Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Hondsdol: Iets Suid-Afrikaans vir jou boekrak


Gerhard Uys - 2011-10-11

Hondsdol
Michael Green
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799349580
Prys: R126.95



Klik hier en koop Hondsdol nou van Kalahari.net!

 

Joernalis Ben Klopper het sy werk verloor. Dit maak hom effe terneergedruk, maar benewens dit is die lewe op Port Elizabeth rustig.

Hy is lief vir sy familie en hoewel hy en vrou Gracie kort-kort vassit, lyk dit of hulle deur hulle probleme sal kan werk.

Seun Henry dink pa Ben is die “coolste” pa ooit. Sy pa leer hom allerhande gevegskunstruuks en die laaitie het ’n held in sy pa gevind.

Benewens ’n krapperigheid hier en daar loop als eintlik klopdisselboom vir die Klopper-familie.

Die vorige sou die verhaal van Ben Klopper en sy gesin gewees het. Kort, gewoon en heel oninteressant.

Maar in Michael Green se Hondsdol het elke gewone kabel een moerse kinkel.

Die kabel kry sy eerste klein knak met Gracie wat besluit sy wil vir ’n naweek van Ben af wegkom. Sy moet haar kop skoon kry oor hulle huwelik.

Voor sy en Henry pad vat na haar suster se plek in Jeffreysbaai, maan sy vir Ben om vriendelik te wees met tant Lien, ’n ou tante wat oorkant die straat bly.

Dan, kinkel twee. Terwyl Gracie in Jeffreysbaai is, soek tant Lien Ben se hulp. Sy het huurders wat haar grys hare gee en Ben moet help om hulle, ’n Nigeriër en sy prostituutmeisie, met dwelms te betrap sodat sy die polisie kan bel en so haar probleem oplos.

Kinkel drie: Ben stem in en hulle word deur die Nigeriërs betrap. Nie net dit nie, tant Lien het ’n sakvol geld in die huis gekry en dit weggesteek. Nie eers die hardste vuishou van die Nigeriër gaan haar laat vertel waar dit is nie.

So leer die leser vinnig dat dit soms een ou tannie se hardkoppigheid vat om ’n klomp mense se lewens op te neuk. Want as jy ’n hardkoppige ou tante, ’n gewone Port Elizabeth-familie, Nigeriërs, ’n prostituut, ’n oudrecce wie soms in townships ingaan en mense doodmaak om te kyk of hy nog kan, perlemoendiewe en ’n gay dwelmhandelaar in een pot gooi, dan gaan iets kook.

En dié verhaal kook. Bloed, moord, vuisgevegte, skote wat links en regs klap, angs en karakters wat op enigiemand sal trap om hul sin te kry flits verby soos grepe uit een lang nagmerrie. Aksie en nog aksie. Die verhaal loop oor daarvan.

Van die karakters is amper histeries gewelddadig en van die oomblikke uit Green se pen laat die bloed so spat dat dit fassinerend en ongeloofwaardig voorkom.

Op die agterblad word Green se werk met Quintin Tarantino s’n vergelyk, maar die geweld is so aanhoudend dat dit eerder, of ook, met iets soos die Koreaanse films The Chaser van Na Hong-Jin of Oldboy van Park Chan-W vergelyk moet word.

Tom Dreyer se Erdvarkfontein krap ook êrens in mens se agterkop rond wanneer jy deur die blaaie van Hondsdol werk.

Hondsdol is bondig geskryf, nes ’n Beeld-artikel, en dit laat al die aksie teen ’n stinkspoed gebeur. So ’n stinkspoed dat al die skoppe en skote jou eintlik uitput.

Met Green se skryfstyl wat so blitsvinnig is, is Hondsdol die tipe boek wat mens in ’n aand of twee kan kafdraf.

Green kry dit ook uitstekend reg om die verhaal van Ben en tant Lien wat deur die Nigeriërs betrap word, en van Gracie en Henry, wat by haar suster kuier, stadig bymekaar te bring.

Dit voel pal of mens tussen twee kanale op die televisie rondspring en dan geleidelik agterkom dat die twee stories nader en nader aan mekaar beweeg.

Die eerste verhaal is een van angs. Die ander een ’n storie van twee susters wat oor gesinne se uitmekaarval of bymekaarbly praat. En dan kom die twee verhale bymekaar en word een van desperaatheid en bloed waar ’n onskuldige familie net aan die lewe probeer bly.

Vir so ’n stoomtreinspoedboek is die karakterontwikkeling van die hoof-rolspelers goed en mens kry ’n fyn gevoel van hoe hulle dink en van nuanses in hul karakters.

Soms wens mens jy kan van die growwe karakters net vir ’n minuut of twee eenkant toe trek en vir hulle vertel hoe sinneloos hulle gewelddadige leefstyle is. Hulle tot inkeer probeer bring. Maar dit sou sinneloos wees. Nie een van die sinistere karakters in die verhaal gee om vir hul medemens nie. Die woord “vergifnis” bestaan nie in hul woordeskat nie.

Kritiek?

Die titel Hondsdol pas nie. Iets wat hondsdol is, kan nie sy aksies beheer nie en saai onwillekeurig verwoesting. Maar die karakters in Hondsdol maak oor en oor die keuse om koelbloedig op te tree.

Die omslagontwerp lyk ook onprofessioneel. Eintlik is dit die foto wat alles opfoeter. Dit lyk of dit met iemand se mik-en-druk afgeneem is en as nagedagte by die res van die omslag geplak is.

Dan is daar die geluide wat Ben en Henry maak as hulle mense wil ontstel of net voor hulle veg. Mens kan nie uitrafel of dit met verwysing is na Bruce Lee se mauw-geluide wat hy voor ’n geveg gemaak het nie, en of Green net swak Tarantino-agtig wou wees en iets in die verhaal plak wat as eienaardig beskou sou word nie. Wat die rede ook al mag wees, dit het nie geslaag nie.

Die slotsom in die laaste hoofstuk voel ook effe oortollig en doelloos. Soos Elijah Wood in Greenstreet Hooligans wat na sy tuisdorp terugkeer en ’n patetiese konfrontasie met een van sy ou vyande het net om homself te bewys.

Benewens dié paar punte kritiek is Hondsdol iets vir jou boekrak.

Wat dit ook laat uitstaan is dat hoewel dit beelde van Tarantino-films, 1980’s-fliekgeweld en iets soos Chaser of Olboy oproep, dit steeds eg Suid-Afrikaans is. Die plaashuise, die strate, die karakters, dialoog en selfs die Nigeriërs val binne ons konteks en dit is dié egtheid wat Hondsdol die ekstra regmerk op my boeklys gee.