Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Reis na binne: ’n Gids oor lewensbalans in die middeljare


Elize Parker - 2011-10-11

Reis na binne: Van ontnugtering tot sielvolheid
Truida Heymann
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799349351
Prys: R168.95



Klik hier en koop Reis na binne nou van Kalahari.net!

 

Het jy al gewonder hoekom lewensbalans jou ontwyk so skuins na veertig?


Of oor die swaar gevoel van lewensmelankolie of ’n ongedurige moegheid wat jou oorval op die mees ongewone tye?

En wat jy ook al doen, help nie veel om die balans te herstel nie?

Dit is die onderwerp van hierdie ryk en boeiende boek uit die pen van ’n deernisvolle berader van Kaapstad: hoe om van emosionele uitbranding weg te kom en weer ’n vol en betekenisvolle lewe te lei.

Dit is ’n boek wat oor die middeljare gaan, maar is vir enigiemand bo 35. Beslis ook vir enigiemand wat swaar dra aan emosionele wonde, wat te veel emosionele doodloopstrate het.

Ook vir diegene bo 40 wat net nie meer vorentoe kan gaan nie en in ’n roetine vasgeval is. Alles is dalk in plek volgens wêreldnorme om gelukkig te wees: huwelik, beroep, finansies en verhoudings, maar ’n voortdurende, verontrustende angs laat jou dwalend.

Of soos Heymann dit stel: “In die middeljare is daar konflik tussen die noodsaaklikheid van verandering en die dapperheid wat daarvoor nodig is aan die een kant en die vrees vir die onbekende aan die ander kant.”

Heymann gaan kyk hoe mense hulself laat vasdraai deur verantwoordelikhede, toewyding, pligte en rolle.

Sy gee aan die hand van vier gevallestudies (Gys, Adri, Tara en Ina) ’n sleutel aan lesers oor hoe om met deeglike selfondersoek sin en betekenis jou eie wysheid vir jou lewe vorentoe te vind.

Sy staan ook hoofstukke af oor tipiese vrae in die middeljare, soos of jy dalk voel jy het iemand anders se lewe geleef.

Sy gee ’n deeglike uitleg van hoe drome in die middeljare werk en hoe om dit as gidse in die helingsproses te gebruik.

Uiteindelik gaan die gids ook oor die dinge wat jou na NP Van Wyk Louw se “stil kuil tussen die riete” dwing. Daar waar jy na binne wil keer om alles in jou name te gee en dit rustig te beskou. Dit kan iets wees soos die gevallestudies se probleme: ’n loopbaan wat jou lewe oorneem of ’n onverstaanbare depressie, selfs onverwerkte emosies oor ’n misdaadaanval.

Uiteindelik wys Heymann hoe opgehoopte pyn en emosies wat soos tydbomme in jou psige lê, juis jou inleiding tot jou redding kan word. Haar uitgangspunt is dat die psige heel wil wees en dis juis hierdie verskuilde dwingendheid, en die stukrag van die siel, wat jou gaan bevry, mits jy verby jou vrese kan kom.

Opvallend van die gids is dat Heymann nie in pseudosielkunde verval en ’n Oprah-oomblik iewers beleef waar oppervlakkige oplossings as die finale antwoord aangebied word nie. Inteendeel: Heymann stap voor en gee leiding, maar die harde werk bly jou eie. Sy is nie ’n voorstander van foefies en kitsdoepas nie. Eerder soos ’n rustige metgesel, nugter en aards met haar hand ferm in jou onsekere hand.

Die gids het ’n sterk klem op hoe om drome te onthou en te benut sowel as ’n gids tot algemene droomsimbole en ’n kortbegrip van Jung.

In haar vorige twee boeke waarin sy wysheid bied vir diegene wat emosionele wonde wil heel, Pad na heelheid, ontdek jou innerlike krag en Die Ring, van konflik na vrede, het sy veel meer sprokies, mites en legendes ingeweef. In hierdie boek is die styl meer persoonlik en kry jy ’n blik op hoe die skrywer self ook in sekere situasies vrede en veral die krag gevind het om vorentoe te kan gaan. Ek sien uit na nog so 'n soortgelyke, ietwat meer biografiese, boek. Dit is veral haar eie ervarings wat onderhoudend, en veral ondersteunend, kan wees vir diegene wat die boek as selfhelpgids gaan gebruik.

Heymann se styl is veel gemakliker in dié gids as in die ander, minder toeganklike titels. Sy behoort nog boeke in Afrikaans oor spiritualiteit te skryf. Haar insig en leiding kan vir vele ’n kompas na ’n lewe vol hoop en harmonie wees.

Op 51 is dit vir my ’n bevrydende boek wat met die lees daarvan my fokus verander het om meer balans in my lewe te vind en helderheid te kry oor die donker hoekies van my hart.

Ek beveel dit aan vir almal wat in gewone Afrikaans meer insig wil verkry in hoe om jou innerlike krag in te span om rigting vorentoe te vind.