Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Die droom van die armes


Jason Lloyd - 2011-10-11

Untitled Document

Twee beelde van (chroniese) armoede het my weer eens gekonfronteer – iets wat miskien met ons almal behoort te gebeur – met dié vraag: Wat gaan van hierdie land word as die droom van ons armes sterf?

Twee maande gelede het die tragiese verhaal van oom Dan (59) by my kom spook. By die huis op Uitenhage het hy te voorskyn gekom. Geklee in ’n stukkende verkeersbeampte-baadjie, ’n verbleikte swart Telkom-T-hemp en ’n (vuil) kakie kortbroek. Hy was kaalvoet, en toe ek hom kos gee, het hy sy stukkende kappie afgehaal. “Ek loop nou vir drie maande kaalvoet. Die vrou is ook werkloos en my drie kinders weet hoe dit voel om sonder kos te gaan slaap; op die vloer.” Die buurvrou sou later opmerk dat oom Dan en sy gesin “bosslapers” is.

Drie weke gelede het ek my op Bredasdorp in die Wes-Kaap bevind. Die geleentheid: die herdenking van die lewe van die ontslape Afrikaanse digter Vernie Plaatjies. By dié byeenkoms het ’n groep “swart” Afrikaanse skrywers, sy familie en vriende saamgetrek om die “unsung” digter-hero se lewe te “celebrate”. Na die verrigtinge stap ek en ’n vriend by ’n restaurantop dié dorp in. ’n Reuk van vis wat in die atmosfeer hang, het ons begroet. Neffens die toonbank sit ’n mooi meisie op ’n rusbank. Sy het ’n verbleikte denimbroek aan. ’n Groot rooi trui hang los oor haar lyf. Ek gaan sit langs haar. Sy buk vooroor en raak met ’n Lotto-kaartjie aan die punte van haar swart skoene. “Ek sien julle ry in ’n CY-bussie. Wie is julle, en van waar is julle?” Ek sê ons is ’n groep skrywers van Kaapstad. “Ek was nog nooit in die Kaap nie, want ek het nog nooit gewerk nie. En by the way, wat ’n tipe ding is ’n skrywer. Nog nooit van so iets gehoor nie.” Toe sy orent kom, sien ek sy is swanger. Sy lyk nie ouer as 20 nie. “Is dit jou eersteling?” Sy kyk eers rond en sê: “Dit is my tweede kind. Die eerste kind is nou sewe.” Ek vra waar die pa’s is: “Albei is weg. Ek weet nie waar hulle is nie.” Ek stop ’n R20 in haar hand vir ’n Lotto-kaartjie.

Die Sondag op die Kaapstadse lughawe lees ek in die boek South Africa at 10 ’n essay van die Stellenbosse filosoof Willie Esterhuyse. Hy skryf: die verligting van armoede “is (...) critical to the recovery of the soul of the South African nation”. Hierin lê opgesluit Esterhuyse se “etiek van omgee” – soos Lizette Rabe, joernalis en akademikus, onlangs in ’n onderhoud na hom verwys het. “Sy klem op hoop as metafoor vir genade, omgee, geregtigheid.”

Inderdaad, ons moet bly omgee vir diegene wat koue koffie uit goedkoop wynbottels drink en brood eet waarop niks gesmeer is nie. Dié omgee sal armes se droom oor ’n beter lewe nooit blus nie.