Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

The Change-Up – amateuragtig en amper lagwekkend simplisties


André Crous - 2011-10-11

The Change-Up
Regisseur:
David Dobkin
Kamerawerk: Eric Alan Edwards
Rolverdeling: Jason Bateman, Ryan Reynolds, Leslie Mann, Olivia Wilde
Looptyd: 110 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 30 September 2011

 

Dis kere soos hierdie wanneer ek herinner word hoe neerdrukkend ’n slegte film kan wees, maak nie saak watter genre dit is nie. The Change-Up is ’n totale verleentheid en in selfs swakker smaak as die ander laagtepunt van die jaar, The Hangover II, wat vroeër vanjaar uitgereik is en deur dieselfde draaiboekskrywers uitgebraak is.

Dave (Jason Bateman) en Mitch (Ryan Reynolds) is twee boesemvriende, die een ’n ambisieuse prokureur met ’n vrou en drie jong kinders, die ander ’n niksnuts wat in sy laat dertigs steeds heeldag lank op sy rusbank lê, drink, naai en hoog raak, terwyl die wêreld by hom verbygaan en hy altyd hedonisme bo verantwoordelikheid verkies. Hoekom Dave sy beste vriend is, sal nugter weet, maar die film wil ons graag laat glo dat Mitch iets het wat Dave beny (dalk die ry vreemde vroue met wie hy elke aand sy bed, of eerder sy rusbank, deel?). En dit is hierdie begeerte om iets van Mitch se lewe se ervaar, nes Mitch se begeerte om hoegenaamd ’n lewe te hê, wat die katalisator is vir die groot gebeurtenis: die twee ruil liggame wanneer hulle saam in ’n fontein water afslaan.

Ja, ons het die storie al vantevore gesien, of ten minste al daarvan gehoor: dis vanjaar se Freaky Friday, maar oneindig verder onder die belt en meer obseen. Dalk is ek oudtyds, maar ek moet bieg dit is vir my moeilik om van ’n film te hou wat begin met ’n skoot waarin babapoef kolskoot in ’n ander karakter se gesig in gespuit word.


Ons weet van die begin af dat Mitch se roekelose gedrag probleme gaan skep by Dave se werk; trouens, Dave weet dit self – hy is immers sy beste vriend – maar is nogtans stomgeslaan wanneer Mitch hom soos ’n nool gedra. Natuurlik weet ons dat hierdie tonele op pad is, maar ons is self ook verbaas, want sekerlik is niemand so infantiel nie ...? Dis moeilik om die heeltyd te kyk, nie omdat die situasie ongemaklik is nie, maar omdat die situasie so ongeloofwaardig en oordrewe is. By tye is dit so belaglik dat ons wonder of alles nie dalk net ’n nagmerrie is nie, soos die film self.

The Change-Up stuur af op ’n soort dubbele lewensles wat so simplisties is, dit is amper lagwekkend. Die eerste les is dat ons nie ander moet oordeel voordat ons nie onsself in iemand anders se skoene gestel het nie. Die tweede les is dat groei tog moontlik is, selfs vir die mees hopelose gevalle op aarde. As jy net die wil het om te verander, dan kan jy enigiets vermag, selfs optree soos ’n ware prokureur, sonder dat jy enige ondervinding het.

Die vrouekarakters in die film word met baie meer kompleksiteit benader, en veral Dave se vrou, Jamie, vertolk deur Leslie Mann, moet uitgesonder word vir haar puik werk, selfs wanneer die wêreld rondom haar besig is om inmekaar te stort. Dit maak sin dat Mann in die werklikheid getroud is met regisseur Judd Apatow, wat gewoonlik ’n veel meer menslike benadering tot komedie het, eerder as die piesangskilvariëteit (met al die simboliek van die piesang).


Sabrina, Dave se smeulende kollega, en sy eie dogter, Cara, het ook albei baie snaakse tonele, verbaal en fisies, wat ons toelaat om aan te hou kyk. My gunsteling-stukkie dialoog behoort aan Sabrina, wat, wanneer sy gevra word of sy nie beledig is deur haar baas se heel ongepaste seksuele gedrag by die werk nie, antwoord: “I like being offended, but usually after work.” Sulke skatte is egter afwesig uit die res van die storie.

Die film is nie snaaks nie. Die dialoog bevat meestal rowwe taal wat eerder hoort in die monde van suipelinge, met een enkele uitsondering, wanneer Mitch geleer word hoe om soos ’n volwassene op te tree en die gemiddelde dag van die ouer in ’n enkele sin saamvat: Dave wys na ’n skedule op die yskas en sê: “Fifty hours of obligations on any given day – make it work!”

Bateman, wat naam gemaak het met sy rol in die televisiereeks Arrested Development en te sien was as die jong man wat nie heeltemal gereed is om ’n kind aan te neem in Juno nie, is baie goed en lyk heelwat beter as hoe hy deurgaans beskryf word. Reynolds, daarenteen, moet eerder sy toneelspel gaan oefen, want hy is nie veel beter as sy eie karakter nie en is definitief nie so aantreklik soos hy dink nie.

Die film is amateuragtig en die “Change” in die titel kon eerder, ja, verander word, na die een kragwoord wat oral in die film opduik.