Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Michael le Cordeur: Die punt is

Die rustelose kind van Worcester: ’n digter sonder erkenning


Michael le Cordeur - 2011-10-13

Dis tyd dat die uitgewers hul trots in hul sak steek en die erkenning aan Floris Brown gee wat hom toekom. Of gaan ons, soos in die geval van ’n ander reus en bruin gemeenskapsdigter, Adam Small, wag totdat dit reeds te laat is? Michael le Cordeur het Saterdag ’n lesing gelewer by die Versindaba op die kampus van die US waarin hy geargumenteer het dat Brown as digter reeds wasdom bereik het, miskenning ten spyt.

Floris Brown na sy optrede in Zuid-Afrikahuis in Amsterdam

Ek het die eerste keer van Floris Brown gehoor toe ek nog op skool was en hy as liedjieskrywer van die orkes Restless Children goue status verwerf het met die liedjie “Until tomorrow”. Een van sy liedjies is verlede jaar gekies om by die jolkolle en Wêreldbeker-stadions gesing te word. Maar dit was eers in 1985 dat ons paaie werklik gekruis het, toe ons kollegas geword het in skolesport. Sy kennis van skaak het beïndruk.


Die afgetrede onderwyser van Worcester was voortdurend besig om te onderrig – of dit nou as digter, dramaturg, skaakmeester, onderwyser, liedjieskrywer, eggenoot, pa of gemeenskapsmens was. Floris hou nooit op om ons daarop te wys dat daar wel ’n “tomorrow” is nie: jy kan nie opgee nie; jy kan nie ophou bid nie; want môre wag.
En as ek sy lewe moet opsom, sal dit wees dat hy ’n ewige skaakstryd gevoer het teen gesag; teen die eertydse regering, sy struggle teen apartheid, sy bruinwees, sy God. Altyd gereed om die volgende die skuif te maak.

Die “rustelose kind” se bydrae tot Afrikaans is omvattend: meer as 24 digbundels en gedigte in meer as 72 versamelbundels tussen 1974 en 2011; verskeie kortverhale, eenbedrywe en verhoogstukke. Sy pennevrug sluit in Gloei (1994); Phoenix (1996); Waar aasvoëls draai (1996); Die woudmaker (1998); Skadukinders (1999); Grysvos (2000); Die koei stort ’n traan (2000); Klank van die byl (2000); Roep van die maanwolf (2002); Rott (2003); Blokhuis (2005); Altyd die liefde (2007, in België); en meer onlangs: Kaleidoskoop en Sing vir my (2011).

Bloemlesings waarin van sy werk verskyn, is onder meer Aankoms uit die skemer; Groen en Reënboogstemme; Different horizons; Nuwe verset; Taal van liefde; en Carved in stone. Hy publiseer ook heelwat in Nederland, onder meer in Honderd Nieuwe Dichters 3; De Afrikaanse poëzie in duizend en enige gedichten; De Dichters uit Epibreren; en Gedichten bij de Netring.

Sy jongste bundel, Kaleidoskoop,is vir my’n samevatting van Brown se repertoire; ’n veelkleurige skouspel waarin hy telkens die grense verskuif; asof hy bang is dat hy homself sal inperk. Die bundel bied ’n kaleidoskopiese beeld wat die huidige werkersklas se leefwêreld verwoord. Daar is by hom ’n waardering vir sy eie geskiedenis, en die bydrae van sy eie mense tot die public good. In “Skertsend” (Gloei, 1994) verwys hy na die bydrae van een van die dorp se kleurrykste karakters, oom Frikkie Dairy, wat die melklorrie bestuur:

sonder oom Frikkie Dairy
sal die tee en koffie swart wees;
en geen smaak aan die mieliemeel;
ja dit sal brand in jou keel.

En in Films treur hy oor Oubaas se Bies (bioskoop) wat afgebrand het:

Next week se serial,
Me Tarzan You Jane
lê asvaal verbrand in die as en die pyn.

(Let op die woordspeling tussen puin en pyn.)

Waar aasvoëls draai (1996) handel oor sy liefde vir sy gesin en sy pogings om hulle teen die moderne aasvoëls te beskerm. In die gedig “Klein hartedief”besing hy die koms van sy jongste dogter:

Jy het soos ’n dief in die nag gekom
versigtig eers loer, skelm-skelm
suutjies het jy jou voetjies
oor my drumpel gestoot.

In hierdie bundel maak hy sy lesers voortdurend attent op die swaarkry en armoede van sy mense:

Sewe honger kinders klop aan my deur
gee brood en vleis asb meneer
ek vra die oudste: is julle nie op skool?
hy wys my sy skoene sonder sool.

Maar hy bied (in Kaleidoskoop) ook oplossings hoe sy mense aan armoede kan ontsnap:

Huisnood

Al trek ek net met ’n tafel op my kop
In my munisipale huis
Dan het ek alreeds baie gedelf
Al die ander goed kom vanself.

