Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Die verste uur: ’n Roman vol interessante, dog onderontwikkelde idees


Henry Cloete - 2011-10-11

Die Verste Uur
Steve Hofmeyr
Uitgewer: Zebra Press
ISBN: 9781770221642
Prys: R150.95

 

Klik hier en koop Die verste uur nou van Kalahari.net!

 

’n Besige straatkafee in Vredehoek is dalk ’n kakkerige, of dalk juis ’n skitterende, plek om ’n ietwat intense boekbespreking te hou, maar Tank en Trog, ongeskool in die fynere van gedragsriglyne, kon dit onmoontlik nie weet nie. Ligte jazzmusiek speel in die agtergrond en tientalle jongerige mense klets luid en pretensieus terwyl die sanger en skrywer Steve Hofmeyr se jongste boek, Die Verste Uur, deur Tank en Trog bespreek word. Albei het reeds primitiewe houtwapens teen die tafeltjie geslaan om, soos die oergewoonte dikteer, die behoefte aan peer-smoothies oor te dra.

Hofmeyr se boek handel losweg oor ’n jong student, Jamie, wat gehuur word om ’n verdwene professor se studeerlokaal skoon te maak. Daar kom hy af op geskrifte van die professor aan sy vrou waarin die professor aan sy vrou verduidelik dat hy ’n vorm van tydreis ontdek het, gevind in die “donker akkoord” van ’n werk van Jean-Philippe Rameu wat hy graag op sy grammofoon speel. Die student, met uiters oppervlakkige verhoudings met sy ouers en vriende, en met seksuele obsessies, besef dat hy ook die tydreis-konsep kan betree en bevind hom in die liggaam van sy oupagrootjie, ’n bode in die Anglo-Boereoorlog. In sy oupagrootjie se liggaam versuim hy om ’n boodskap van oorgawe aan die Boere se kant oor te dra. Die Boere wen dan die oorlog en Pretoria is, terug in die hede vir Jamie, skielik die fetisjistiese Afrikaner-droom - Afrikaanse name oral, selfbeskikking, selfs die afwesigheid van die term Afrikaner, met die gemoedelike inwoners wat eerder na hulself as “Boere” verwys. 

Die narratief wissel van geskiedkundige skrywes oor Rameu, die brief van die professor aan sy vrou (in liefkosende taal) en die eerstepersoonsperspektief van Jamie self. Die roman strek net langer as ’n honderd bladsye en die ontknopingspunt, hoewel interessant, mag nie hier verklap word nie.

Tank: Ek dink dis net ’n nice idee.

Trog: En daai donker akkoord-ding … dink jy Rameu het enigsins so ’n intensie gehad? 

Tank: Ek dink nie so nie … maar daai was hoogbloei-seisoen vir die musiek-en-wetenskap-renaissance, wat hy so half ge-pioneer het. Dis ’n eeue oue idee wat hy hervat het. Vir Aristoteles en daai ouens was daar nie ’n verskil tussen wetenskaplike wees en musikant wees nie.

Trog: (verloor aandag) ... Uh-huh ...

Tank: Maar dis interessant dat hy die narratief in daai tyd geplaas het, want dit is die regte tyd om dit in te plaas … Alles maak sin, maar daardie idee van die donker akkoord bestaan nie. Dis net ’n nice idee.

Trog: Ja, maar dit pla my dat daar geen “disclaimer” of iets is oor die geskiedenis-stukkies nie. 

(’n Kelnerin bring twee enorme glase vol groenerige sap na hul tafel.)

Tank: Gesondheid. Maar ook, gesondheid.

Trog: A! Ek vang dit!

Tank: A!

Trog: Ek gaan ophou rook.

Tank: (skepties) ... A …

Trog: Verstaan, daar word geen onderskeid getref tussen geskiedenis, ge-source uit die en daai, en wanneer die geskiedenis gemanipuleer word nie.

Tank: Dit is eintlik kreatiewe geskiedenis-opskrywing … dit kon soort van gebeur het, en daar was daardie soort gesprekke van teenstryd tussen Rameu en Voltaire, maar dit word nou opgeskryf in tien bladsye … Jy kan amper so praat van Nelson Mandela en FW de Klerk en basies net sê, was hulle nou in dieselfde stryd, of was hulle teen mekaar?

