Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies-resensie-essay: Aweregs, spitsvondig en droog : Net ’n lewe as ’n feministiese teks


Nini Bennett - 2011-10-12

Untitled Document

Net ’n lewe
Fransi Phillips
Uitgewer:
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799351606
Prys: R179.95

Klik hier en koop Net ’n lewe nou van Kalahari.net!


Ek pak ’n geborduurde katoennagrok in vir die hospitaal, ’n paar babygrows en weggooidoeke, ’n walkman met tapes van opera-arias wat ons oorsee gekoop het en Beyond good and Evil van Nietzsche.

Die engel frons oor die boek. Hy vra: “Wat is die doel hiervan?”

“Gewoonlik is filosofie nutteloos,” lag ek, maar hierdie keer kan ek dit gebruik om die verpleegsters se stemme uit te blok.”

Hy kyk na my asof hy my die eerste keer sien.

“Jy’s mal,” sê hy, “om dit te wil lees die nag voordat jou baba kom.”

My mond val oop. “Dis min of meer wat Nietzsche gesê het.”

“Wat het hy gesê?”

“Dat ’n vrou wat genoeg IK het om ’n koerant te lees, ’n pervert is.” (125)

’n Mens kan nie kwaad word vir ’n feminis soos Fransi Phillips nie. (Mans ook nie.) Daarvoor is haar humor te droog en aweregs, het sy te min eksplisiete woede en is die venyn teenoor mans te goed gemaskeer met ironie. Net ’n lewe, wat as wenner die R100 000-prysgeld in die Lapa-romankompetisie (2011) verower het, kan in vele opsigte gesien word as ’n hoogtepunt binne die Afrikaanse feministiese diskoers en binne Phillips se oeuvre. Dit is verfrissend dat die skril ondertone wat dikwels in feministiese teorie en kritiek teenwoordig is, afwesig is by Phillips. Met understatement en ’n getemperde styl wys sy sekuur die wanbalans tussen mans en vroue uit en laasgenoemde het ’n groter impak op die leser as die voorspelbare lawaai van militante vroue oor die gewaande onreg teenoor hulle.

Fransi Phillips en Maritha Snyman by die LAPA Roman- en jeugromankompetisie se glansaand


Opsommend handel Net ’n lewe oor die lewe van ’n vrou wat in ’n motorkaping doodgeskiet is. Haar vriendin Heleen erf haar dagboek wat oor ’n tydperk van dertig jaar geskryf is sedert sy eerstejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria was. Heleen neem dan die vertelfunksie oor en die dagboek word herskryf as ’n roman. Van ’n boeiende verhaallyn is hier nie sprake nie. Eintlik toon die roman raakpunte met baie vroue se lewens: die hoofkarakter studeer BA, berig oor haar studentejare, ontmoet ’n argitek-student, hulle trou, die huwelik beland op die rotse, ’n babadogtertjie word gebore uit die huwelik, ’n egskeiding volg en sy moet noodgedwonge die pot aan die kook hou as enkel-ma. Die krag van die roman as feministiese teks lê dan juis in die voorspelbare en triviale gang van een vrou se lewe, ’n werk waarmee baie vroue ook kan identifiseer en Net ’n lewe kan laat uitstyg as ’n objektiewe korrelaat van andere se lewens.

Binne die feministiese diskoers word die roman dan vlugtig bespreek aan die hand van ses feministiese merkers. GC Van Rooyen wys in Om te dwing tot versoen: ’n feministiese lesing van die poësie van Antjie Krog (1991) daarop dat laasgenoemde merkers wat sy ontwikkel het, gebruik kan word as vertrekpunt om die feministiese diskoers te tipeer. Met “merkers” word geïmpliseer die daarstelling of uitkenning van ’n unieke stel feministies-georiënteerde teksinterne rigtingwysers. Die feministiese merkers sentreer rondom die swaartepunt van feministiese denke, naamlik die destruksie van die penis/fallus as metaforiese verkragting: as die vrou die man op geestes-emosionele wyse verkrag, balanseer sy die geestes-emosionele verkragting wat sy moes ondergaan. Sy doen dit met die pen, ook ’n metafoor van ’n vrou wat in beheer is. Die feministiese merkers lê die gemis/leemte by die vrou bloot, maar dit dui ook die ontwikkeling van ’n feministiese bewussyn op pad na versoening met die man aan – en word eindelik die versweë ideaal van feminisme, naamlik dié van androgeniteit.

