Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Skryfsake | Writing matters > Afrikaans

As stilbly ’n manier van praat is: Die lewe en werk van Adam Small bespreek


Bibi Slippers - 2011-10-13

Untitled Document

’n Simposium oor die lewe en werk van Adam Small is op Vrydag 8 Oktober by die UWK aangebied. Small sal in Desember vanjaar sy 75ste verjaarsdag vier, en akademici met persoonlike en professionele bande met Small het van hierdie geleentheid gebruik gemaak om te besin oor Small se bydrae as digter, dramaturg, filosoof en mens.

Tydens die oggendsessie het Jakes Gerwel, Francois Cleophas en Michael Cloete persoonlike herinneringe en benaderings tot sy werk uit verskillende invalshoeke gedeel. Gerwel het persoonlike herinneringe onder die tema “Language en silence” gedeel, terwyl Cleophas se fokus op familiegeskiedenisse, aanlope en vroeër invloede was. Cloete het persoonlike refleksies op taal en politiek in Small se filosofie gelewer.

Na die teepouse het die fokus verskuif na die werk van Adam Small. Steward van Wyk het ’n lesing getitel “Sjibbolet: ’n intertekstuele lees van Celan, Derrida en Small” gelewer. Hy het spesifiek gefokus op Celan se gedig “Schibboleth” en Small se bekende gedig “Sê Sjibbolet” waarin die Bybelse gegewens van Rigters 12 met apartheid in verband gebring word.

Hein Willemse se bydrae het gefokus op outobiografie en herinnering in Adam Small se toneelstuk The Orange Earth, en het uitgelig hoe Small sy outobiografiese gegewens as verset aanwend. Volgens Willemse verteenwoordig The Orange Earth Small se mees desperate uitroep om burgerskap, en word die hele toneelstuk ’n kreatiewe daad teen ontkenning. Terwyl Small nooit ’n voorstander was van gewelddadige verset nie, het hy tog geweld in hierdie drama ondersoek, en gesê: “Ek kan nie ’n regte bom plant nie, maar ek het ’n bom in my gemoed.”

Wium van Zyl se onderwerp was “Retorika in Kanna hy kô hystoe van Adam Small”. Hy het begin deur ’n persoonlike staaltjie te vertel wat mens lank na die simposium nog bygebly het, omdat dit so simbolies is van Small se lewe en die belangrikheid van sy werk. Van Zyl vertel dat hy en Small kollegas by die UWK was, en dat die universiteitsbestuur op ’n stadium die kringpad om die kampus ’n eenrigting gemaak het. Hierdie reëling was ongerieflik en onprakties, maar die personeel het maar daarby ingeval. Dis nou almal behalwe Small. Hy het blykbaar gereeld sy kollegas laat skrik deur oop en toe téén die stroom verkeer aangery te kom – Van Zyl is nou nog nie seker of Small aspris of bloot vergeetagtig was nie, maar hoe dit ook al sy, die eenrigting het gou genoeg weer in ’n tweerigting verander.

Frank Hendricks het ’n taalkundige perspektief op Small se werk gewerp. Sy tema was Small se literêre verrekening van Kaaps en hy het onder andere die aandag gevestig op die manier waarop Small Kaaps verbind het met ander taalkodes wat binne die hoogbloei van apartheid as aanvaarbaar geag is en sodoende hierdie miskende variëteit van Afrikaans te laat ken. Hy is vol lof vir Small se bydrae tot die verryking van Afrikaans, en hoop dat Standaardafrikaans in die toekoms ’n klomp verskillende variëteite daarin opgeneem sal hê.

Ná middagete het Nico Koopman ’n teologiese perspektief op Small se werk gelewer onder die titel “A prophet for dignity?”. Hy het verwys na Small se profetiese kritiek op die samelewing, en Small aangeprys as ’n profeet van menswaardigheid, iemand wie se lewe en werk van menswaardigheid drup. Hy het daarop gewys dat Small ’n voorstander was van nierassigheid, geregtigheid en inklusiwiteit, en dat hierdie waardes in sy werk weerspieël word. Hy het in antwoord op ’n vraag uit die gehoor ook daarop gewys dat Small se werk vandag nog net soveel van toepassing is op ons samelewing en dat die gedig “What about de lô” byvoorbeeld relevant is tot die Wet op die Beskerming van Inligting wat onlangs deur die regering bekendgestel is.

Amanda Botha het as gespreksleier opgetree tydens ’n sessie waarin Abraham de Vries en André P Brink Adam Small in die konteks van Sestig onthou het. Brink het vertel hoe die Sestiger-beweging een van die eerste samewerkings oor die kleurgrens verteenwoordig het, vernaam in die vorm van die tydskrif Sestiger, waartoe beide Small en Brink bygedra het. De Vries het veral gefokus op Small se bydrae in terme van vernuwing van vorm en gesê dat hy, in teenstelling met die ander Sestigers, wat almal “belaglik ernstig” was, oor ’n speelsheid beskik het wat hom uitgesonder het. Brink het hierby aangesluit deur te sê dat Small se poësie lag as bron gebruik het. Small het aan sy eie lyf gevoel wat dit beteken om jou vry te lag, maar dit was altyd Kierkegaard se “laughter administered in fear and trembling”.

Die gesprek het vir ’n lang tyd gedraai om Small se rol as dramaturg. Brink staan verbyster voor Small se bydrae tot die Suid-Afrikaanse drama: hy het dit verbreed, daarop voortgebou, dit ontwikkel en vooruitgedink, en volgens Brink is sy beskeie oeuvre van ’n handjievol dramas een van die seminale oeuvres in Afrikaans. Brink het ook sy ontevredenheid uitgespreek oor die feit dat Small nooit met die Hertzogprys bekroon is nie.

Ter afsluiting het die paneel gesels oor Adam as swygende, en die keuse tot stilte wat hy die afgelope jare uitgeoefen het. De Vries het verwys na Heidegger wat gemeen het: “Falling silent is a mode of speaking.” De Vries voel dat Small se swye te make het met die feit dat hy reeds alles gesê het wat gesê kan word oor onreg. Brink vestig ons aandag op Small se relevansie vir kontemporêre lesers, dat sy stem eintlik vandag nóg belangriker is as ooit vantevore, en onderstreep die belang van gesprek rondom sy werk: “Hoe stil hy ook al in reële terme geword het, kan ons nie bekostig dat sy stem stil word nie.”

Die laaste paneel vir die middag het bestaan uit die digters Antjie Krog, Willem Fransman jnr en Ronelda Kamfer, wat uit Small se werk voorgelees het. Krog het ook ’n kort gesprek gelei oor Small se invloed op Fransman en Kamfer.

Die verrigtinge is afgesluit met die vertoning van ’n videoportret wat Abraham de Vries oor Adam Small gemaak het. Die video, getiteld Adam Small – loner en  indiwidu, werp ’n besonder intieme en insigryke blik op Small se lewe, en bring die realiteit tuis wat De Vries reeds in die vroeër gesprekspaneel geopper het: Adam Small is ’n stem teen onreg wat nie in ’n spesifieke tydsgreep ingereken kan word nie. Hy praat oor alle onreg vir alle tye. En dis daarom dat hierdie simposium en soortgelyke gesprekke oor Small en sy werk belangrik is. Dus, kô lat ons aanhou sing.