(’n Moontlik interessante, maar meestal inkoherente gesprek – weens die alewige ge-uggu-uggu van Tank en Trog soos hul hongerder raak – oor die uitstekende toneelstuk genaamd Maskermaan, waarin ’n denkbeeldige Eugène Marais en ’n denkbeeldige C Louis Leipoldt mekaar ontmoet, ontstaan as voorbeeld van kreatiewe geskiedskrywing.)

Trog: Anyway, wat het jy gedink van die storie? Die hele Boere-ding … ek het verskriklik gesukkel om die idee wat ek het van Steve te distansieer van die lees van die boek.

Tank: Jy kan nie.

(Groot borde met klein hopies spek en goeters word op die tafel neergesit.)

Trog: Wat’s hierdie? Rocket?

Tank: Dis gras.

Trog: A!

Tank: Soos jy vind in die agterstrate van gegoede buurte in Stellenbosch.

Trog: A.

Tank: Storiegewys … ek dink dis ’n baie vars idee wat tagtig persent geslaag het. Sewentig persent.

Trog: Wat is die dertig persent wat nie geslaag het nie?

Tank: Daai feit dat … ek kry die gevoel, he doesn’t do this every day. Daar’s dinge wat baie belangrik is wat afgerammel word in ’n bladsy.

Trog: Soos?

Tank: Soos … om daarby uit te kom, daar’s soveel fokus op … hy gaan soek in die professor se huis na hierdie boeke en plate en goed en dis vir my nice. Maar die gedeelte van die Boereoorlog is so ’n bladsytjie waar hy met die perd deur die water swem. En dan’s daar die deel, wat nice is, waar hy terugkeer na ’n volkstaat, maar dis bietjie amateurish, daai ding van die Delarey-ding [’n gewilde motor in die denkbeeldige Afrikaner-hemel].

Tank: Ja, dit het my ontsettend irriteer.

Trog: Maar die idee is weer eens, dis ’n cool idee … Stel dit so, as ek dit nou so kan vergelyk: die strukture is goed, die fondasie is gelê, maar ... horrible job met interior decorating. Dit lyk soos ’n plakkerskamp binne.

Tank: Ek hoor wat jy sê. Wat my ook gepla het, is dat die karakters swak gedefinieer is. Daar’s baie onrealistiese dinge … hoe sy pa met hom praat, hoe hy terugkom in daai volkstaat-droomwêreld waar die eerste meisie met wie hy praat, is sy soos, “Wat is ’n Afrikaner?” Dan maak hy net ’n terloopse opmerking en dan trek sy los in hierdie lang opsomming van die Boeregeskiedenis … Dis baie onnatuurlik.

Trog: Baie onnatuurlik!

Tank: Baie onnatuurlik. 

Trog: Uuurgh rharharha ga uggu.

Tank: Wat my ook gepla het, is die “nuwe” feite van die Afrikaner se geskiedenis.  Dis die subnotas in die laaste deel van die boek.

Trog: Ek het ’n nota gemaak iewers … Jy weet daai briewe wat die ou skryf vir sy vrou?

Tank: O, “my hoender”.

Trog: Ja, maar merendeels, hy’s so haastig om iets te sê, hy sê die heeltyd: “My hoendertjie, ek moet vir jou iets dringend sê.” Vir iemand wat so dringend iets moet sê, gaan hy vir fokken ewig en ewig aan op dieselfde trant van “Moet my nou nie misverstaan nie, engeltjie, ek mis so jou koffie …”

Tank: “En jou beskuitjies …”

Trog: “Maar ek moet iets baie dringends vir jou sê”, en dan die volgende deel, “My hoender, jy gaan dalk nou nie verstaan nie …”, en dan oor en oor en fokken oor, pleks van om net te sê wat hy wil sê.

Tank: Hmmm.

(Rocket-bloed en -beentjies spat oral soos die maal voortduur.)

Tank: Maar ek het gelike ... daai deel waar hy skielik agter ’n ou motor sit [tydens ’n tydreis]. Dit was vir my half geloofwaardig.