Die merkers is:

1. Die opneem van die pen

Die patriargale teorie rondom literatuur berus op die tradisionele siening dat die pen die hiperteken van die man is. Gilbert en Gubar (1980:46) beweer: “Male sexuality … is not just analogically but actually the essence of literary power in patriarchal Western culture, … the text’s author is a father, a progenitor, a procreator, an aesthetic patriarch whose pen is the instrument of generative power like his penis.” By die vrou gaan dit daarom om in beheer van haar eie pen (en eie metaforiese pen(is) te wees, naamlik die klitoris). In feministiese denke en literatuur word die vroulike pen/klitoris ’n instrument vir die skryfdaad, wat ’n selfvervullende en selfbevrugtende funksie het. Die vrou neem die pen op en eien haar dit vir haarself toe: dit is ’n poging om mag oor die man te kry of om ’n magsverhouding in die teks tot stand te bring.

“Ek wil nie hê dat jy moet boeke skryf terwyl sy by die kleuterskool is nie,”  sê hy.

“O. Wat wil jy hê moet ek skryf?”

“Ek wil hê dat jy aan niks anders as aan my moet dink nie.”

Ek kyk vir ’n oomblik op om te sien of hy miskien sy humorsin herontdek het en besig is om ’n simpel grappie te maak, maar hy is doodernstig. (156)

Nadat die hoofkarakter en haar argitek-man (wat slegs as “die engel” bekend staan) relatief gelukkig was voor hulle huwelik, raak hy toenemend jaloers op haar skrywerskap en studies. Die engel en die huisdokter raai haar af om verder te studeer, en die engel verbied haar om selfs in haar dagboek te skryf. Sy moet haar volle aandag aan hom en hul baba gee. Voorts verbied hy haar om in Afrikaans te skryf, omdat dit nie lewensvatbaar sou wees nie. Sy hou egter aan om in die geheim te skryf en publiseer selfs ’n boek sonder sy medewete. Die engel se onsekerheid jeens sy intellektuele vrou neem toe en hy versoek haar om net resepteboeke en bababoeke te lees. Sy behou egter monopolie op haar intellektualiteit deur steeds filosofiese boeke te lees en te weier om haar gedagtes met hom te deel. Die opneem van die pen het die engel ontmasker as ’n ontoereikende eggenoot wat bedreig gevoel het deur sy vrou. In stede van toegee aan sy eise, skei sy van hom en behou haar identiteit as intellektueel: sy oorleef dan ook (ironies) deur haar skryfwerk. Na die motorkaping waarin sy sterf, erf haar vriendin haar dagboek. Nou neem Heleen die skryffunksie oor: op simboliese vlak erf nog ’n vrou die hiperteken van die pen/mag van die skrywende vrou en gee gestalte aan ’n roman.

2. Aftakeling van die huishoudelike beeld

Binne patriargale konteks is ’n jong dogtertjie se toekomstige rol as vrou en moeder reeds vir haar uitgespel. Showalter (1986:14) wys in terme van die huishoudelike sfeer daarop dat “women writers were united by their role as daughters, wives and mothers.” Daar word dus van die stereotiepe standpunt uitgegaan dat die huis die middelpunt van ’n vrou se bestemming is omdat huishoudelike werk tradisioneel as die werk van die vrou beskou word. Die huislike milieu waarin die vrou beweeg, word gekleur met die alledaagse sleurwerk rondom tuisteskepping en die versorging van haar man en kinders. Dit bring ’n verskraling in die uitlewing van haar menswees mee, en sy ervaar ’n emosionele en intellektuele leemte wat haar in opstand teen die huishoudelike bring. Feministiese denke verwerp egter die afhanklikheid van die vrou van die man: deur die huishoudelike beeld wat met haar geassosieer word, af te takel, dekonstrueer sy in werklikheid die patriargale samelewingskonvensies wat metafories in lyn met die man gestel word en wat vir haar onderdrukking verantwoordelik gehou kan word.

