Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

As die stroom jou vat bied 'n mate van troos oor die raaisels van selfmoord


Stephanie Nieuwoudt - 2011-10-11

As die stroom jou vat: Die raaisel van selfmoord
Jeanne Els
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624049708
Prys: R148.95

Klik hier en koop As die stroom jou vat nou van Kalahari.net!



In ’n wêreld waar die een taboe na die ander na die lig gebring en ondersoek word, is daar steeds ’n effense stilte voordat iemand wie se ouers of ander familielid selfmoord gepleeg het, dié bekentenis maak.

En dikwels weet die mense wat die woorde aanhoor, ook nie wat om te sê nie. Dalk het dit iets te make met die eeue oue breinspoeling dat selfmoord sonde is. Dat enigiemand wat selfmoord pleeg, nie in die hemel gaan beland nie. Daar is ook steeds allerlei vrae oor hoe moreel dit dan is om selfmoord te pleeg. Om te ontsnap aan die negatiewe konnotasies van die woord selfmoord word die woord selfdoding toenemend gebruik om die daad te beskryf.

Hoe dit ook al sy, Jeanne Els skryf in as die stroom jou vat uitgebreid oor haar eie pogings om haar lewe te beëindig. Haar gedagtes het selfs uitgekring na uitgebreide selfmoord – sy het daaraan gedink om haar kinders en haar man ook te laat sterf, sodat hulle nie hoef saam te leef met die stigma van ’n vrou en ma wat haar hand aan eie lewe geslaan het nie.

Els kon haar probleem herken en het hulp gekry – psigiatrie en medikasie. Sy skryf onderhoudend oor haar pad met haar selfdodingsgedagtes en hoe sy daarin geslaag het om uiteindelik met haar lewe aan te gaan – anders as haar materieel suksesvolle pa wat op ’n dag nie meer kon aangaan nie en homself om die lewe gebring het.

Dis in die vertellings oor haar ouers waar die leser die rede vir Els se eie depressie raakloop. In haar geval is dit “oorerflik”. Sy skryf ook oor ’n aantal bekendes (soos die sanger Steve Hofmeyr) en minder bekendes wat op een of ander stadium selfdoding oorweeg het, of in hul poging geslaag het (soos Barrie Hough, ’n bekende skrywer wat wel sy eie lewe geneem het).

Maar dalk is dit juis die opnoem van bekendes wat problematies is. ’n Mens wonder of dit nie dalk in ’n mate selfdoding romantiseer nie. Daar is immers heldeverering vir talle bekendes wat selfdood gepleeg het. ’n Mens wonder byvoorbeeld in watter mate die selfmoord van Virginia Woolf en Ingrid Jonker bygedra het tot hul beeld as enigmatiese karakters. Selfmoord, of dan selfdoding, en die moraliteit daarvan, is iets wat filosowe besig hou sedert Plato eeue gelede al daaroor geskryf het.

Terwyl jy as die stroom jou vat lees, wonder jy deurentyd of die boek jare gelede troos sou gebring het toe ’n vriend selfmoord gepleeg het. Sou die vriend dalk anders gekies het as hy destyds die boek gelees het?

Die antwoord is: waarskynlik nie. Die boek kan niemand help om sy pyn te verwerk of van sy besluit te laat afsien nie. Uiteindelik is die boek net iets wat die mens met seldoodgedagtes, of diegene wat agtergebly het, laat besef derduisende mense het daagliks dieselfde worsteling.

En dalk is dit waar die waarde van so ’n boek lê: deur swart op wit moontlike verklarings te sien, kan ’n mens dalk tog in ’n mate troos kry. Al laat dit jou net weer besef dat nóg liefdevolle vriende, nóg familielede “verantwoordelik” gehou kan word vir iemand se selfdood.