Trog: Behalwe nou die time-travel ding … Ek het dit interessant gevind dat daar so gepraat word oor Afrikaans wat kwyn en Afrikaans wat nie meer goed gepraat word nie, en tussenin word sulke woorde soos “ridiculous” gegooi om dit te bewys … Maar die studente noem hulle professor Langoog … In watter heelal waar mense nie meer Afrikaans praat nie, sal hulle ’n bynaam soos professor Langoog opmaak?

Tank: Ja … As ek ’n resensie moes skryf, sou ek sê in die geheel is die idee … Maar weet jy wat het my die meeste geïrriteer? Wat Ian McEwan sê … Nee wag, wie’t dit gesê? Nee, Michael Connelly het gesê: “Never show off with your research.” Dis, soos, rule number one. En daai dinge wat hy sê van die nuwe karre wat hulle nou ry deur die volkstaat is die Delareyding en die Fleur. Fleur ... dis mos dinges se perd gewees.

Trog: Ja, dis stupid.

Tank: Fucking … man! Aaah! No! Dit het my laat dink aan ’n stuk in Fees van die Ongenooides ook – daar’s twee bladsye waar hy homself so hard probeer inskryf het in hierdie twee bladsye … dit ruin die hele ding – dis soos as jy ’n fliek kyk en iemand neem die skaduwee af van die mikrofoon wat vasgehou is om die klank op te neem.

Trog: Hmm … en ... strip die nuanses en klein goedjies weg en dan kom dit basies neer op: as die boere die oorlog gewen het, sou ons nou in ’n Afrikaner-utopie gewoon het.

Tank: Dis die probleem, en ook, mense sal hierdie boek lees en dink, jis, hierdie ou is darem ’n toekomssiener.

Trog: Waarlik die stem van die Afrikaner, ja.

Tank: Ja … wel, die eerste ding wat ek agtergekom het, was: he doesn’t do this every day.

Tank: Wat het jy gedink van …?

Kelner: How was the juice?

Trog: Peer!

Tank: Ja, wat het ek gedink van die ...?

Trog: Die hele basiese beginsel van …

(Die kelner plak die rekening op die tafel neer.)

Trog: Ek sal dit kry.

Tank: Nee, man.

Trog: Dis cool, jy’t nou die aand vir my shots gekoop.

Tank: Het ek?

Trog: Ek dink so.

Tank: O ja. A!

Trog: A!

Tank: OK, ek skuld jou ’n bier. Onthou dit.

Trog: OK.

Tank: Wat wou jy sê?

Trog: O ja. Wat het jy gedink van daai magiese element van tussenakkoord-progressies?

Tank: O ja. Ek dink dis nice, ek het dit geglo. Dit het nie vir my forced gevoel nie. Ek het gevoel, hei, dis cool. Ek het nog nooit in my lewe dit teëgekom nie, so dis nie ’n algemene begrip dat die moontlikheid bestaan dat dit kan gebeur nie. Wat het jy gedink, het jy gedink dis forced?

Trog: Nee, ek het ook gedink dit voel nogal natuurlik. Dit het amper vir my gevoel … die mins “vatbare” ding in die boek was die mees natuurlike element in die storie.

Tank: Ja! Dit gaan letterlik oor hoe jy dit stel.

Trog: Ja, daar is baie vatbare en realistiese elemente daarin.

Tank: Dat jy dit nie in mense se keelgate probeer afforseer op ’n manier van: “En toe, nè, toe time-travel hy, nè ...”

Die kommunale eetseremonie is verby en daar word in onderskeie rigtings gespat om bessies te pluk en met seekoeie te stoei. 

In sy Volkswagen Chico dink Trog egter: Dit is eintlik ’n cool storie, met interessante idees wat jou, indien absoluut niks anders nie, ’n oomblik sal laat nadink oor die toepaslikheid van chaos-teorie in persoonlike en interpersoonlike bestaan, asook (bedenklike vorme van) nalatenskap. Hoewel verskeie punte bloot onverken gelaat word, lees die verhaal maklik, soos ’n akute, vlietende wat-as-gedagtegang wat in ’n mate relevant en in ’n mate irrelevant, maar tog baie vermaaklik is, veral met die spanningslyne in ag genome. 

Trog laat pomp sy CD-speler en die band The Morning Benders bars los in ’n chorus van "Here I am in the graveyard, waiting for a waaaaar ..."

Hmm, dink Trog. 

Tot die volgende liedjie begin.