Die baba kan nou al ver genoeg rondseil op haar maag om haarself te verongeluk deur van die bed af te rol. So, ek gaan na die onderste deel van die semi met ’n kussing en my boeke en ’n spul speelgoed, en gaan lê op my rug en lees met die baba. Soms seil sy te ver weg, dan seil ek agter haar aan. (132)

Ek vermoed dit irriteer hom as ek my gedra asof sy huis aan my ook behoort. (124)

’n Konvensionele moeder en huisvrou is die hoofkarakter beslis nie. Sy erken dat sy getrou het omdat sy soos ’n alien voel en dus tog maar iewers moes hoort – maar besef kort na die huwelik dat sy nie haar identiteit en kreatiwiteit sal opoffer om haar eggenoot se mindere te wees (word) nie. Dit is juis haar skeppende gees wat haar in botsing bring met die tradisionele beeld van huisvrou en moeder. Die engel, wat heimlik bedreig voel deur sy eksentrieke eggenoot, beweer dat sy geestesversteurd is nadat hy haar aangerand het en laat opneem het in ’n psigiatriese kliniek. Sy besef dat egskeiding die enigste uitweg en behoud is vir haar en haar dogtertjie, en dat dit ’n totale dekonstruksie van haar bestaan in terme van die huishoudelike sfeer (en sekuriteit) sal teweeg bring. Dit dring ook tot haar deur dat haar vorige logika: as sy aan haar man behoort, behoort alles van hom ook aan haar, irrelevant en belaglik is binne die raamwerk van haar eie individualiteit. Ironies genoeg vind sy haar volle (geïntegreerde) identiteit terug in ’n letterlik afgetakelde huishoudelike sfeer (sy gaan woon in ’n vervalle woonstelblok na haar egskeiding).

3. Identifikasie met (historiese) feministiese figure

In die roman identifiseer die hoofkarakter nie met bekende historiese feministe nie – maar wel met haar twee oumas. Die identifisering dui alreeds op ’n afwysing van die man, en vervang die behoefte aan “vervulling” deur die man. Kooij en Steinmetz (1983:6) beweer: “De funktionele realiteit van het literaire kunstwerk konkretiseert zich in een soort dialoog, in een wisselwerking tussen historische werklikheid en de in de literatuur manifest wordende reaktie daarop.”

Teen die einde van die vakansie kom kuier die engel op die plaas. Ek kan sien hoe hy terugruk van my stiefouma se baard wat hom krap toe hy haar soen. Die volgende oomblik ruk sy ’n padda aan sy een poot uit haar visdam en slaan die ding pap met ’n pik. (68)

Die engel bly karring oor die Nietzsche-boek.

“Hoekom kry jy nie liewer ’n boek oor name nie,” vra hy, “sodat ons kan besluit wat ons haar gaan noem.”

Ek kyk nie op nie. “Greta,” sê ek, “my ouma se naam.” (128)

Die hoofkarakter het twee oumas gehad: Greta, ’n fyn aristokraat wat oorlede is, en haar stiefouma, ’n Apostoliese verpleegster wat aan ’n burleske karakter herinner. Dié streng stiefouma duld geen nonsens nie en slaan selfs ’n rinkhals met ’n haelgeweer pap nadat die oupa die slang mis skiet. (Die doodmaak van die slang – ’n Freudiaanse falliese simbool – herinner sterk aan die swaartepunt van die feministiese denke, naamlik die destruksie van die penis.) Dit is egter met die aristokratiese ouma dat die hoofkarakter sterk identifiseer: sy lyk soos haar ouma en het dieselfde melankoliese temperament. Die afwysing van die man (die engel) word bevestig as sy hul dogtertjie na haar ouma Greta vernoem en so ’n matriargale tradisie voortsit. Die meeste karakters in Net ’n lewe is naamloos (byvoorbeeld die kommunis, die engel, die baba, die spierman, ensovoorts). Die hoofkarakter se dogtertjie kry egter ’n volle identiteit, oorgeërf by haar ouma Greta: “Greta kan nou loop en is nou Greta en nie meer ‘die baba’ nie” (145). In kontras met die hoofkarakter se kwynende identiteit binne ’n ongelukkige huwelik ontwikkel Greta in reliëfplasing met haar ouma tot ’n volwaardige en amper formidabele karakter.