Phoenix (1996) is ’n bundel oor die struggle-tydperk in Suid-Afrika soos oa opgeteken in “Apartheidsvloek”,waar hy worstel met God en vrae vra soos:

Was dit God se toorn?
vir hulle wat ons so vermink
ons kinders begrawe in hole stink
vir hulle wat ons inhok
ons kinders verkrag in ’n gommatrok.

Hy dra die bundel op aan John Beukes (Charles se pa) wat hoofleier van die Padvinders was, en soos die ware Padvinder het hierdie besonderse man lank voor 1994 reeds die pad vir ons aangedui. Hy beskryf oom John se heengaan as volg:

Die seer-uur sal vir ons aanbreek op Sy Tyd
die gemis aan ’n leiersfiguur wat nie meer daar is
sal met die aanstap van die tyd verdwyn
en so ook die pyn.

Van groot belang is dat Brown reeds hier in 1996 vrae begin stel oor ons renosters wat so afgemaai word. In “Renoster” skryf hy:

oor ’n asvaal stofverwaaide grysland
soek ’n renosterkind haar ma
in ’n gedroogde meer
het sy kom kry haar moeder se oorskiet
bebloed sonder ’n vlymskerp horing of snoet.

Sy bundel Die Woudmaker (1998) is ’n worsteling met sy Skepper en handel oor, soos Brown dit stel, die vloek van ons wat te veel pigmentselle het. Gedigte soos “Pigmentsel” en “Kleurgrens” handel oor die onreg van apartheid. Brown skryf dat liefde geen kleur ken nie en terwyl ons hieroor tob, word ’n kind in Robertson doodgeskiet. Sy raad is om te “Bid”, en “Onthou God in jou lewe”. Hy sluit af met “Onrustige kinders van God”, ’n aanduiding dat die Restless Child nog nie rus kon vind nie.

In Kaleidoskoop word die leser blootgestel aan Brown se vele vaardighede: daar is ’n vigs-drama, limerieke, ’n kortverhaal, stories uit die kontrei, en my gunsteling, ’n aantal kwatryne waarin hy sosiale kommentaar lewer op die lewe. Hy mik ’n hou na die establishment-letterkundiges wat nie ’n woord uiter ter ondersteuning van die struggle-digters soos hyself nie:

Waar is julle
O julle letterkundiges
is so oorverdowend stil
S-o-o oorverdowend aan het swyg
Is julle druipstert na jul gate aan het hyg?

Hy skryf oor die liefde vir sy vrou Gloria:

Toe ek geen verskuilde agenda aan jou kon vind
Het ek geweet ons liefde is vir altyd gebind.

As sportadministrateur kry hy ook ’n hou in na die Springbokke:

Dit is die toets vóór die toets
Waar die bokke faal
Hul struikel oor rassisme
Terwyl hul na die doellyn nael.

Maar Brown se bitterheid omdat hy deur die uitgewers oor die hoof gesien word, dreig om sy digkuns te oorheers:

Mense hou nie daarvan om
Woorde te lees wat kwel
Aan hul vel, dus, is ek tot vandag
Geen Uitgewer se pêl.

Maar dan kom die skaakmeester met nog ’n meesterskuif: toe niemand sy werk wou publiseer nie, publiseer hy dit self: “[T]erwyl uitgewers soos tipiese blokhuise nog steeds net hul voorkeurskrywers publiseer, is selfpubliseerders soos onderstromige wingerdboer produseerders wie se vrugte een of ander tyd soet op die tong val” (Kaleidoskoop, bl 41).

In ’n tyd waar almal bekommerd is oor die voortbestaan van Afrikaans, is dit onvergeeflik dat ’n Afrikaanse digter 24 bundels op eie koste moes publiseer, dat sy werk in Nederland en België gepubliseer word, maar in sy geboorteland misken word. Hy kon, soos so baie van sy tydgenote wat in Afrikaans ontvang en gebore is, sy rug op sy taal gekeer het – maar hy het nie, danksy ’n passie vir Afrikaans soos blyk in “Moedertaal”:

Seun vergeet tog nooit jou eerste kontakwoord
diep uit jou moederlong
se vriendelik omgee tong
is die pêrel deur God geskenk
aan jou my kaalvoetklong.
(Uit Phoenix, 1996)

Daarom antwoord ek graag as hy vra:

Hoe sal ek ’n digter word?

Hoe sal ek tog dan nou kan maak
Dat uitgewers ook van my ’n digter maak
Na wie sal ek my gedigte stuur
As ek my jare vasloop teen ’n loodreg muur?

My respons: Boeta, jy is rééds ’n digter, en – noudat Adam Small se stem stil geword het – dalk die mees geloofwaardige stem van die Afrikaanse mense van die onderdorp.

 

  • Michael le Cordeur doseer Afrikaansonderwys aan die Universiteit Stellenbosch.