie dit nie destyds polities korrek sou gewees het om gaande te wees oor ’n plaaslike kunstenaar van kleur nie, soos ’n goeie vriend van my dit in standerd 9 ervaar het toe hy sy voorneme aangekondig het om sy dorpsgenote se plaat te koop. Vandag is hy die grootste versamelaar van RC-komposisies.

Ek was bevoorreg om die eerste joernalis te wees om oor Restless Children te skryf, maar was ietwat geïrriteerd met die opskrif in Rapport Ekstra: “Tokkel tokkel kom hulle oor die bult”. Dit het so platvoers gekink en ek het net vir ’n oomblik oorweeg dat sou dit ’n stedelike groep gewees het, die opskrif seker minder aanstoterig sou gevoel het.

Boeta speel die klawerbord, fluit en kitaar met gemak en is een van daardie kunstenaars met die vermoë om heeltemal op sy eie ’n volledige musiekopname te maak met al die instrumente en dan nog te sing ook.

Soos hul pa het sy kinders, Rumacques, Natasha, Clarisca en Rhandi, almal musiektalent, maar wend dit hoofsaaklik in kerkmusiekverband aan.

Floris het al in verskeie TV-optredes as individu en saam met sy orkes op SAUK TV2, SAUK TV3, Fokus en Pasella, kykNET en Radio Sonder Grense opgetree.

Reeds op 12-jarige ouderdom het Brown die eerste keer gedig en was hy seker een van die jongste digters wie se werk gepubliseer is – in Engeland en Amerika van alle plekke.

Sommige historici sal hierdie episode in sy lewe bestempel as tipies van die destydse situasie in ons land, waar talentvolle sportlui, sangers en helaas ook woordkunstenaars hulle oorsee moes wend ten einde geleenthede te benut wat destyds weens die apartheidsituasie hulle nie beskore was in hul land van geboorte nie. Dink maar aan Basil D’Oliveira, Precious Mckenzie, Danny Williams en en ….

Boeta het sy hooflewenstaak – die onderwys – in 1999 vaarwel geroep, maar anders as ander afgetredenes het hy sy werktempo na aftrede verdubbel gemeet aan die aantal skeppings wat sedertdien uit sy skrywerspen die lig gesien het.

Hy sou egter nie toelaat dat die swart-slagoffer-sindroom hom gevange hou soos in die geval van so baie potensiële swart presteerders nie. Nee – Boeta was nie ’n passiewe slagoffer van apartheid nie, maar ’n aktiewe stryder daarteen.

Sy vrou, Gloria, met wie hy 40 jaar getroud is, sê dat daar nooit sprake van ’n rustige aftrede was nie – die fokus het net verskuif, maar die volume werk het toegeneem.

Ek kon nie my nuuskierigheid beteuel om by Gloria te hoor hoe Boeta aan haar propose het nie, siende dat hy so ’n knap woordkunstenaar en musikant is. Haar antwoord: “Hy’t my nooit gevra om te trou nie – ek wag al 40 jaar dat hy my vra.”

Anders as baie kunstenaars/digters is Floris allesbehalwe ’n introvert en loop sy opregte liefde en omgee vir sy mense en sy omgewing soos ’n goue draad regdeur sy werke. So is vele bundels van hom al verkoop eksklusief om die broodnodige fondse te in vir die skatkis van welsynsinstansies soos Chipros Landelike Bemagtiging en Eden Dagsentrum vir verstandelik gestremdes.

In 2000 skep hy, ondersteun deur Christine Gerber, hoofbibliotekaris van Breedevallei-munisipaliteit, die Breedevallei Dichters as lanseerbasis vir talle nuwe en opkomende Afrikaanse digters wat andersins nooit hul werke in druk sou kon sien nie. Vir myself, soos vir talle ander, het die gebeurtenis ’n nuwe gebruik tot ons Worcester-kultuur gevoeg, naamlik dié van digbundelloodsings en geleenthede van poësievoorlesings.

Floris is in 2001 deur die Junior Rapportryers vereer as Worcesteriet van die Jaar.

Die Breedevallei Dichters-inisiatief gee hom selfs meer werk, aangesien hy hiermee die mentorsmantel vir vele jong digters opneem. Een van hulle is Kiwidore Fillis, wat in 2010 ’n eksklusiewe bydrae tot die Wêreldbeker-nalatenskap vir Worcester maak met ’n kompetisie onder leerders vir gedigte met die 2010-Wêreldbeker as tema. Eksklusief omdat dit, sover bekend, die enigste van sy soort in Suid-Afrika was, en ook hierin het Brown ’n aandeel gehad.

Sy eie bydrae tot die eenmaal-in-’n-leeftyd-geleentheid het ook ’n internasionaal-verspreide Wêreldbekerliedjie vir die Breedevallei 2010-Wêreldbeker-aksie ingesluit, naamlik die lied “Viva FIFA 2010 World Cup Soccer Fever”, wat gereeld op Vallei fm-radio en by die fanjol op Worcester gespeel is om die landelike gemeenskap (suksesvol) te inspireer en te mobiliseer om deel te word van die geskiedkundige geleentheid.

Die Breedevallei-aksie was die enigste in die Wes-Kaap, en moontlik Suid-Afrika, met ’n eie fanjol-kenwysie op plaaslike radio, ’n eie Wêreldbekerlied gesing deur Alexa Strauss, ’n Matie-student, en les bes ’n eie Wêreldbekerdigbundel as nalatenskap – en in dit alles het FA Brown direk of indirek ’n aandeel gehad.

Sy lewensmotto is: “Sukses lê in die dinge wat jy agterlaat vir andere om van te leer”, en hy het ’n sterk sin vir regverdigheid en geregtigheid.

Die pen is magtiger as die swaard en ek glo as die geskiedenis oor Floris Abraham Brown se nalatenskap eendag geskryf word, dit sal reflekteer op hoe hy as niegewelddadige aktivis – ’n woordaktivis – op niebombastiese, nie-arrogante, niegewelddadige wyse apartheid beveg en vir duisende ander wat hulself as apartheidslagoffers beskou het, juis uit daardie slagoffersindroom wakker geskud het. Met sy musiek, sy komposisies, sy gedigte en sy geskrewe werke ’n lewende inspirerende en motiverende benchmark kom stel het van hoe om nie toe te laat dat die donkerkant van ekstern-afgedwonge diskriminasie die ligkant van jou Godgegewe inherente potensiaal kom blus nie.

Daarvoor salueer ons vandag trots ’n ikoon uit eie reg uit die pragtige Breedevallei.