4. Die man as teiken

Die donker god
Fransi Phillips
Uitgewer:
Random House Struik
ISBN: 9781415203668
Prys: R90.95

Feminisme is gesetel in die wanbalans tussen man en vrou, en hoe die man in die feministiese literatuur geteken word, verdien om hierdie rede aandag. As teenvoeter vir haar teleurstelling in die man loods die vrou ’n protesaksie teen die man. Sy demonstreer haar aggressie in die afwysing, vernedering of aftakeling van die man by wyse van vernedering, snedige opmerkings, spot, ironie, sarkastiese uitlatinge en so meer. Die vrou se (self-) woede omdat sy vanweë die magteloosheid jeens haar onderdrukte staat soveel moes ontbeer, lei tot ’n projeksie van opgekropte woede op die man. Só word haar weerloosheid tydelik opgehef, en word die magsverhouding as’t ware omgekeer.

Ek merk op dat my aanstaande eks nie meer so mooi soos voorheen is nie. Sy hare is grys en te kort gesny, en hy dra ’n bril wat maak dat ’n mens nie sy mooi oë kan sien nie, en sy dubbelken is vet, en in plaas van die engelagtige glimlag is sy gesig nou so suur dat ’n mens kan dink hy het ’n pynappel in sy poephol. (169)

Selfs al het Phillips ’n man (as teiken) in haar visier, temper sy haar aggressie met humor. Sy is deeglik bewus daarvan dat die skerpste kritiek dikwels in satire gelewer word, en maak mildelik gebruik daarvan. Deur fyn te spot met die engel maak sy die leser bewus van sy infantiliteit, en dat hy bedreig voel deur sy intellektuele vrou. Die engel is ook uitermate besitlik en jaloers, en nadat hy haar van haar vriende geïsoleer het, probeer hy ’n houvas op haar gedagtes (intellek) kry. Sy besef dat sy “net aan haarself behoort” – dat haar individualiteit en kreatiwiteit nie gereduseer of “gedeel” kan word met ’n man nie, en besluit om te skei. Die verwysing na haar eggenoot as “die engel” staan in skrille kontras met sy jaloerse en gewelddadige kant. Verwysings na sy swart oë wat “blits” roep eerder ’n diaboliese assosiasie by die leser op. Interessant verwys die outeur die eerste keer na hom as “die engel” (49): “Die engel raak onmiddellik bleek van toorn.” Die bybelse konnotasies met “toorn” (“toorn ontvlam”) skakel weer met Die donker god, ’n vorige roman van Phillips wat ook oor die vreemde liefde vir ’n aantreklike en manipulerende man handel.

5. Taal as klankbord: stiltes, hiate, ellipse en haplografieë

Jacobus (1986:29) meen: “[T]he feminine takes its place with the absence, silence, … that discourse represses.” Deur middel van sintaktiese onvolledigheid, hiate, ellips en haplografie word verlies ikonies verbeeld. Die taalgebruik van vroue verskil dus van dié van mans, en word gekenmerk deur aarselinge, weglatings en onvoltooide sinne. Die opheffing van die spanningsverhouding tussen ondergeskiktheid en dominasie behoort by wyse van ’n teenreaksie van die vrou se kant op ’n talige wyse bewerkstellig te word. Haar stilte kan besweer word deur (woede-) uitbarstings, blatantheid, kru taal, ensovoorts. Ter ondersteuning beweer Elshtain (1982:134): “There are extant feminist approaches to language … one is a tough, hard language riddled with fierce evocations of power, exploitation, manipulation, and violence.”

Die ambassadeur noem ek ambassadoos omdat my eerste ontmoeting met hom op ’n doos was, en ook om ander redes wat ek nie in my eie dagboek vir myself hoef te verduidelik nie. As hulle per ongeluk hoor dat ek dit sê en my daarna uitvra, sal ek sê dis die Afrikaanse verbuiging wat dui op respek en eerbetoon. (239)

“Ek is die oudste van vyf kinders,” sê ek. “Daar is niks wat jy my van babastront hoef te leer nie.” (125)

Die outeur maak geen geheim daarvan dat sy keelvol is vir haar huwelik of haar latere werk as kulturele adviseur by die Tsjeggiese ambassade nie. Die skryf van ’n dagboek word as ’n tradisioneel vroulike aktiwiteit gesien, maar die dagboekskrywer maak ’n bespotting daarvan deur so dikwels in kru taal na gebeure te verwys. Die verbale woede van die hoofkarakter is egter nooit geforseerd nie, en doen nie opsetlik aan nie – inteendeel, dit verhoog eerder die satiriese waarde van die werk. In gekruide taal trap Phillips verskeie samelewingskonvensies uit: die huwelik, Afrikanermans, die ANC-regering – in ’n neutedop: sy teiken die patriargale strukture wat die blaam moet kry vir die feit dat ’n lewe hedendaags so nietig is, geminimaliseer deur onsekerhede soos werkloosheid, korrupsie en misdaad.

