Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Die wyd-geprese Incendies wél die moeite werd


André Crous - 2011-10-11

Incendies
Regisseur:
Denis Villeneuve
Kamerawerk: André Turpin
Rolverdeling: Lubna Azabel, Mélissa Désormeaux-Poulin, Maxim Gaudette, Rémy Girard
Looptyd: 130 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 19 Augustus 2011

 

Die kas van die geskiedenis bevat soms vreeslike geraamtes, en hierdie geraamtes hou aan ratel totdat die deure oopgegooi word en hulle in die sonlig behoorlik gadegeslaan word. Die verhouding tussen die verlede en die hede word in Denis Villeneuve se wyd-geprese Incendies duidelik gemaak deur gedurig te sny tussen tonele in hierdie twee tydgleuwe, hoewel ons dikwels die enigste party is wat albei kante van die saak ken.

Incendies is ’n Franse woord wat verwys na groot brande, en die beeld wat dit oproep, is totale verwoesting. Die film het sy deel koue geweld – dit speel immers grotendeels af tydens die burgeroorlog in Libanon in die 1970’s en 1980’s – maar dit is veral die laaste halfuur wat die kyker sal bybly. Die film stuur af op ’n ontknoping wat jou maag sal laat knoop en die lewens van die hoofkarakters genadeloos sal verander, met insigte omtrent hul verlede en hul hede wat nie maklik is om te sluk nie.

Die verhaal begin in ’n kantoor in Montreal, Kanada, waar die testament van die afgestorwe Nawal Marwan aan haar seun en dogter voorgelees word. Dit is heel eenvoudig: al haar aardse besittings word tussen hulle verdeel, maar sy wil kaal en met haar gesig na die grond toe begrawe word, en vra dat daar nie ’n steen op haar graf geplaas word nie – tensy haar kinders hul broer en hul pa kan opspoor en briewe aan hom oorhandig, iets wat sy nie gedurende haar lewe kon doen nie. Daar is sprake van ’n belofte wat hulle namens haar moet hou, en ons vind gou uit wat hierdie belofte is: haar eerste kind, wat buite-egtelik gebore is, het sy belowe om op te spoor wanneer sy die middele sou hê. Sy hakskeen is met drie kolletjies gemerk.

Dis ’n skok vir die kinders, wat bitter min van hul verlede weet, maar hulle probeer hul bes om hul ma se opdrag uit te voer. Hierdie opdrag vereis dat hulle haar verlede oopkrap en terugreis na haar geboorteland, Libanon. Dit is haar dogter, Jeanne, wat besluit om die probleem van die verlede – en spesifiek, die onbekende pa en broer – op te los, aangesien sy immers ’n wiskundige is wat daagliks die onbekende baasraak.

Die soektog vorder met rukke en stote en Jeanne het eintlik net teëspoed. Benewens die tonele uit die verlede, waarin Jeanne se ma Nawal, wat fisies baie aan haar dogter herinner, werklik haar staal wys as iemand wat nie onderskat mag word nie, is die grootste deel van die film ’n relatief hopelose soektog na twee mense wat skimme is. Uiteindelik, in die film se laaste bedryf, met die aankoms van die prokureur (notaris, soos hy bekend staan) en Jeanne se broer Simon, tel dinge spoed op en word die karakters met die feite geslaan – en hier werk die film goed, want ons weet reeds meer as hulle, maar met ander feite word die betekenis van dit wat ons gesien het, nou eers duidelik gemaak, en op werklik asemrowende wyse aanmekaar gevleg en uitgepluis.

Die film se onthulling aan die einde maak die reis die moeite werd, maar dit ontneem nie die film van sy foute nie; ek was veral gefrustreerd deur die film se aandrang op tonele uit die verlede wat telkens beëindig word net mooi wanneer dit ’n dramatiese hoogtepunt bereik en ons nooit werklik die gebeure kan voel vloei nie. Natuurlik het die regisseur die reg om dinge so, op ’n effens gefragmenteerde wyse, aan te bied, maar Nawal se karakter voel meer onafgerond as wat ek sou wou gehad het.

Die film is ook deurspek met ’n stuk of tien rooi opskrifte waarvan die tersaaklikheid  nie altyd duidelik is nie. Dikwels word hierdie teks gebruik om te terg, eerder as om antwoorde te gee of konteks te gee aan die gebeure, en dit is onnodig. Ek was ook verbaas om so te sukkel om die film te plaas in tyd en plek. Uit persmateriaal en historiese kennis weet ek dat die film grotendeels in Libanon afspeel (ook die gebruik van Frans maak dit duidelik), maar die film self bied geen duidelike tekens hiervan nie en noem nie eens pertinent die land nie.

Regisseur Villeneuve het ’n baie goeie oog vir visuele aanbieding, soos reeds duidelik was in sy kortfilm The Next Floor, wat ek gelukkig genoeg was om in 2010 by die Cape Winelands Film Festival te sien en wat een van my gunstelinge was. Kyk na die visuele aanbieding van Simon se ontmoeting met die krygsman Chamseddine, en hoe Villeneuve ons vanuit ’n eksterne posisie presies Simon, wat geblinddoek is, se perspektief laat deel.

Die film is ’n koue blik op oorlog, en veral die godsdienstige komponent daarvan, nes die geval was met Libanon se burgeroorlog, en dit duur vandag voort, maar in die vorm van Jeanne het die film ’n menslike hart wat klop en ons warm hou.

Die film sal jou lank bybly, en hoewel dit eers naby die einde werklik op dreef kom, is dit ’n merkwaardige reis wat ons saam met die karakters meemaak sodat hulle die deure van daardie kas kan oopgooi en die geraamtes wat deel van hulle is, uiteindelik die lig kan laat sien.