5. Teks as “being” / “being” as vrou

Binne die feministiese raamwerk begin die vrou se drang tot verwoording by die bekende, naamlik haar liggaam. Dit bied aan haar die geleentheid om uiting aan die (geslags-) wanbalans van haar bestaan te gee. Wanneer sy haarself (liggaam) toenemend in die woord/teks oplos, ervaar sy nie alleen verligting nie, maar kom so ook tot die ontdekking van haarself. Die teks word met ander woorde die estetiese resultaat van die gerepresseerde psige van die vrou. Deur die leë of onvervulde leemtes – die vaginale holte, baarmoeder en onvervulde holte van die hart – metafories te besweer, word die vrou kreatief self teks, en vind sy voltooiing in haarself.

Te veel gedigte gaan dood, dink ek. Te veel verhale word nooit vertel nie. Die lewe is kwalik ’n halwe verwesenliking van homself. (55)

Die boek gaan oor verlies. Dis asof die boek treur oor al die dinge waaroor ek nie kan bekostig om te treur nie. Ook wat ek besig is om te verloor. Tog praat ek nie reguit daarin oor my huwelik nie. Dit hou ek vir my verbode dagboek wat iemand dalk eendag sal ontdek. (150-1)

Tydens haar huwelik en na haar egskeiding het haar verliese, en die emosionele pyn en fisieke aanranding wat sy met ’n chauvinistiese eggenoot verduur het, gestalte gevind in haar dagboek. Sy het haar liggaam en gees as’t ware “opgelos” in die teks, en die beliggaming daarvan in ’n dagboek, asook die latere geredigeerde roman van Heleen, het die wese van haar liggaam/psige/teks laat oorleef, al sterf sy. Die nietigheid van ’n vrou se lewe hef dan die grense op dat alle mense se lewens nietig is (veral in Suid-Afrika). Die dagboek wat Heleen erf, is die bewys dat ’n kreatiewe gees oorleef: deur teks te kon word, het die hoofkarakter ook voltooiing in haarself gevind.

Ten slotte

Binne die feministiese diskoers is Net ’n lewe ’n viering van ’n vrou se kreatiwiteit, individualiteit en vryheid na haar egskeiding. Phillips se aweregse waarneming en vertolking van gebeure bied aan die fynproewer ’n pikante verbeelde werklikheid – en nêrens trap sy in die strik van geykte seksistiese humor nie. Die roman oorweldig nie die leser met grofgeskut nie. Die galgehumor en ironie rondom geslagsongelykheid tref soos pylpunte telkens sekuur. En dít is kuns.

Bronne

Elshtain, J.B. 1982. Feminist discourse and its discontents: language, power, and meaning. In Keohane e.a. (reds.) 1982.

Gilbert, S. M. en S. Gubar. 1980. The madwoman in the Attic: the woman writer and the nineteenth-century literary imagination. Londen: Yale University Press.

Jacobus, M. 1986. Reading woman: essays in feminist criticism. New York: Columbia University Press.

Keohane, N.O. et al. (reds.). 1982. Feminist theory: a critique of ideology. Chicago: University of Chicago Press.

Kooij, J.G. en H. Steinmetz. 1983. Systeem en funktie: aspekten van het ondersoek in taal- en literatuurwetenskap. Van Gorcum: Assen.

Lodge, D. (red.). 1988. Modern criticism and theory: a reader. Londen: Longman.

Phillips, F. 2007. Die donker god. Roggebaai: Umuzi.

—. 2011. Net ’n lewe. Pretoria: LAPA Uitgewers.

Showalter, E. 1988. Feminist criticism in the wilderness. In Lodge (red.) 1988.

Van Rooyen, G.C. 1991. Om te dwing tot versoen: ’n feministiese lesing van die poësie van Antjie Krog. Ongepubliseerde DLitt-proefskrif. Pretoria: Universiteit van Pretoria.